Plastiek en toksiese chemikalieë is van die grootste euwels in skoonheidsprodukte, maar dit hoef nie langer ’n probleem te wees nie.
Om mee te begin, is dit belangrik om na die hasie-logo op produkte te kyk wat aandui dat dit nie op diere getoets is nie. Kyk ook uit vir die herbenut-logo om te verseker dat produkte herwinbaar is.
1. Dís hoe jy slim grimering verwyder
Gebruik ’n mikrovesel-gesigwaslap en water in plaas van grimeringverwyderingsmiddel en -lappies of watte. Dié metode mag dalk 'n bietjie langer neem, maar bevat geen skadelike chemikalieë of onnodige afvalmateriale nie.
2. Kies die organiese opsie
Gooi uit daardie skadelike gesigwasprodukte en stel jou vel en die omgewing voor aan organiese velprodukte. Volgens Business Insider is dié produkte paraben-vry, sulfaat-vry en ook nie op diere getoets nie.
3. Seep
Moenie langer jou tyd mors met sjampoe of velroom wat in plastiekbottels verpak is nie. Die produkte is deesdae ook in die vorm van seep beskikbaar en is meer omgewingsvriendelik. Volgens Glamour hou dié seep-alternatief twee tot vyf keer langer as sy teenparty, los heeltemal op en kom ook in eko-vriendelike verpakking.
4. Bly weg van plastiekskeerlemmetjies
Gooi weg daai plastiekskeerlemmetjies en skaf ’n vlekvryestaalskeerlemmetjie aan. Volgens Mindbodygreen.com hou dié lemmetjies langer en is dit ook hernubaar. Dus spaar jy geld en het jy so geen negatiewe impak op die planeet nie.
5. Weg met parfuum
As jy vasklou aan die heerlike geur van daardie peperduur parfuum, is dit nou tyd om dit te laat gaan. Gebruik geurige, lekkerruik-olies in plaas van parfuum. Volgens Mindbodygreen.com kan jy selfs jou eie parfuum maak deur ’n paar druppels van jou gunstelingolie met gelyke hoeveelhede water en vodka te meng.
6. Maak jou eie sweetweerder
Vir ’n omgewingsvriedelike alternatief vir sweetweerder is koeksoda perfek. Maak ’n mengsel van kokosneutolie en koeksoda en wend direk aan jou onderarms aan. Dit hou ongewenste reuke vir lank weg en is ’n bydrae by tot ’n gesonder planeet.
7. Hou op baklei oor daardie tandepastabuisie
Kry julle stry oor wie die tandepastabuisie se doppie af vergeet het of wie die tandepasta verkeerd uitdruk? Wel, moeder aarde kla ook – oor daardie plastiekbuisie waarin dit verpak word! Volgens TeenVogue kan jy jou eie tandepasta maak deur koeksoda, kokosneutolie, pepermentolie en stevia saam te meng.
8. Dubbel vreugde
Minder produkte beteken minder skadelike verpakking, wat ook beteken minder gemors. Volgens Littlegreendot.com, is dit slim om vir 2-in-1-produkte uit te kyk. Produkte soos lipstiffie wat ook as blosser gebruik kan word, is ’n slim alternatief. Byewas-lipsalf kan ook gebruik word om naelvliesies te bevogtig en om fyn hartjies plat te maak. So maklik soos dit!
9. Wees slim met grimeerborsels
Grimeerborsels speel ’n baie groot rol in skoonheid, dus is dit belangrik om borsels wat van bamboes gemaak is aan te skaf. Dit is omgewingsvriendelik en die natuurlike kleur is perfek vir enige grimeersakkie.
10. Mooier, gesonder naels
Naellak kan baie toksiese middels bevat, maar volgens InStyle.com is daar 'n perfekte oplossing vir eko-vriendelike naellak. Daar is nou 'n waterbasis-naellak op die rakke beskikbaar. Dié naellak kan jy sommer net afskilfer as jy moeg is van die kleur, en alkoholiese produkte soos asetoon is nie nodig om dit te verwyder nie.
Bronne: Business Insider, Peacewiththewild, Glamour, Mindbodygreen.com, TeenVogue.com, InSyle.com