1. Belastingseisoen
Dit is die tydgleuf waarbinne belastingbetalers hul opgawes moet indien. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se belastingseisoen vir individue begin gewoonlik op 1 Julie en sluit laat Oktober/vroeg November. Vanjaar is dit 24 Oktober, maar jy kan dit altyd op die SAID-webtuiste nagaan.
2. Wat is ’n belastingjaar?
Dit is die 12 maande waarvoor jaarlikse belasting gehef sal word. Vir ’n individu loop die belastingjaar altyd van 1 Maart tot 28/29 Februarie van die volgende jaar. Dit is dus anders as ’n kalenderjaar, wat altyd van Januarie tot Desember loop.
’n Belastingjaar word genoem na die jaar waarin dit eindig. Die 2022-belastingjaar was byvoorbeeld van 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022; en die 2023belastingjaar sal van 1 Maart 2022 tot 28 Februarie 2023 loop.
Maatskappye se belastingjaar sal oor enige 12-maande-tydperk strek. ’n Maatskappy se belastingjaar sal dieselfde as sy finansiële jaar wees.
3. Wat is inkomstebelastingdrempels?
Die hoeveelheid inkomstebelasting wat jy as individu betaal, word volgens jou inkomste en jou ouderdom in drempels verdeel. Die drempels word gewoonlik elke Februarie aangepas wanneer die minister van finansies die nasionale begroting aankondig.
Vir die 2023-belastingjaar (1 Maart 2022 – 28 Februarie 2023) is jy onderhewig aan inkomstebelasting as jy:
R91 250 verdien en jonger is as 65 jaar;
R141 250 verdien en ouer is as 65, maar jonger as 75;
R157 900 as jy 75 en ouer is.
4. Hoe werk belastingskale?
Die belastingbedrag/koers wat jy betaal, hang af van die belastingskaal waarin jou inkomste val. Die verskillende skale is op die SAID-webtuiste beskikbaar.
Voorbeelde vir die 2023-belastingjaar:
Mense wat R226 000 en minder verdien, se belastingskaal is 18%. As jy R226 000 verdien, sal jy dus R40 680 (18% van R226 000) as belasting opdok (sonder enige aftrekkings).
Mense met ’n belasbare inkomste tussen R226 001 en R353 100 se belastingskaal is R40 680, plus 26% op enige bedrag bo R226 000. Indien jou belasbare inkomste dus R230 000 is, betaal jy R40 680, plus R1 040 (oftewel 26% van R4 000).
5. Wat is die IRP5-sertifikaat?
Dis die belastingsertifikaat wat werkgewers aan hul werknemers gee. Dit wys hoeveel belasting die werkgewer reeds namens jou betaal het.
6. Wat is ’n ITR12-opgawe?
Dis jou inkomstebelastingopgawe wat jou inkomste en toelaatbare aftrekkings – wat jy deur die jaar van aanslag geëis het – uiteensit. Dit is jou verantwoordelikheid om dit in te dien.
7. Wat is voorlopige belasting?
Dit is inkomstebelasting vir mense wie se belasting nie maandeliks van hul salaris verhaal word nie (anders as jou gewone vastesalaristrekker).
Jy is byvoorbeeld ’n voorlopige belastingbetaler as: jy ’n inkomste anders as ’n vaste salaris verdien en jou werkgewer nie jou inkomstebelasting van jou vergoeding aftrek nie; of ’n salaris verdien, maar ook ander inkomste soos vergoeding uit ’n trust, direkteursfooie, huurinkomste of besigheidsinkomste kry; of as jy jou eie onderneming het.
Om te verhoed dat jy met een reusebelastingsom sit, doen jy twee verpligte betalings in die belastingjaar. Die bedrae word volgens ’n geskatte waarde van jou inkomste uitgewerk. Die eerste betaling is die helfte van die geskatte waarde van jou jaarbelasting; die tweede betaling is die res. Jy kan ook kies om ’n derde betaling te doen.
Die SAID betaal oorskattings en -betalings met rente terug. Maar betaal jy te min, kan jy beboet word. Oorweeg die dienste van ’n belastingpraktisyn.
8. Hoe werk slytasie?
As jy ’n tuiskantoor het, kan jy slytasie aftrek vir bates soos ’n skootrekenaar of ’n drukker. Sodoende betaal jy minder belasting, maar die idee is dat jy die afslag gebruik om mettertyd die toerusting te vervang. Verskillende soorte bates het verskillende afskrywingstydperke.
’n Webtuiste soos TaxTim het ’n oulike Wear & Tear-rekenaar wat jou help om dit te bereken. Onthou, die SAID kan bewyse oor aankoopdatums aanvra om seker te maak die aftrekking is geregverdig.
9. Wanneer is jy skuldig aan belastingontduiking?
Wanneer jy oneerlik is in ’n poging om minder belasting te betaal. Voorbeelde is wanneer jy nie al jou inkomste verklaar nie of valslik uitgawes aftrek.
Wenk: As jou belastingpersoon fouteer, gaan jý opgeskroef word. Gebruik ’n praktisyn wat by die SAID geregistreer is en ’n goeie werkrekord het.
- Instituut vir Finansiële Beplanners: https://fpi.co.za
- https://smartaboutmoney.co.za
- www.fscamymoney.co.za