Moenie in die koue aandlug uitgaan nie. Eet sitrusvrugte. Só keer jy dat jy siek raak, het jou ma jou destyds geleer. Maar hoe waar is dié raad?Huisgenoot het by kenners gaan hoor hoe immuniteit regtig werk en wat ons kan doen om dit ’n hupstoot te gee.
Deur die loop van enige gewone dag is daar ’n magdom kieme, virusse en bakterieë wat jou liggaam uit alle oorde binnedring. Die immuunstelsel is ’n klomp dinge in jou lyf – weefsel, selle en molekules – wat almal saam werk om te keer dat daardie kieme in jou lyf posvat en jou siek maak.
Hoe sterk jou bepaalde immuunstelsel is, hang af van ’n kombinasie van jou gene (party mense is met sterk immuniteit gebore) en jou leefstyl, sê dr. Rust Theron, ’n Kaapse algemene praktisyn.