En nou gebruik die skrumskakel sy einste "Springbroekie" om 'n bewusmakingsveldtog, #Fafchallenge, oor testikulêre kanker in die sosiale media te versprei.
"Moenie hierdie een op-Faf nie! Wees dapper genoeg om jou balle te ondersoek! Testikulêre kanker is geneesbaar as dit in die vroeë stadium gevang en behandel word!” skryf hy op Instagram by 'n foto van hom in sy swembroek.
Die geliefde Bok-skrumskakel het boonop vir sy spanmaats Siya Kolisi en Jesse Kriel uitgedaag om ook in hul swembroeke 'n foto te deel en sodoende bewusmaking aan te moedig.
Dit was nie lank nie of menige Bok het hul “balvaardighede” ten toon gestel.
Huisgenoot het voorheen met dr. Nico Lourens van die urologiehospitaal in Pretoria gesels om nog inligting oor testikulêre kanker te kry.
Wie het die grootste risiko om testikulêre kanker te ontwikkel?
Mans met die hoogste risiko vir testikulêre kanker is diegene wat al voorheen daarmee gediagnoseer is, of wat familielede het wat ook daaraan gely het.
“Ons weet dat testikulêre kanker 'n sterk familieband het: As dit al by jou pa, broers of neefs gediagnoseer is, is jou kanse om ook daarmee gediagnoseer te word hoër,” vertel Nico.
“Dit bly egter 'n redelik seldsame kanker wat minder as 1% is van alle kankers wat by mans gediagnoseer word.”
“Ander risikofaktore wat 'n rol speel, sluit in 'n onafgedaalde testikel ('n testikel wat nie in die skrotum is nie, maar steeds iewers in die buik of lies), en dit kom ook meer algemeen onder wit mans as by ander rasse voor.”
Vanaf watter ouderdom moet ek selfondersoek instel?
Testikulêre kanker kom meestal by jong mans tussen die ouderdomme van 15 en 40 voor. “Dus moet jong mans van die ouderdom van 15 af ’n maandelikse selfondersoek doen terwyl hulle in die stort of badkamer is in ’n warm, gemaklike omgewing,” maan Nico.
Waarvoor moet mans op die uitkyk wees?
Die belangrikste gevaarteken om voor op te let is enige harde knoppe of massas wat geleidelik toeneem in grootte, vertel Nico.
“Testikulêre kanker is gewoonlik nie seer nie, maar mag ná 'n voorval waar die testikels gestamp is of ander trauma opgedoen het, seer begin word. Ander kommerwekkende tekens wat teenwoordig mag wees, kan daarop dui dat die kanker verder versprei het; dit sluit in kortasemrigheid, hoes, kopseer en visuele stoornis. Soms mag mans ook met ginekomastie (abnormaal vergrote en teer borste) presenteer.”
Wat kan jy doen as iets buitengewoons is?
“Die beste raad is om nie te wag nie, maar so gou moontlik by jou huisdokter of uroloog ’n afspraak te maak en ’n deeglike fisieke ondersoek te kry,” sê Nico.
“Testikulêre kanker is in die meeste gevalle beperk tot die testikels en daarom word die meeste pasiënte met hedendaagse behandeling genees.”
Wat behels die behandelingsproses?
Vir die volledige behandeling van die kanker word die testikel gewoonlik in geheel verwyder, maar aangesien die meeste mans met testikulêre kanker 'n normale testikel aan die ander kant het, is die risiko vir seksuele- en voortplantingsprobleme relatief min.
“Die uitsondering is wanneer iemand net een testikel het. In dié geval word daar slegs ’n gedeelte van die testikel verwyder, om sodoende ’n mate van hormoonfunksie te behou. Soms mag dit nodig wees om dit volledig te verwyder as die kanker die hele testikel betrek,” verduidelik Nico.
“Dit is baie raar maar bilaterale siekte (beide testikels betrek met kanker) kom wel voor, en in dié geval word mans aangeraai om sperm te laat stoor voor die prosedure, en ook hormoonvervanging te kry.”
Is daar enige verwantskap tussen testikulêre en prostaatkanker?
“Daar is spesifieke gene wat in beide testikulêre en prostaatkanker 'n rol speel. Beperkte studies het gewys dat suiwelinname moontlik 'n rol speel in die ontwikkeling van beide kankers. Dit is egter nog nooit in die praktyk deur grootskaalse studies bewys nie,” laat Nico hoor.