Jy hoor dit oral: Ons sit te veel. Voor die rekenaar, in die verkeer, wanneer jy TV kyk. Kenners meen dis veral jou lae rug wat dit ontgeld as jy te min beweeg – daardie styfheid wat jou laat stadig opstaan van die rusbank of laat kreun wanneer jy iets moet optel. Maar hoewel dié soort rugpyn algemeen is, is dit nie onoorkombaar nie. Deur sekere leefstylveranderinge te maak, kan jy jou kans om dit te kry grootliks verklein. Hier is raad.
Hoewel daar verskeie faktore is wat laerugpyn veroorsaak, is die volgende die algemeenste, sê dr. Megan van der Merwe, ’n chiropraktisyn van Pretoria.
“Dit word veroorsaak deur te veel oorlading, om herhaalde verkeerde bewegings te doen en te min of te veel fisieke aktiwiteite te doen,” sê Megan. Enigiets wat meer statiese spanning veroorsaak, soos om te veel te sit of in ’n slegte posisie te werk, kan ’n invloed hê op die rug.