Dit voel asof my hele lewe my gelei het na die gebied van velgesondheid, en al hou ek nie daarvan om my ouderdom te verklap nie, moet ek erken om 47 te wees is verbasend lekker.
Nadat ek die grootste deel van my lewe skilferige vel en ernstige ekseem gehad het, verwonder ek my nou aan hoe babasag my vel lyk en voel.
’n Mooi vel word van binne bereik en ek voel ek moet oor chemiese onverdraagsaamheid praat omdat die wetenskaplike navorsing voortdurend deur gesondheidspraktisyns en bloggers geïgnoreer word.
Dit veroorsaak dat mense steeds onnodig sukkel met vel- (en derm-) probleme wat met ’n lae-chemiese dieet verlig kan word.
Daardeur kry jou lewer en spysverteringskanaal ’n nodige blaaskans van chemiese oorlading, en dit help om inflammasie te kalmeer, jou vel te voed en voedselintoleransie en allergieë te voorkom (of te verminder).
Die lae-chemiese weg
Baie gesondheidsbewustes vermy kunsmatige bymiddels en chemiese skoonmaakmiddels en glo dat hulle dan ’n lae-chemiese leefstyl lei. Maar met gefermenteerde kos, kakao, borrie en rooiwyn se gewildheid wat toeneem, neem mense ongelooflike hoeveelhede natuurlike chemikalieë genaamd histamiene en salisilate in wat tot ’n ander tipe giftigheid lei.
Mense kan jare lank simptome van chemiese toksisiteit hê en nooit weet dis sekere kosse wat hulle siek maak nie.
Simptome soos pyn, ontsteking, moegheid, ekseem, netelroos en ander veluitslae, sinusitis, roosaknee, psoriase, hooikoors, migraine, AGHS, artritis, prikkelbaredermsindroom, opgeblasenheid en ander tekens van ’n lekkende dermkanaal kan vererger of veroorsaak word deur die oormatige inname van histamiene, salisilate en ander chemikalieë, sowel natuurlik as kunsmatig.
Probeer om die volgende bestanddele by jou dieet te voeg: lae-chemiese superhelde wat kan help om ’n stralende gelaat te kry.
Vlassaad vir hidrasie
Vlassaad is die rykste bron van plantaardige omega-3 (selfs ryker as chia- en hennepsaad) en het kragtige anti-inflammatoriese, gemoedsversterkende en velbevogtigende effekte.
Hierdie klein bruin (of goue) saadjie is ryk aan vitamien B1 (tiamien), magnesium, mangaan, koper, seleen en sink, en 23% van die saad is ’n klewerige slym wat cholesterol kan verlaag en die risiko vir diabetes en bloedglukosevlakke kan verminder.
Hennepsaadolie vir ’n gladde vel
Vlassade, tesame met hennepsaadolie, is my gunstelingmiddel vir droë vel, en dis albei ook wonderlike behandelings vir ’n bulterige vel (keratose).
As jy sensitief is vir vlassade (as gevolg van die inhoud van salisilate of amiene), gebruik eerder hennepsaadolie.
Bevog jou vel van binne daarmee aangesien dit ’n ryk bron van omega-6 (tot 62%) en anti-inflammatoriese omega-3-vetsure (tot 23%) is.
Hennepsaadolie is ryk aan chlorofil en vitamien E en bevat slegs spoorhoeveelhede salisilate, wat dit ’n goeie lae-salisilaat-opsie maak vir mense met ekseem en chemiese onverdraagsaamheid.
Natuurlike verfrisser
Meng 1 teelepel appelasyn in 1 koppie water en gebruik dit om jou gesig ná afskilfering te spoel. Jy kan dit in ’n spuitbottel gooi, maar moenie dit in jou oë spuit nie.
Grasuie = gesonde vel
Grasuie is die nederige ui se deftige neef. Met sy matige en aangename smaak is dit natuurlik anti-inflammatories en besit antimikrobiese en antifungale eienskappe.
