Deel

10 van HG se top-skoonheidswenke vir die winter

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dis winter en met dié dat die land onder 'n strenger inperking geplaas is, is dit dalk nou die tyd om jou winterskoonheidsroetine tuis te hersien. Ons deel 10 van ons gunsteling-skoonheidswenke om jou hare, vel, lippe, hande en voete teen die beskadigende koue te beskerm.

1. Hare

Skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Droogheid

Droogheid in die winter kan jou hare bros maak en laat breek. Kies ’n matige sjampoe met bevogtigende bestanddele soos heuning, jojoba en aloe vera.

Gebruik olies en maskers wat jou hare soepeler en meer hanteerbaar sal maak. ’n Haarmasker twee keer per maand sal ook help om jou hare te bevogtig.

  • Los die haardroër 

In die winter gryp ons meer gereeld na die haardroër. Beperk hitteskade deur jou hare eers met ’n handdoek so droog moontlik te maak. So verkort jy jou droogmaaktyd. Gebruik ook altyd ’n produk wat jou hare teen hitte beskerm wanneer jy dit stileer.

2. Vel

Skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Bevogtig

Ons vel kry dikwels aan die begin van die koue seisoen ’n bietjie swaar en kan droog, vlekkerig en selfs skilferig raak. Die goue reël van velsorg – bevog, bevog, bevog – is nou veral belangrik. Maar jy moet weet watter soort bevogtiging die beste vir jou vel is. En dit is noodsaaklik om aan die vel aan jou lyf sowel as dié aan jou gesig aandag te gee.

  • Versorg jou gesig

Jou gesigvel is dunner as dié aan die res van jou lyf; daarom toon dit die eerste tekens van veroudering. Dis ook hoekom jy jou gesig anders as jou lyf bevog.

Gesigprodukte is meer gespesialiseerd en word in lae en stappe aangewend, terwyl lyfprodukte ’n alles-in-een-aanwending is.  

3. Lippe

Skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Veelsydige serp

Koue lug kan veroorsaak dat jou lippe uitdroog. Om jou lippe te beskerm kan jy jou mond met ’n serp bedek as jy die koue buitelug aandurf.

  • Los daai droë velletjies

Al is die versoeking hoe groot, moenie daai velletjies van jou lippe aftrek nie. Deur die dooie, droë vel van jou lippe af te trek, kan dit veroorsaak dat jou lippe begin bloei en dit kan lei tot seer, pynlike lippe.

Neem lipsalf en ’n ou tandeborsel en skrop liggies die dooie vel van jou lippe af. Jy kan ook suiker met olyfolie meng en liggies oor jou lippe vryf. Dit sal jou lippe afskilfer, maar die olyfolie sal ook sorg vir bevogtiging. 

4. Hande

skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Droë hande

Om handreiniger te gebruik is onvermydelik, en as jy jou hande gereeld was kan dit erg uitdroog. In die winter maak die koue jou hande nog droër want die koue droog ons vel uit.

Dit is dus belangrik om jou hande te pamperlang. Bevog jou hande ná elke was en gebruik gereeld handmaskers.

  • Versorg jou naelvliese

Vryf gereeld naelvliesolie aan jou naelvliese en -beddens.

5. Voete

skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Hou jou voete warm

Die koue dae is hier en dis tyd om jou voete lekker knus en warm te hou. Dis wel belangrik om te onthou dat hoewel jy nie meer sandale dra nie, jy wel jou voete in die winter ook moet versorg.

Om jou voete te week kan wonders doen, veral as jy gereeld pyn in jou hakke of selfs algehele ongemak in jou voete ervaar. Week jou voete in Engelse sout en warm water. Maak seker dat die water nie te warm is nie, veral as jou voete baie koud is. 

Engelse sout verrig wonders vir moeë voete en beveg terselfdertyd ook infeksies.

  • Hanteer so gekraakte hakke en droë vel

Die lug in die winter is droog en dít gekombineer met gereelde verhitting in die huis kan lei tot gekraakte hakke en droë vel. Die splete wat op jou hakke ontwikkel as gevolg van droogheid kan in uiterse gevalle tot pyn, fungi of infeksie lei.

Bevog jou voete deur ’n goeie bevogtigende voetroom te gebruik ná jy uit die stort of bad klim. Vermy dit om te veel room tussen jou tone aan te wend. Dit kan nattigheid veroorsaak wat tot infeksie kan lei.

Ons hoop ons blitsgids vir jou winterskoonheidsroetine help jou deur die koue! 

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

8 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees