Het jy verkoue of griep – wat is die verskil?

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Dis weer daardie tyd van die jaar – sneesdoekies en rooi neuse net waar jy kyk.

Met die winterseisoen nou in volle gang, is verkoue en griep aan die orde van die dag. Die siektes het soveel van dieselfde simptome wat jou laat goor voel, dat dit soms moeilik kan wees om tussen die twee te onderskei. 

Tog is daar genoeg verskille wat jou kan help vasstel watter een jy het. Huisgenoot gesels met dr. Dina de Bruyn, 'n algemene praktisyn van Kaapstad en dr. Pete Vincent van Netcare Travel Clinics en Medicross om uit te vind hoe jy die simptome kan behandel. 

Verkoue t. Griep

“Verkoue is gewoonlik ’n minder ernstige infeksie van die boonste lugweë wat deur 'n verskeidenheid virusse veroorsaak word,” vertel Dina aan Huisgenoot. 

“Simptome begin gewoonlik skielik, met ’n seer keel, genies en ’n toe neus wat later soos ’n kraan waterige slym drup. ’n Hoes met waterige tot ligte geel slym, hoofpyn en gevoelige ore kan ook tekens van verkoue wees.” 

Influenza (oftewel griep) is gewoonlik 'n veel ernstiger siekte, nie net van die boonste lugweë nie, maar ook ’n sistemiese siekte wat jou hele liggaam aantas, sê Dina. 

“Dit begin met koors, kwaai lyf en gewrigspyne, intense moegheid, hoofpyn, naarheid en selfs diarree. Die hoes is baie seer en droog. Daar is gewoonlik veel minder slymafskeiding as met verkoue, veral van die neus.”

Kry jou jaarlikse inenting

Griep word gewoonlik deur die Influenza A- of B-virus veroorsaak, en omdat hulle gedurig hul buitenste omhulsel verander, bou ons nie genoegsame weerstand daarteen op nie. 

“Daar is baie min virusse waarvoor ons antibiotika het, maar ons het dit gelukkig vir Influenza A en B. Maar 'n mens moet hierdie medikasie binne 72 uur neem nadat die simptome begin het anders is dit nie doeltreffend nie,” maan Dina. 

Sy raai mense aan om liewers die griepinspuiting te kry. “Die griepinenting bevat deeltjies van virusse wat onlangs in die wêreldomgewing was. Dit bou teenligaampies teen infeksie vanaf die griepvirusse wat navorsing aandui die algemeenste in daardie seisoen sal wees. Al is die beskerming net gedeeltelik, help dit dat ’n mens nie so ’n ernstige infeksie ontwikkel nie,” vertel sy. 

“Swanger vroue, jong kinders en babas, bejaarde mense of enigiemand wat 'n chroniese siekte het, byvoorbeeld asma, moet elke jaar teen griep ingeënt word omdat griep vir hierdie groep mense dodelik kan wees. As jy saam met so ’n persoon woon behoort jy ook ingeënt te word om te keer dat jy miskien griep aan iemand met 'n swakker immuunstelsel oordra.”

As jy koorsig is en regtig baie siek voel, gaan so gou moontlik dokter toe.

Versterk jou immuniteit

Vir die verkoue-virusse is jou immuunstelsel die beste behandeling, sê Dina. 

“Daar is nie regtig medikasie beskikbaar om jou immuunstelsel op te bou nie. Die vitamiene in jou kos werk beter in jou liggaam as tabletaanvullers. Eet gesond – maak seker dat jy elke dag groen, oranje en rooi groente eet. Eet 'n verskeidenheid kossoorte en vars vrugte. Drink genoeg water en min of geen alkohol en maak seker jy kry genoeg slaap.”

Bly liefs weg van antihistamiene wat jou slym so opdroog dat die virusse nie na buite vervoer kan word nie.

