book-icon Uitgawe 30 Julie 2020

Masker-dra is wet: Hoe beskerm dit jou teen covid-19?

akkreditasie
Die dra van maskers word nou wetlik afgedwing. Ons het by kenners ­uitgevind hoekom dit noodsaaklik is om jou teen ­covid-19 te beskerm.

Eens op ’n tyd het jy dit net in mediese dramas of wetenskapsfiksieflieks gesien. Toe verander die coronavirus die wêreld oornag – en nou is maskers so deel van die alledaagse lewe soos sitplekgordels.

Van dag 1 van die inperking af was die dra van maskers in Suid-Afrika verpligtend, en nou is dit ’n oortreding om dit sonder een buite te waag tussen ander mense of in openbare plekke.

Mediese kenners is dit eens dat maskers, tesame met gereelde handewas en sosiale distansiëring, die beste beskerming teen die oordrag van die virus bied. Tog sien jy oral mense wat nie maskers dra nie. Sommige sê dis snert; ander beweer hulle kan nie maskers kry nie.

Maar nou, terwyl die infeksiekurwe skerp styg en gesondheidsdienste steier, het pres. Cyril Ramaphosa sy voet neergesit. Die dra van maskers sal voortaan wetlik afgedwing word.

“Die storm is hier,” het hy in sy jongste televisierede gesê. “ ’n Lapmasker is nie moeilik om te bekom nie. Jy kan selfs ’n T-hemp, jou serp of ander kledingstuk gebruik om jou neus en mond te bedek.”

Die straf as jy oortree, was teen druktyd nog onduidelik. Maar die geraamde plaaslike dodetal as die pandemie nie afneem nie, is ’n vreesaan­jaende 50 000 teen die einde van Desember. Dit behoort jou na jou masker te laat gryp. Jy ry tog nie sonder jou sitplekgordel nie . . .

DIE WETENSKAP AGTER DIE MASKER

Die virus word hoofsaaklik op twee maniere oorgedra, sê dr. Emmanuel Taban, ’n pulmonoloog van Pretoria: tussen mense deur respiratoriese druppels en deur persoonlike kontak.

Die respiratoriese druppels is klein deeltjies afskeiding soos speeksel wat deur die lug trek as jy hoes, nies of selfs net praat. Dit kan tot 2 m ver oorgedra word en vir beperkte tydperke in die lug bly hang.

“Maskers kan gesonde mense beskerm teen respiratoriese oordrag deur siek mense en ook verhoed dat die siek persoon die virus aan ander oordra,” sê Emmanuel. Die dra van maskers alleen verlaag die oordragtempo van 17% tot 3%.

Maar nie alle maskers lewer dieselfde resultate nie. Volgens navorsers van die Florida Atlantic University in Amerika is “tuisgemaakte maskers wat goed pas, gemaak van veelvuldige lae kwiltmate­riaal en die vormpassende maskers wat jy kan koop die doeltreffendste om druppelverspreiding te verminder.”

Navorsers aan die universiteit se ingenieurswesedepartement het drie verskillende soorte gesigbedekkings getoets: serpe (een laag), gevormde maskers en tuisgemaakte maskers met twee lae katoenlap.

“Die resultate het getoon dat serpe wat losserig om jou gesig gedraai is wel druppels in die lug in ’n sekere mate keer. Tuisgemaakte maskers met veelvuldige lae wat goed pas en gevormde maskers was egter die doeltreffendste,” het die navorsingspan geskryf.

“Sonder ’n masker het die druppels meer as 2,4 m beweeg. Met ’n serp het dit 1 m ver deur die lug gevorder; met ’n gevoude katoensakdoek voor die gesig 38 cm ver; met die gestikte katoen­masker 6 cm ver; en met ’n gevormde masker 20 cm ver.

In ’n studie wat in die mediese joernaal Health Affairs verskyn het, is bevind tussen 230 000 en 450 000 covidgevalle is verhoed danksy die verpligte dra van maskers in sommige lande.

HOE VER VLIEG DAARDIE DRUPPELS?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het aanvanklik aangedui dat die siekte nie lugoordraagbaar is nie, maar het sedertdien van deuntjie verander.

Emmanuel verduidelik dat covid-19 (die “19” beteken dis in 2019 geïdentifiseer) ’n nuwe soort coronavirus is. Wetenskaplikes en navorsers ontdek dus gedurig iets nuuts daaroor.

Lugoordrag is die verspreiding van infeksie deur druppels wat aansteeklik bly oor lang afstande en tydperke in die lug. Volgens Emmanuel kan besmette druppels tot drie uur in die lug bly hang.

“Met ’n nies kan die druppels tot 8 m beweeg, en met ’n hoes kan dit 6 m beweeg. As ’n siek persoon bloot praat, kan sy speeksel die besmette druppels tot 2 m ver laat beweeg. Spoeg is dieselfde as om te nies – die druppels kan tot 8 m beweeg.”

Hy kan die belang van veiligheidsmaatreëls nie oorbeklemtoon nie.

“Om infeksie met die coronavirus te voorkom, moet die publiek omvattende voorkoming soos handewas of ontsmetting toepas, ’n sosiale afstand van minstens 2 m handhaaf en altyd maskers in die openbaar dra,” sê hy.

HOEKOM SKOP PARTY MENSE DAARTEEN VAS OM ’N MASKER TE DRA?

Dr. Refilwe Setshedi, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, sê daar is ver­skeie redes.

“Daar is diegene wat na die nuus luister, van die pandemie hoor en glo die bedreiging is werklik. Hulle dra maskers. Aan die ander kant het jy mense wat na dieselfde nuus luister, maar bloot nie glo dis waar nie. Hulle sien dit as ver verwyderd van hulle en dra nie maskers nie.”

Die laasgenoemdes se persepsies verander gewoonlik slegs wanneer hul geliefdes covid-19 opdoen.

Nog ’n faktor is die gemengde bood­skappe wat mense kry van diegene in gesagsposisies of met sosiale invloed.

Refilwe sê mense wil hulle skaar by diegene wat hulle bewonder en sal dus hul optrede naboots en subgroepe vorm. As hulle ’n bekende persoon aanhang en dié dra nie ’n masker nie, sal hulle dink: Hoekom nie ek ook nie? “Die invloed van mense in die kollig is baie sterk. Dit kan nie geïgnoreer word nie,” sê Refilwe.

Daar is ook mense wat rebelleer teen die werklikheid van die virus.

“Die normale lewe is versteur op maniere wat ons nooit sou kon dink nie,” sê Refilwe. “Om nie ’n masker te dra nie kan ’n manier wees om beheer oor die lewe te probeer herwin deur te besluit om te weier om in vrees vir die pandemie te leef.

Hulle wil hul lewe terug in eie hande neem.”

Maar die beste manier om nou jou lewe en dié van ander te beskerm is om altyd ’n masker te dra wanneer jy ’n voet buite die deur sit.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Riglyne vir lapmaskers
  • Jou masker moet jou neus en mond albei heeltemal bedek.
  • Moet dit nooit laat sak om te praat, hoes of nies nie.
  • Vermy dit om aan jou masker te raak, want jy kan covid-19 met jou hande versprei. En moet nooit aan die binnekant van jou masker raak nie.
  • Was jou hande voor en nadat jy jou masker ver­wyder.
  • Was jou masker in warm, seperige water en stryk dit wanneer dit droog is. Stryk help met ontsmetting; dieselfde geld om dit in sonlig te laat droog word.
  • Gebruik daagliks ’n ander masker.
  • Elke persoon moet ideaal gesproke drie maskers besit – een om te dra, een in die was en ’n ekstra een.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees