Die wêreld om ons kan verwarrend en oorweldigend wees – en as ouer is dit jou taak om jou kind te leer om by dié wêreld aan te pas en eindelik te floreer. Maar vir party kinders is dit moeiliker as vir ander: ’n Harde geluid, helder lig of kos met ’n vreemde tekstuur is al wat nodig is vir ’n dramatiese uitbarsting.
As dit vir jou bekend klink, is jou kind dalk sensories oorsensitief. Sensoriese sensitiwiteit – party kinders is ook ondersensitief – raak gemiddeld 10-15% van kinders. Wat behels dit, hoe sien jy dit raak en hoe hanteer jy dit? Kenners gee raad.
Ons brein en senustelsel kry heeltyd inligting oor die wêreld om ons deur middel van ons sintuie. Ons brein interpreteer dié inligting en besluit hoe om dit te hanteer. Maar hierdie interpretasie – wat vir die meeste mense vanself gebeur – is nie vir almal so maklik nie. Party is meer of minder sensitief vir die inligting wat hulle van hul sintuie kry.