“As jou neus baie toe is, spuit liewer 'n antihistamien direk by jou neus in. Dit sal ook help dat jou middelore dreineer. Parasetamol of aspirien is baie goed vir hoofpyn en ’n seer keel. Gebruik ’n hoesstroop net as jou slym baie droog is, slym wat te waterig is, word met moeite uitgehoes.”

Algemene vrae

Kan ek oefen as ek siek is?

“Griep kan lei tot inflammasie van die hartspier en/of die perikardium wat om die hart is. Dit is dus baie belangrik om veral nie te oefen tydens en ná influenza nie,” sê Dina. 

Matige oefening is gewoonlik aanvaarbaar as jy 'n algemene verkoue het, maar as jy koorsig is, moet jy liewers in die bed kom. 

Kan ek by die werk siek word? 

Volgens dr. Pete Vincent van Netcare Travel Clinics en Medicross, is daar ’n groter risiko dat die griepvirus in beknopte ruimtes soos die skool en werkplek sal versprei. 

“Die virus kan veral maklik versprei binne oopplankantore en fabrieksomgewings. Dit is dus ’n goeie idee vir werkgewers om inentingsprogramme vir hul werknemers te oorweeg aangesien dit verlof kan verminder en grotendeels werkers se gesondheid kan bevorder,” sê hy. 

Dina beaam en waarsku dat ’n mens liefs aan die begin van jou siekte van die werk af moet bly. “Jy is aangesteek reeds 2-3 dae voor jy siek word en is in daardie tyd en die eerste paar dae van die siekte hoogs aansteeklik.”

“Nie net gaan jy gouer gesond word nie; die hele kantoor sal nie ook siek word nie. Probeer om dan in ’n omgewing te wees waar die temperatuur nie fluktueer nie – hou die temperatuur onveranderd waar jy gemaklik voel,” laat sy hoor. 

Kan ek my hare was as ek siek is?

Wanneer ’n mens so siek was met koors en sweet, laat ’n lekker stort/bad jou sommer gou beter voel. “Was gerus sommer jou hare ook, maar maak dit droog voor jy weer in die bed klim,” maan Dina. 

Wanneer moet ek my dokter besoek? 

As 'n mens goed na jouself kyk en in die bed bly vir 'n dag of wat, en jy word self beter, is 'n doktersbesoek natuurlik nie nodig nie. Maar besoek jou dokter as jy sieker word – koors ontwikkel, erg begin hoes en kortasem word of ál papper word. As jy van die begin af laasgenoemde simptome het, gaan so gou moontlik dokter toe. 

Dr. Pete se wenke om infeksie te stuit
  • Griepvirusse kan ure lank op oppervlaktes soos ’n rekenaar se sleutelbord en telefone oorleef. Dit is dus belangrik om jou hande gereeld te was en warm water en seep deeglik te benut waarna jy dit met ’n handdoek afdroog. Gebruik ’n hand sanitiser as water nie beskikbaar is nie. 
  • Oorweeg dit om 'n neussproei te gebruik om jou lugweë klam en jou neusgate skoon te hou. 
  • Maak seker jy slaap genoeg. Dit speel ’n belangrike rol om jou immuunfunksie op sy beste te laat werk. 
  • Handhaaf ’n gesonde oefenroetine – verkieslik drie of vier keer per week. Dit sal jou immuunstelsel en jou liggaam se natuurlike vermoë om infeksie te beveg versterj.
  • Eet ’n gebalanseerde dieet wat baie vrugte en groente insluit. Verseker ook dat jy genoeg water drink. 
  • Beperk jou alkoholinname – ’n groot hoeveelheid kan jou weerstand negatief beïnvloed. 
  • As jy verkoue kry, koorsig is en besig is om te hoes, moet jy liefs by die huis bly aangesien jy die rus sal benodig en jy moontlik ander met die virus kan aansteek. 
  • Bedek jou mond en neus met ’n sneesdoekie wanneer jy hoes of nies en gooi dit daarna dadelik weg. Dit sal help om die verspreiding van die siekte te voorkom. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees