Matrieks: Vyf stappe om vir die finale eksamen voor te berei

akkreditasie
Vir vanjaar se matrieks lê daar een van die moeilikste en waarskynlik een van die belangrikste tye van hul lewe voor – die tyd voor hul eindeksamen.

In hierdie laaste paar weke is dit belangrik dat leerders ’n stewige strategie het om hulle vir die grootste toets van hul skoolloopbaan te help voorberei, wat hulle hul beste sal help lewer, sê dr. Felicity Coughlan.

Dr. Coughlan is die direkteur van die Onafhanklike Instituut vir Opvoeding en sê ’n plan laat leerders op die inhoud van hul werk fokus, pleks van die meganika van die werk onder die knie kry.

“Dit is in hierdie stadium so belangrik om jou gedagtes en program skoon te kry van enige kwessies wat jou aandag kan aftrek,” het sy gesê.

“Verban uitstellery onmiddellik en maak gebruik van elke beskikbare uur. Aan die einde van hierdie paar weke se voorbereiding sal jy daarvoor dankbaar wees wanneer jy kalm en goed voorberei by die eksamenlokaal instap.”

1 ORGANISEER: Jouself, jou tyd en jou werk. Dit sal jou angs help verlig en jou studie help wanneer jou leeromgewing netjies is en jy ’n duidelike plan het vir wat jy elke dag moet studeer, asook die relevante materiaal byderhand het.

2 BEREI VOOR: Kyk na al jou vakke en alles wat jy moet leer. Maak seker jy het niks vergeet nie.

3 BEPLAN: Skep ’n studierooster wat tyd inruim vir ’n tweede hersiening. Jou beplanning moet lees sowel as toetse met ou vraestelle en voorbeeldvrae inwerk. Jou moet ook oefen deur vrae te beantwoord en met vriende en familielede oor jou werk te praat. Jy sal eers kan bepaal of jy genoeg weet wanneer jy probeer verduidelik het wat jy weet!

4 KYK NA JOU GESONDHEID EN WELSTAND: Maak seker jy eet, slaap en oefen genoeg, maar moet dit ook nie gebruik as verskoning om uit te stel nie.

5 FOKUS: Jy moet al jou energie en aandag wy aan een van die belangrikste eksamens wat jy ooit sal aflê. Daar sal agterna oorgenoeg tyd wees vir partytjie hou en ontspan.

Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees