10 wenke en boererate teen hooikoors

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Hooikoors is weer hier, en die slegte nuus is dat hoewel dit al somer begin raak, die irriterende toestand wat sommiges teen die mure uitdryf en ander al gelate aanvaar het, baie mense nog maande lank kan teister.
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images


Hoe dan gemaak met hooikoors? Hier’s tuisrate en voorkomingsmaatreëls wat kan help.

Volgens die Allergiestigting van Suid-Afrika (AFSA) is allergiese rinitis of hooikoors ’n baie algemene toestand van irritasie en inflammasie in die neus en van die oë. Simptome sluit in ’n genies, ’n loop- en toe neus, postnasale drup en jeukerige, rooi, waterige of droë oë en soms ’n jeukerige verhemelte. Daarby kan dit soms ook tot ’n krapperige of seer keel en ’n hoes lei of asmasimptome vererger.

Dit word aangevuur deur onder meer stuifmeel, stof en stofmyte en troeteldiere, en sommige families is vatbaarder daarvoor as ander. En hoewel baie mense erg swaarkry – dit kan selfs met volwassenes se werk en kinders se opvoeding inmeng – kry lyers dikwels nie hulp nie omdat hulle half gewoond geraak het aan hul simptome, aldus AFSA.

Volgens dr. Adrian Morris van die Allergy Clinic in Kaapstad word ’n vyfde van die algemene bevolking deur hooikoors beïnvloed. Hy reken eweneens dit word dikwels onderskat, al kan dit ’n beduidende impak op lewensgehalte hê en, as dit nie behandel word nie, soms selfs meer uitmergelend as asma wees.

Die simptome kom voor wanneer stuifmeeltellings hoog is; veral op winderige dae. Stuifmeeltellings verwys na die getal mikroskopiese stuifmeelkorrels wat op ’n gegewe tyd op ’n gegewe plek beland. Die allergieseisoen begin gewoonlik in die lente en kan tot einde Februarie voortduur. 

Die afdeling vir allergologie en kliniese immunologie aan die Universiteit van Kaapstad se longinstituut (AIU) doen baanbrekerswerk met hul bepaling van stuifmeelvlakke (besoek pollencount.co.za om te sien hoe hoog die risiko op ’n bepaalde tyd is).

Die eerste stap vir allergielyers is om die verband te trek tussen hul simptome en die stuifmeel in die lug, sê die AIU. 

Allergiesimptome word ook soms met ’n gewone verkoue verwar, maar ’n gejeuk is nie deel van verkouesimptome nie, wat gewoonlik ook net 7-10 dae duur.

Kennis van wat in die lug is, kan jou “snellers” help identifiseer, volgens die AIU. Allergielyers is ook soms allergies vir verskeie dinge in die lug, van stuifmeel tot stofmyte.

Maar jou dokter of allergiespesialiste kan jou spesifieke allergiesneller(s) deur toetse bevestig (verdere inligting oor diagnostiese toetse is ook op die AIU se webtuiste beskikbaar). As jy weet waarvoor jy allergies is (en verskillende mense kan byvoorbeeld ook vir verskillende soorte stuifmeel allergies wees) kan jy voorkomingsmaatreëls volg of dienooreenkomstige behandeling beplan.

Die AIU se stuifmeeltellings word volgens risikograad vir allergielyers ingedeel: Baie laag (hou geen risiko vir allergielyers in nie en vereis geen optrede van hulle nie); laag (minder as 20% van stuifmeel-allergielyers sal simptome ervaar, en mense wat weet hulle is seisoenale allergielyers kan voorkomende terapieë soos neussproei begin gebruik); matig (meer as die helfte van allergielyers sal simptome ervaar, antihistamien kan gebruik word); hoog (meer as 90% van allergielyers sal simptome ervaar, baie allergielyers en asmalyers behoort buitelugaktiwiteite en blootstelling aan wind te beperk); baie hoog (potensieel baie gevaarlik vir allergielyers, veral asmalyers, en buitelugaktiwiteite moet vermy word).

Benewens antihistamien, kortisoon-neussproei en ander medikasie wat noodsaaklik kan wees, veral vir mense met ernstige allergieë, kan jy dié raad van die Allergy Clinic, AFSA, Mayo Clinic en die AIU volg:

  • Hou stuifmeeltellings en die weer in jou omgewing dop. Stuifmeel in die lug kan daagliks wissel. Dit kan byvoorbeeld op warm dae met min wolke matig tot baie hoog wees. Dis ook geneig om smiddae hoër te wees. Reën kan stuifmeel uit die lug uit ‘skrop’ en min stuifmeel word in nat, klam weer vrygestel. Winderige dae kan stuifmeel wyd versprei en nuwe stuifmeel in jou omgewing in bring. (Die AIU bied ook inligting oor watter soort stuifmeel se vlakke op watter tye hoog is.)
  • Probeer sover moontlik binne bly op droë, winderige dae met hoë stuifmeeltellings, en hou jou woonplek se vensters en deure toe in sulke tye.
  • ’n Deeglike nasale spoeling – waar jy ’n soutwateroplossing deur jou neusgate laat vloei – kan ’n goeie hulpmiddel wees. So kan jy mukus en allergene soos stuifmeelkorrels in die slymvliese uitwas en ook sproeimedikasie, waar nodig, beter laat werk.
  • ’n Bietjie petroleumjellie, wat jy met ’n wattestokkie aan jou onderste neusholtes smeer, kan stuifmeelkorrels onderskep en jou vel streel.
  • “Wrap-around”-sonbrille wat om jou slape en teen jou oogbanke vou, kan stuifmeel en stof van jou oë en ooglede help weghou. Jy kan selfs ’n voorskrifbril met so ’n ontwerp probeer kry. Pasgemaakte “pollen goggles” of “allergy goggles” vir hoërisikodae is selfs deesdae te kry.
  • Deur dadelik te stort en vars klere aan te trek nadat jy lank buite was, kan jy stuifmeel uit jou hare en van jou vel af was en binnenshuise stuifmeelbesoedeling help beperk.
  • Hou jou motorvensters toe en sit die lugreëling aan om stuifmeel uit jou motor te filtreer, veral wanneer die stuifmeeltelling hoog is. 
  • Al is heuning ’n gewilde tuisraat vir hooikoors, meen die AIU dat dit jou nie noodwendig gaan help om weerstand of immuniteit teen stuifmeelallergieë op te bou nie. Dis omdat die stuifmeelkorrels in die lug wat allergieë veroorsaak meestal van windbestuifde plante soos grasse en Noordelike Halfrond-bome soos denne-, sipres- en berkebome afkomstig is, en nie insekbestuifde plante wat deur heuningbye vir hul nektar besoek word nie, verduidelik die AIU. Die Allergy Clinic sê die sogenaamde butterbur-plant (Petasites hybrides) is ’n doeltreffende alternatiewe natuurlike behandeling; navorsing het gewys dis net so doeltreffend soos baie antihistamien.
  • Moenie wasgoed ophang wanneer stuifmeeltellings hoog is nie. Stuifmeel kan aan handdoeke, kussingslope en lakens kleef.
  • Dit sal dalk ’n gestry afgee tuis, maar jy sal dit moontlik moet oorweeg om takies soos grassny, bossies uittrek en ander tuinwerk wat stuifmeel kan vrystel te delegeer. Of jy sal ten minste dan ’n masker moet dra; die kenners sê tipiese covidmaskers behoort te werk. 

Bronne: allergyclinic.co.za, pollencount.co.za, allergyfoundation.co.za, mayoclinic.org, nih.gov

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees