Die jaar het met ’n dolle vaart begin. Die kinders is terug skool toe en jy is druk besig by die werk en voel reeds gedaan.
Hoe gaan jy dit regkry om so tussen al die dinge en die drama van die alledaagse lewe deur tyd vir rus en ontspan te skep? En om kalm en gefokus te bly wanneer stres jou weer begin inhaal?
Dalk het jy al van gewilde ontspanningsapps soos Headspace en Calm gehoor. Nog ’n paar is die moeite werd om te beproef. Iewers in jou appwinkel sal jy ’n weg na vrede vind, of jy nou ’n halfuur wil afknyp om ’n mooi prent in te kleur, wil gaan lê en mediteer of net 15 minute lank wil dut.