book-icon Uitgawe 2 Desember 2021

Wat moet ek drink as ek nie gewig wil optel nie?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jy sal op jou rug val as jy weet presies hoeveel kilojoules jy per dag inkry net deur wat jy drink. Bekyk ons uiteensetting en kies jou drankies dié vakansie slimmer.
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Die somervakansie is om die draai – en met groot Kersetes, luilekker laatontbyte en roomys op die spyskaart is dit maklik om in dié tyd ’n bietjie gewig aan te sit. Maar die grootste sondaar is dalk nie dit wat op jou bord is nie, maar eerder dit waarmee jy jou dors les.

“Een van die grootste redes vir die toenemende voorkoms van vetsug is dat ons allerhande drankies pleks van water drink,” sê Pippa Mullins, ’n dieetkundige van Johannesburg.

Dink ’n bietjie oor wat jy drink – feitlik alles is óf met suiker versoet (koeldrank, vrugteskommels, vrugtesappe, warm­sjokolade, gegeurde water) óf dit het bygevoegde kilojoules in die vorm van verromer of volroommelk (koffie, warmsjokolade).

“Daarby kies ons nie net ál meer drankies met ál meer kilojoules nie; ons drink ook meer daarvan. So word die meeste koue drankies in bottels van 500 ml verkoop, en koffierestaurante bied ekstragroot koffie aan,” sê Pippa.

WAT BEHOORT EK TE DRINK?

Water kry sonder twyfel die eerste prys. Dis wat almal gedrink het voor mense die menigte drankies uitgevind het waarmee ons ons vandag bederf.

Omdat water geen kilojoules bevat nie, is dit ideaal wanneer jy jou gewig dophou. Dit bevat ook minerale soos fluoried, magnesium en kalsium, afhangend van die waterbron.

Infografika: Huisgenoot. Foto's: Gallo Images/Gett
Infografika: Huisgenoot. Foto's: Gallo Images/Getty Images

“Ons liggaam is ontwerp om te drink wanneer hy dors is, maar deesdae speel die dorsmeganisme ’n kleiner rol in die regulering van hidrasie,” sê Pippa.

Ons drink eerder vir smaak (soos gaskoeldrank en sap), stimulasie (soos koffie), beloning (soos ’n melkskommel) en as deel van so­­sialisering (soos wyn).

BETER KEUSES

Les jou dors liewer hiermee:

  • Water.
  • Kafeïenvrye kruietee of rooibostee. Dit hou die liggaam gehidreer sonder dat dit gesondheidsrisiko’s inhou.
  • Vetvrye of laevetmelk in warm drankies. Versoet melk met kakaopoeier of vanieljegeursel. (Afgeroomde melk bevat 365 kJ teenoor volroommelk se 643 kJ per 250 ml.)
  • Drankies met geen of min kilojoules, soos laekalorie-aanmaakkoeldrank.
  • Swart, onversoete koffie. Dit bevat geen kilojoules nie en is met antioksidante gelaai.

NOG WENKE OOR DRANKIES

Pippa stel voor jy speen jou van warm drankies wat met suiker versoet is – suiker bevat amper 70 kJ per teelepel.

Wees versigtig vir drankies wat daarop aanspraak maak dat dit suiker- of vetvry is. As die vetinhoud verminder word, word die suikerinhoud dikwels verhoog en andersom. Dis om vir die verlies aan smaak te vergoed. Kyk ook na die kilojoulewaarde.

Hoe soeter ’n drankie is, hoe meer kilo­joules bevat dit waarskynlik.

SONDE MET ALKOHOL

Die drink van alkoholdrankies is ’n gewoonteoortreding wat kilojoules betref. Vir elke gram suiwer alkohol (oftewel etanol) neem jy 29 kJ in. Hoe sterker die drank, hoe hoër die kilojouletelling – en dis nog voor jy ’n suikermengsel of gaskoeldrank byvoeg.

Teen 29 kJ per gram voorsien suiwer alkohol net minder as twee keer die hoeveelheid kilojoules per gram as koolhidrate (teen 16 kJ per gram) of proteïen, wat beteken dit maak byna twee keer so vet.

Infografika: Huisgenoot
Infografika: Huisgenoot

Daarby verskaf dit geen energie of voedingstowwe nie. Alkoholiese drankies soos wyn en bier bevat alkohol sowel as kool­hidrate, en likeur bevat suiker en room, sê Pippa.

Om een bier per aand te drink sal 3 885 kJ per week (sowat 13 snye bruinbrood) by jou inname voeg. “Daar is nie so iets soos ‘vry’ alkoholiese dranke nie, maar jy kan die kilojoules verminder,” sê sy.

SÓ KAN JY SLIM SLUK

  • Wees bewus van wat jy drink en drink minder op ’n slag.
  • Drink terselfdertyd water sodat jy langer aan die alkoholdrankie drink.
  • Voeg ys by, wat jou drankie sal verdun namate die ys smelt.
  • Vermy southappies, wat jou waarskynlik net dorser sal maak.
  • Kies klein glasies.
  • Voeg dieetopsies by jou drankie. Die bestes is water en sodawater.
  • Vermy skemerkelkies. ’n Groot Mai Tai kan byvoorbeeld 1 659 kJ bevat, wat gelyk is aan ses gewone snye bruinbrood.
  • Kies drankies wat min alkohol en suiker bevat, soos witwyn met sodawater, vonkelwyn, wodka met dieetkoeldrank gemeng, en ligte biere en siderdrankies.

KOEBAAI, KILO'S

Wil jy gewig afskud en keer dat daardie lastige ekstra kilo’s ná ’n paar maande terugkeer? Doen dit op ’n volhou­bare manier wat nie soos straf sal voel nie!

Huisgenoot se nuwe tyd­skrif Koebaai, kilo’s! bied al die raad, wenke  en inligting wat jy benodig om te verslank op ’n manier wat ’n durende verskil sal maak. Kies tussen agt volledige eetplanne, ’n drafplan en 40 oefeninge wat jy tuis kan doen, en kry raad vir al daardie struikelblokke op jou gesondheidsreis.

Koebaai, kilo's is beskikbaar by Huisgenoot se aan
Koebaai, kilo's is beskikbaar by Huisgenoot se aanlynwinkel.
  • Die tydskrif is nou beskikbaar in uit­gesoekte winkels, of bestel dit deur ’n e-pos te stuur na koop@huisgenoot.com, dan stuur ons dit vir jou. Dis nét wat jy benodig om gewig vir die somer af te skud – en om daardie gewig dan ook af te hou!
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees