Sukkel jy om van daardie ekstra rolletjies ontslae te raak? Dalk het jy net ’n nuwe strategie nodig.
Jy probeer ’n paar kilo’s afskud, maar die ekstra gewig bly klou. Jy het al begin wonder of jy hoegenaamd nog moet probeer, want jy weet uit vorige ervaring hoe moeilik dit is.
Hokaai, moenie jouself te gou blameer of tou opgooi nie. Dalk maak jy net een van dié nege dieetfoute wat geneig is om gewigsverlies in die wiele te ry.
1. Jy mik te laag
Jy wil 7 kg afskud, maar besluit om eers net met 3 kg te begin. Dit lyk vir jou haalbaarder. Maar navorsers sê jou kans op sukses is beter as jy van meet af die volle syfer jou doelwit maak.
“Jou doel moet uitdagend maar realisties wees,” sê prof. Yael Benyamini van die Tel Aviv-universiteit in Israel.
“Omskep dit dan in ’n aksieplan waar jy op een of twee maklike leefstylveranderings fokus. Sodra jy hierdie nuwe gewoontes vasgelê het, kan jy jou op meer veranderings toespits.”
2. Jy skud gewig af, maar te stadig
Dit word as die sinvolle benadering beskou, maar as jy ’n plan verkies wat jou vinnig gewig laat afskud, implementeer dit gerus.
“Mense is meer geneig om dieetplanne te staak waar jy stadig gewig afskud omdat hulle ongelukkig raak,” sê dr. Michael Mosley, skrywer van The 8-Week Blood Sugar Diet.
“Maar solank jy ’n plan het vir hoe jy agterna die gewig gaan handhaaf, is die kans om weer die gewig aan te sit net so onwaarskynlik soos met iemand wat dit stadig afgeskud het.”
In ’n Australiese studie is bevind 80% van mense wat op ’n dieet was en oor 12 weke gewig afgeskud het, het hul doelwit bereik, teenoor net 50% van diegene wat 36 weke geneem het om dieselfde doel te bereik. Die gevaar om weer die gewig aan te sit was dieselfde by albei groepe.
3. Jy is met kilojoules behep
Om kilojoules te tel het sy plek en is vir baie mense ’n gewilde gewigsverliesstrategie, maar dis nie so eenvoudig soos dit klink nie.
“Elkeen se metabolisme is anders, en elkeen van ons verbrand kos op ’n ander manier,” sê Emily Holmes, ’n Australiese voedingskundige.
Boonop weerspieël die wyse waarop ons die kilojoules in kos bereken nie noodwendig akkuraat hoeveel van dié kilojoules ons absorbeer wanneer ons die kos ?eet nie.
’n Halfgaar biefstuk, byvoorbeeld, lewer 12% minder kilojoules as een wat goed gaar is omdat jou liggaam meer energie verbruik om dit te verteer. Dit is iets wat kilojoulekaarte nie in ag neem nie.
Moenie jouself kasty as jou gewigsverlies vir een week nie is wat jy verwag het nie – beskou net enige afname in jou gewig as vordering.
4. Jy volg ’n glutenvrye dieet
Om gluten uit te sny is nie ’n wonderkuur nie.
“Gluten word meestal in verfynde koolhidrate aangetref. As dit uitgesny word, skud die meeste mense gewig af,” sê Fiona Tuck, ’n voedingsgeneeskundige. Maar as jy koolhidrate wat gluten bevat met verwerkte glutenvrye alternatiewe vervang, kan die teenoorgestelde gebeur.
“Glutenvrye verwerkte kosse bevat dalk meer verfynde koolhidrate en stysels as hul eweknieë wat gluten bevat,” sê sy.
“En die liggaam omskep dit vinnig in suiker en laat insulienvlakke toeneem – ’n groot taboe vir gewigsverlies.”
5. Jy hou net die skaal dop
Die skaal wys byvoorbeeld nie of jou gewigsverlies vet, water of spier is nie, en dit maak wel saak. Die getal op die skaal is ook nie die beste motiveerder nie – foto’s en om jou mates te neem is beter, toon ’n nuwe studie.
“Meet weekliks en neem elke drie tot vier weke foto’s,” meen dr. Isaac Kuzmar van die Universiteit van Alicante in Spanje. Hy sê hier sal jy die veranderings opmerk.
6. Jy ontsê jou alle bederfies
’n Dieet gaan dikwels gepaard met ’n houding van alles of niks. Baie verslankers glo as jy één dag skeeftrap, het jy misluk.
