book-icon Uitgawe 20 Augustus 2020

Verval skuld? HG beantwoord 6 vrae oor ou skuld

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Einde verlede jaar was meer as 10 miljoen Suid-Afrikaners agterstallig met hul skuldbetalings, wys die kredietburomonitor van Desember 2019.

In sommige gevalle was die agterstallige skuld horingoud en is die skuldenaars nooit gekontak nie.

Sulke “ou” skuld kan verjaar (oftewel verval). Dan is jy nie meer wetlik aanspreeklik daarvoor nie.

Die meeste persoonlike skuld waarvoor jy ’n siviele dagvaarding kan kry, sal ná drie jaar verjaar. Maar daar is ook skuld wat eers ná drie dekades sal verjaar. 

Let wel, verjaring is nie ’n verskoning vir jou om jou skuldverpligtings te ontduik nie. Jy kan jou lelik vasloop.

1. Watter soort skuld verval ná drie jaar?

Gewoonlik die meeste skuld waarvoor jy ’n siviele dagvaarding kan kry as jy nie betaal nie.

Voorbeelde hiervan is gimnasiumlidmaatskaprekenings, winkelrekenings, kredietkaartrekenings, persoonlike lenings, selfoonrekenings en motorlenings.

2. Watter skuld sal eers ná 30 jaar verjaar?

As jy deur ’n hofbevel gelas is om skuld te betaal, kan daardie hofbevel 30 jaar later steeds afgedwing word.

Ander voorbeelde van skuld wat jou 30 jaar lank kan agtervolg, is televisielisensies, munisipale rekenings, huislenings en geld verskuldig aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

3. Wat is vertraagde verjaring?

Dit beteken die verjaring van die skuld word uitgestel en het meestal met boedelsake te doen:

  • Wanneer dit deel is van ’n eis ingestel teen die boedel van ’n oorlede skuldenaar, teen die skuldenaar se insolvente boedel of teen ’n maatskappy onder likwidasie.
  • As die skuldeiser of skuldenaar oorlede is en die eksekuteur van die boedel nog nie aangewys is nie; of as die skuldenaar minderjarig of in die buiteland is.

4. Wat is die vereistes vir verjaring?

Skuld sal gewoonlik verjaar as jy in die betrokke tydperk:

  • Geen kontak per brief, telefoonoproep of e-pos met die kredietverskaffer gehad het nie.
  • Geen afbetalings in dieselfde tydperk gemaak het nie.
  • Geen dagvaardings ontvang het nie.
  • In die betrokke tydperk, byvoorbeeld drie jaar, nooit mondeling of skriftelik beken het dat jy uitstaande skuld het nie.

5. Hoe werk dit prakties?

Die drie jaar begin sodra die skuld ontstaan, soos die dag dat die eerste rekening gestuur is. 

Indien jy wel ’n paaiement betaal het en vir drie jaar daarna geen kontak met die krediteur gehad het nie, sal die drie jaar begin vanaf die laaste paaiementbetaling.

Voorbeeld: Gestel jy het in 2015 iets op rekening by ’n winkel gekoop en vergeet daarvan. Eers in 2019 kontak ’n skuldinvorderaar jou en eis ’n betaling. Maar na regte het die skuld al in 2018 verjaar en hoef jy dit nie te betaal nie.

Die teensy: Jy het in 2015 skuld gemaak, maar in 2016 een afbetaling daarop gemaak. Die skuld het daarom nie in 2018 verjaar nie, want deur daardie een skuldbetaling in 2016 het jy skuld beken. Die drie jaar begin nou met die 2016-betaling en die verjaring van die skuld sal dus eers in 2019 wees.

Wat as ’n skuldinvorderaar my kontak oor skuld wat reeds verjaar het?

’n Skuldinvorderaar kan jou nie vra om dié skuld te betaal nie en dit is onwettig as hulle dit doen.

Hulle kan jou ook nie dreig dat jy ’n slegte kredietrekord gaan kry nie, want as skuld verjaar het, behoort dit nie op jou kredietrekord te verskyn nie.

Gestel jy word deur ’n skuldinvorderaar gebel wat vereis dat jy skuld moet betaal wat jy vermoed reeds verjaar het. Moenie enigiets onderteken nie, moenie inwillig om dit te betaal nie en sê net: “Skuldverjaring geld.” Die skuldinvorderaar moet dan kan bewys dat die skuld nie verjaar het nie.

As jy nou gedagvaar word, kan jy ’n spesiale verweer van verjaring indien. Maar pasop – as jy onder druk van die skuldinvorderaar wel instem om dit te betaal, sal jy daarvoor moet opdok.

Gesels met ’n prokureur of skuldraadgewers as jy onseker is oor of jou skuld verjaar het of nie. Jy kan ook die kredietombud se kantoor kontak. 

As skuld verjaar het, behoort dit nie op jou kredietrekord te verskyn nie

Verjaring kan nie as ’n verskoning gebruik word om nie jou skuld te betaal nie.

As die kredietverskaffer kan bewys hy het jou probeer opspoor of kontak sedert jy die skuld gemaak het, sal jou verweer van verjaring misluk.

Jy kan daarom nie gedurig van adres verander in ’n poging om jou skuld te ontduik nie.

Kry hier nog raad


Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees