Wanneer my vriendin Lizzie vir ete by mense kuier, maak sy ’n punt daarvan om die gasheer te vra om elke gereg te beskryf nog voor sy dit gesien het. Enersyds is dit ’n manier om die gasheer te wys sy is dankbaar vir die moeite wat in die bereiding ingegaan het, maar daar is ook ’n tweede rede.
Sielkundiges wat iets van mense se eetgewoontes weet, sê jy kan jouself op dié manier in ’n meer bedagte eter omskep.
Charles Spencer, ’n sielkundeprofessor aan die Universiteit van Oxford, doen navorsing oor hoe mense kies wat hulle eet. Sy navorsing toon ’n mens se koskeuses word beïnvloed deur hoe jy jou maaltyd benader.