Maar volgens nuwe navorsing sal dae waarop jy beplan om te kul – en waar jy vooraf weet wanneer jy gaan afdwaal en watter kosse jy gaan eet – dit verhoed.
Mense wat ses dae per week ’n bietjie meer uitgesny het en een beplande kuldag gehad het, het meer gewig afgeskud en langer met hul dieet aangehou as diegene wat elke dag die dieet gevolg het.
Oorweeg ’n kulmaaltyd pleks van ’n kuldag; dit sal dan waarskynlik makliker wees om weer op die regte spoor te kom.
7. Jy steun te veel op oefening
Dis goed vir jou gesondheid, fantasties om spiere te bou en te versterk en om gewigsverlies te verbeter.
“Maar dis baie harde werk om net met behulp van oefening gewig af te skud,” sê die Australiese persoonlike afrigter Ali Cavill.
“Om nie te praat van die uitwerking wat oefening op eetlushormone het nie. Dit kan maak dat jy ná ’n oefensessie hongerder is en meer wil eet.”
Die kenners meen dié effek is hoekom 70% van vroue wat gevra is om te oefen om gewig af te skud ná die 12 weke van proefneming fikser maar vetter was as toe hulle begin het.
“ ’n Suksesvolle gewigsverliesplan het twee dele – gesonde koskeuses en fisieke aktiwiteit,” sê Ali.
8. Jy sê koebaai aan vet
Dit maak oënskynlik sin, want vet bevat twee keer soveel kilojoules per gram as koolhidrate.
Tog is die uitslae van minvetdiëte teenoor ander gewigsverliesmetodes in ’n onlangse studie bekyk en is bevind daar is nie voldoende bewyse om ’n minvetdieet bo ’n ander aan te beveel nie. Minkoolhidratediëte toon beter gewigsverlies as minvetdiëte.
“Vet help ons om versadig te voel,” sê Fiona.
“Wanneer ons minvetkosse eet, voel ons minder versadig. Minvetdiëte moedig jou ook aan om verwerkte dieetkosse te eet, waarvan baie vol suiker en kunsmatige chemikalieë is.
“Eet vars pleks van verwerkte kosse.”
9. Jy maak op wilskrag staat
“Wilskrag is soos om jou asem op te hou: Jy kan dit net so lank doen. En elke keer wanneer dit misluk, versterk jy die idee dat jy swak is,” sê Domini Stuart, skrywer van You Can Beat the Binge!
“Verander jou ingesteldheid sodat jy jou keuses beskou as ’n manier om vir jouself goed te wees.”
Waar sommige dit vinnig kan baasraak, neem dit ander ’n rukkie om hul denkprosesse te verander.
Domini stel voor jy pak dit so aan: “Dink elke dag aan een dingetjie wat jou beter oor jouself laat voel, byvoorbeeld om gaskoeldrank met water te vervang, en kies om dit te doen. Sodra jy dit gedoen het, prys jouself.”
Namate jy hierdie proses herhaal, sal dit ’n gewoonte raak om die beste keuses te maak – en jy het nie wilskrag nodig om iets te doen wat ’n gewoonte is nie.
Beproef dié wenke van kenners om jou gewigsverliespogings weer op die regte koers te kry.
- Eet vars kosse in hul natuurlike toestand. “Maar selfs dan moet jy in gedagte hou porsies maak saak – jy sal ook nie gewig verloor as jy groot porsies quinoa eet nie,” sê die voedingsgeneeskundige Fiona Tuck.
- Verander wat jy eet sowel as hoe jy beweeg. “Gewigsverlies is 80% wat jy eet en 20% hoeveel jy beweeg,” sê Fiona.
- Maak kragoefeninge deel van jou oefensessie. Kardio verbrand kilojoules terwyl jy dit doen, “maar kragoefeninge help om spiere te bou wat aanhou kilojoules verbrand selfs nadat jy ophou oefen het”, sê die Australiese persoonlike afrigter Ali Cavill.
- Onthou, as jy weer begin eet soos jy voorheen geëet het, sal die vetjies ook terugkeer.
- “Probeer om ’n gelukkige eter te word,” is Domini Stuart, skrywer van You Can Beat the Binge!, se raad. “Gelukkige eters ontsê nie hulself kos nie; hulle eet redelike hoeveelhede van kos wat hulle wil hê. Hulle is nie bang vir sekere kosse nie omdat kos geen mag oor hulle het nie. Hulle eet wanneer hulle honger is en dink nie die res van die tyd knaend aan kos nie.”
TEKS: HELEN FOSTER© BAUERSYNDICATION.COM.AU/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook, WhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.