Dis iets waaroor ’n mens nie sommer maklik in geselskap praat nie. Hardlywigheid is immers ’n baie private en sensitiewe onderwerp. Tog sal almal die een of ander tyd in hul lewe dié ongemaklikheid beleef. Dit kan kom en gaan, en dit kan met die jare vererger, maar dinge raak veral ernstig as jy aan chroniese hardlywigheid begin ly.
Is daar ’n riglyn oor hoe gereeld jy opelyf moet hê? Nie regtig nie, sê kenners, want dié behoefte verskil van mens tot mens en kan wissel van daagliks tot drie keer per week. As jy egter minder as drie keer per week die toilet vir ’n stoelgang besoek, ly jy moontlik aan hardlywigheid.
En as dit langer as sowat drie maande so aanhou, is die probleem selfs erger: Dan het jy dalk chroniese hardlywigheid, wat jy nie durf ignoreer nie. Dit kan erge pyn veroorsaak of selfs dui op ’n ernstiger gesondheidsprobleem soos kanker.