10 groot modetreffers en -flaters by die Met Gala 2021

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Die sterre se modekeuses by vanjaar se ikoniese Met Gala-modegeleentheid in New York het soos oudergewoonte nie teleurgestel nie! Daar was ook ’n paar wat die pot heeltemal mis gesit het. Hier is die vyf beste en vyf minder goeie uitrustings waaroor almal aanlyn gons.

Die Met Gala is die jaarlikse fondsinsameling vir die Metropolitan Museum of Art Costume Institute en is die glansrykste aand op New York se modekalender. 

Dit word jaarliks op die eerste Maandag in die maand van Mei gehou, maar is vanjaar uitgestel weens die covid-19-pandemie. Dit het onlangs op 13 September in die middel van die besigste tyd op die Amerikaanse modekalender plaasgevind. 

Hollywood se glansmense was die afgelope paar dae omtrent bedrywig. Eers het hulle toegesak op die New Yorkse Modeweek vanaf 8 tot 12 September, en op 13 September het hulle gestroom na die Met Gala en die VMA-musiektoekennings wat op dieselfde dag plaasgevind het. 

Die tema van vanjaar se groot aand was Met Gala, In America: A Lexicon Of Fashion. En die sterre het omtrent uitgehaal en gewys. Hul keuses het ook die internet op hol gehad.

Die werklikheidster en sakevrou Kim Kardashian het omtrent soos ’n skaduwee gelyk in haar swart skepping, terwyl die sangeres Rihanna en haar liefie, die rapper A$AP Rocky, kompleet gelyk het of hulle in komberse toegewikkel was. 

Hier is vyf van die mooiste en vyf van die, wel, minder mooi uitrustings van die grootste modeaand in die wêreld.

Top-5-modetreffers

1. Kendall Jenner

Kendall Jenner
Kendall Jenner. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 25-jarige model en naasjongste van die Kardashian-Jenner-susters het beslis die opdrag verstaan en dit voltooi. Kendall lyk soos ’n droom in hierdie skepping deur Givenchy. Die rok was ook ’n ode aan die ikoniese aktrise Audrey Hepburn.

Die stilis Dani Michelle, wat verantwoordelik was vir Kendall se voorkoms, het inspirasie geput uit Audrey se uitrusting op die stel van die fliek My Fair Lady in 1963. 

2. Normani

Normani.
Normani. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 25-jarige sangeres het omtrent soos ’n Disneyprinses gelyk in 'n glansryke aandrok deur Valentino.

Sy het haar voorkoms met swierige juwele deur Lorraine Schwartz afgerond. En dit was 'n modewenner.

3. Emily Blunt

Emily Blunt.
Emily Blunt. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Britse aktrise (38) van The Devil Wears Prada-faam het haar beste modevoet voorgesit en behoorlik op die wit tapyt gesweef in dié Miu Miu-skepping wat herinner het aan die Statue of Liberty.

Haar minimalistiese grimering en sjiek poniestert het dié blinkerbelaaide voorkoms perfek afgerond.  

4. Iman 

Iman.
Iman. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die supermodel (66) het die kollig gesteel in 'n skepping deur Harris Reed, wat haar soos 'n koningin laat lyk het.

Die modeontwerper, wat saam met Dolce & Gabbana gewerk het, het aan Vogue verklap dat dit 400 ure geneem het om die goue detail en die Vivienne H. Lake kopstuk met die hand op die uitrusting te voltooi. 

5. Rita Ora 

Rita Ora.
Rita Ora. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Britse sangeres (30) het by die 2019 Met Gala soos ’n droom gelyk in ’n goue skepping deur die Amerikaanse ontwerper Marc Jacobs.

Vanjaar het sy weereens die koppe laat draai in hierdie skitterende tweestuk deur Prada. Dis tydloos! 

Top-5-stylflaters

1. Kim Kardashian

Kim Kardashian.
Kim Kardashian. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kim Kardashian (40) neem haar modekeuses baie ernstig op en sal selfs ’n paar ribbes beskadig om op haar beste op die rooitapyt te lyk, maar haar keuse by vanjaar se Met Gala het almal verstom. Kim het haar verskyning gemaak in ’n swart skaduwee-sjiek skepping deur Balenciaga.

Kim, wat gewoonlik nie skroom om haar lyf te wys nie, was van kop tot toon in swart bedek. Dit gons behoorlik in die sosiale media oor hierdie vreemde uitrusting. Daar is selfs reeds 'n paar memes wat die ronde doen.

2. Rihanna en A$ap Rocky

Rihanna en A$AP Rocky.
Rihanna en A$AP Rocky. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die miljardêr-sangeres Rihanna (33) en die man in haar lewe, die rapper A$AP Rocky (32), het nie net hul aanhangers laat gons omdat dit hul eerste verskyning op die rooitapyt was nie.

Dit gons ook oor hul modekeuses. A$AP Rocky was in ’n kombers toegedraai, terwyl Rihanna ’n interessante uitrusting deur Balenciaga gedra het met ’n kopstuk deur Bulgari, wat met diamante van meer as 267 karaat afgerond is.  

Haar grimering is absoluut beeldskoon, maar die rok? Dis nou nie heeltemal na almal se smaak nie. 

3. Whoopi Goldberg

Whoopi Goldberg.
Whoopi Goldberg. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Sister Act-aktrise (65) het seker gemaak niemand kyk haar mis in dié pers seslaag frille-belaaide aandrok nie. Die skepping is spesiaal vir Whoopi ontwerp deur Pierpaolo Piccioli van die Valentino Haute Couture-modehuis. 

4. Ciara

Ciara.
Ciara. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die "Level Up"-sangeres (35) het uitgestaan in dié lemmetjiegroen blinkerbelaaide aandrok deur ontwerper Peter Dundas. 

Ciara wat getroud is met die Amerikaanse voetbalspeler Russell Wilson het inspirasie geput uit sy voetbaltrui vir die ontwerp. 

5. Kid Cudi

Kid Cudi.
Kid Cudi. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die "Day and Night"-sanger (37) se stylkeuse van ’n deursigtige broek deur Louis Vuitton en blou trui was omtrent emo-sjiek. Hoewel die Met Gala oop is vir enige soort styl op dié aand, is dít wat Kid Cudi gekies het vreemd om op dié glansryke geleentheid te dra. 

Daar gaan vir ’n lang tyd oor dié modes gepraat of gelag word. Ons kan nie wag om te sien wat bekendes volgende jaar uit hul ontwerpers se mode-arsenaal dra nie! 

Bronne: Vogue, NYTimes.com, USMagazine.com, Harpersbazaar.com, MarieClaire.com, EOnline.com, NZherald.co.nz, Vogue.com, NYPost.com, Elle.com, DailyMail.co.uk, NYPost.com, Vogue.com 

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees