
As jou liggaam te veel van 'n sekere mineraal of chemiese stof vervaardig, kan stene ontstaan – en dié stene lei soms tot komplikasies wat baie pynlik en ongemaklik kan wees.
Hier’s 'n gids met die algemeenste liggaamstene en raad oor hoe jy jou kans kan verminder om dit te kry.
Nierstene
Dit is klein, harde klontjies wat in die niere vorm en uit gekristalliseerde afvalstowwe in urine bestaan.
Nierstene wissel in grootte – van so groot soos 'n sandkorrel tot 'n gholfbal. Tussen 4% en 8% van mense ontwikkel dit namate hulle ouer word – en party mense is meer geneig om dit te kry weens hul familiegeskiedenis.
Die algemeenste simptoom is pyn wanneer die nierstene met die urinekanaal langs tot by die blaas beweeg.
Dit kan bitter seer wees, en jy voel dit gewoonlik aan die kant van die buik of as rugpyn onder die ribbes.
Ander simptome om na uit te kyk is bloed in jou urine en koors.
Sowat 90% van nierstene beweeg sonder hulp deur die liggaam – al wat jy moet doen, is om heelwat water te drink.
As 'n steen vassit, kan ultraklank gebruik word om dit in kleiner stukkies te breek sodat dit kan uitkom wanneer jy urineer.
Groter stene word gewoonlik deur 'n klein sny in die rug verwyder of met ’n endoskoop wat tot in die blaas gevoer word.
Nierstene is algemener in warmer klimate as jy nie genoeg vloeistof inneem nie en jou urine meer gekonsentreerd raak.
Verminder jou risiko
Om daagliks minstens 2 L vloeistof te drink kan jou kans halveer om ’n niersteen te ontwikkel.
Sitrusvrugte verander die suurheid van urine, wat ook jou risiko verminder. Drink dus lemoen-, pomelo- of bosbessiesap.
Jy behoort ook minder sout in te neem en urienweginfeksies vroeg te behandel aangesien dit ook die kans vir ’n niersteen vergroot.
Galstene
Dit is soliede stukkies wat uit cholesterol, gal en kalsiumsout in die galblaas gevorm word.
Die galblaas is 'n klein peervormige orgaan wat regs bo in jou buik sit, net onder die lewer, en gal vervaardig. Gal breek die vette in kos in jou spysverteringstelsel af.
Galstene het gewoonlik 'n deursnee van tussen 5 en 10 mm. Dit is algemener by mense wat ouer as 50 is – en om vroulik of oorgewig te wees of 'n familiegeskiedenis van galstene te hê vergroot jou risiko.
Galstene veroorsaak in 70% van gevalle nie ’n probleem nie.
As dit egter 'n buisie wat van die galblaas af loop, verstop, kan dit tot kwaai buikpyn, mislikheid en naarheid lei. Geelsug kan ook soms 'n aanduiding van galstene wees.
Die klankgolwe van 'n ultraklankmasjien word soms gebruik om galstene op te breek, maar in sommige gevalle moet die stene dalk verwyder word deur middel van sleutelgat-chirurgie of ’n groter snit in die buik.
Verminder jou risiko
Probeer verhoed dat jy in jou middeljare gewig aansit. In 'n Amerikaanse studie is bevind vroue met heelwat vitamien C in hul dieet het minder galblaasprobleme – eet dus sitrusvrugte, groen blaargroente, aarbeie en tamaties.
Eet ook genoeg vesel – die beste bronne hiervan is peulgewasse, heel graansoorte en groente. Studies dui daarop dat vier koppies koffie (nie kafeïenvry nie) per dag die risiko vir galstene vir vroue verminder.
Speekselstene
Speekselstene kom by sowat een uit 100 mense voor en ontstaan in die speekselkliere.
Dit bestaan uit verharde kalsium en soute wat die buisies rondom die kaak, kant van die gesig of onder die tong verstop. Dit kom algemener voor as jy gedehidreer is en jou speeksel te dik word.
Tekens van speekselstene sluit in: ongemak wanneer jy jou mond oopmaak, swelsel rondom die kaak wanneer jy eet, rooiheid en koors.
Speekselstene kan tot 'n halwe sentimeter in deursnee wees en word gewoonlik met 'n x-straal, ultraklank of magnetieseresonansiebeelding gediagnoseer.
Klein steentjies kan tot in die mond uitkom sonder dat jy dit voel. Groter stene moet dalk uitgesny word, of ’n kamera word met behulp van ’n endoskopie in die speekselbuisie gesit om dit te rek en die steen te verwyder.
Verminder jou risiko
Drink water om jou speeksel dun te hou.
Suig aan suur kosse soos suurlemoenlekkers om die speekselvloei te verhoog en die buisies oop te hou.
Borsel jou tande en vlos om enige bakterieë te verwyder.
Mangelstene
Hierdie harde klontjies ontstaan in die mangels. Dis gewoonlik tussen 1 en 2 mm in deursnee en gemaak van kalsium of swamme.
Tekens sluit in 'n asem wat sleg ruik, 'n irriterende hoes, 'n slegte smaak in jou mond en die gevoel dat iets agterin jou keel vassit. ’n Operasie is dalk nodig om dit te verwyder. Verminder jou risiko deur goeie mondhigiëne toe te pas en met warm soutwater te gorrel.
Blaasstene
Stene in die blaas ontstaan uit minerale in die urine wat hard word wanneer die blaas nie heeltemal leeggemaak word nie.
Tekens sluit in buikpyn, bloed in die urine en pyn in die penis of testikels.
Blaasstene kan uitgewerk word deur te urineer as jy heelwat water drink, maar in sommige gevalle sal laser- of ultraklankbehandeling dalk nodig wees om die stene op te breek en uit te spoel.
Chirurgie is dalk nodig as die stene te groot of hard is om op te breek.
- Kopie: bauersyndication.com.au/magazinefeatures.co.za