Grasuie-aftreksels word gebruik om ’n seer keel en sonbrand te verlig en is ’n goeie bron van vitamiene C en K, vesel, folaat en karotene wat omgeskakel word in vitamien A en noodsaaklik is vir ’n gesonde vel.
Pere teen ekseem
Die nederige peer kry die prys vir die beste dermvriendelike vrug. Die oplosbare vesel in pere “vee” jou ingewande skoon en help om alles aan die gang te hou.
Pere is ’n goeie bron van vitamien C, kalium, koper, vitamien K en dieetvesel. Dit werk sagkens op die maag.
Papaja vir sonbrand
Die rooi papaja is verwant aan die geel papaja, maar dis soeter en bevat ’n rooi pigment genaamd likopeen wat, wanneer dit daagliks geëet word, jou vel se weerstand teen sonbrand verhoog.
Die sade bevat kragtige antimikrobiese eienskappe en kan geëet word om wurms uit die derm te spoel (“spoel” is die werkwoord omdat dit ernstige diarree veroorsaak; moet dus nie papajasade aan kinders of swanger vroue gee nie).
Een koppie papaja bevat 100% van jou daaglikse vitamien C-behoeftes, asook beta-karoteen, folaat, kalium en ’n bietjie vitamien B5 en magnesium vir ’n gesonde vel.
Helderder met beet
Beet is die Rooikruis van groente
Die antieke Romeine en Grieke het dit medisinaal gebruik om velprobleme, hardlywigheid en hoofpyne mee te behandel.
Rooi beet is ’n vername lewer- en bloedreiniger wat tradisioneel gebruik is om geelsug in die vel te verminder, bloeddruk te verlaag en spysverteringsprobleme te verlig.
Wetenskaplik weet ons nou dat beet sterk anti-inflammatoriese en ontgiftingseienskappe en antioksidante het danksy unieke betalainpigmente wat aan gifstowwe bind en dit deur uriene uitwerp.
Dit bevat ook mangaan en folaat en is een van die seldsame voedselsoorte wat ’n sterk alkaliserende effek in die liggaam het (wat die bloedtoevoer na jou vel verhoog, wat ek agtergekom het jou oë ’n uur of wat sigbaar verhelder!).
Vitamien C
As daar ooit ’n vitamien was wat ongetwyfeld bewys het jou vel word vervaardig, aangepas en genees deur voedingstowwe, is dit vitamien C.
Wetenskaplikes het al meer as ’n eeu lank bewys jou vel val letterlik uitmekaar as jy nie genoem vitamien C inkry nie.
Eet papaja, kool en Brusselse spruite wat hope van hierdie velreddende vitamien bevat.
Sink
Sink is een van daardie wonderminerale wat jou vel benodig vir wondgenesing en velgesondheid. ’n Sinktekort in die vroeë stadium kan as atopiese dermatitis voorkom.
Daar is in navorsing bewys letsels, droë en growwe vel wat soos rowwe plaveisel lyk, asook vertraagde wondgenesing, kan as gevolg van ’n sinktekort voorkom.
’n Ernstige sinktekort kan lei tot aknee, dermatitis wat soos blasies lyk, naelverandering, diarree en haarverlies.
Sinkroom kan vir die behandeling van vratte en onwelriekende sweet gebruik word.
Glutatioon
Dis waarskynlik die naaste ding aan die fontein van die jeug wat ons ooit sal vind, want dit help om velpigmentasie, die risiko vir ouderdomsverwante siektes en die voorkoms van ouderdomsvlekke te verminder en kalmeer velontsteking.
Rook, medikasie en alkoholgebruik kan ook jou glutatioonvlakke uitput.
- Dit is ’n geredigeerde uittreksel uit The Healthy Skin Kitchen(gepubliseer deur Exisle Publishing, R905 by takealot.com). Prys korrek teen druktyd en onderhewig aan verandering sonder voorafkennisgewing.