3 stappe na die perfekte selfdoenmanikuur – HG wys jou hoe

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die inperking is verslap en skoonheidsalonne is eindelik oop.

Dalk is jy te senuagtig om ’n professionele manikuur te kry omdat jy nog ligloop vir die virus.

Of straks het jy net nie genoeg geld of tyd nie. Die goeie nuus is daar is ’n paar eenvoudige riglyne wat jy kan volg om jou vingernaels dié winter self gesond, glansend en vars te hou.   

Kies natuurlik

Die gewilde Franse manikuur en lang 1980’s-naels wat soos dolke lyk, is uit die mode volgens die Australiese manikuris Jessica Diez. 

“Eers was akrielnaels en breë wit punte gewild. Deesdae wil vroue ’n praktiese en bekostigbare naelsorg-roetine hê wat in hul besige leefstyl inpas,” verduidelik sy.

“Vroue kies nou ’n korter, meer hanteerbare naelvoorkoms in neutrale skakerings wat ’n alles-­in-een-behandeling bied en produkte wat nie maklik afsplinter nie.” 

Die Australiese Sally Hansen-naelkenner Alison Bowhill-Hayes stem saam.

“Die Franse manikuur is so gister. Jy het werklik lang naels en ’n goeie naelbed nodig om dit reg te kry, en vir die meeste werkende vroue wat voortdurend te min ure in die dag het, is dit bloot te moeilik om in stand te hou.”

manikuur
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kry kleur

Kies ’n vleiende skakering wat jou velkleur komplementeer en vir die besondere geleent-heid geskik is. “Kies skakerings van perske as jy ’n olyfkleurige vel het en iets pienkerigs by ’n bleek vel,” sê Alison. 

“Pastelkleurige naels is nou ’n groot trend en ’n besliste staatmaker vir die winter. My keuses is appelkoos, laventel en mentgroen. 

“Bleek is steeds ’n gewilde keuse. Dié seisoen is daar ’n neiging tot ’n elegante maklik-om-te-dra-manikuur. ’n Groot bonus is dit verg min instandhouding, want kepies is nie so opvallend nie.”

kleur naels
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Versorg jou naelvliese

“Die meeste van ons besef nie hoe belangrik gesonde naelvliese vir gesonde naels is nie,” sê Alison. 

“Naelvliese speel om ’n aantal redes ’n groot rol. Die naelvlies verbind jou nael met die vel. Dis ook ’n skans, want dit bedek die selle wat jou naels help groei en bou,” sê sy. 

“Onversorgde naelvliese kan tot ongesonde naels lei en in die ergste geval kan swak naelvliessorg selfs infeksie veroorsaak.”

Soos die meeste manikuriste beveel Jessica aan jy druk die naelvliese terug pleks van om dit te sny. 

“Om naelvliese in die beste toestand te hou, wend ’n paar druppels naelvliesverwyderaar aan en druk die oortollige vel in ’n sagte sirkelbeweging met ’n naelstokkie terug,” is haar raad. 

“Masseer ter afronding naelvliesolie in die naelbed in. Dit help voorkom pynlike hangnaels en sorg vir ’n skoon, gladde oppervlak vir naellak.”

naels
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Verwyder dit reg

Dir korrekte verwydering van naellak is net so belangrik soos naelvoorbereiding. 

“Kies altyd ’n verwyderaar met versterkende of opknappende middels,” beveel Alison aan. 

“As jy heeltyd naellak dra, moet jy probeer om produkte met ’n klein persentasie asetoon te gebruik. Die oorgebruik van naellakverwyderaar dehidreer die naeloppervlak en dit sal afskilfer. Wanneer jy naelkleur verwyder, onthou goedkoop naellakverwyderaar is presies dit en kan aaklige chemikalieë bevat wat naels kan beskadig.” 

tuis manikuur
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Drie stappe na die perfekte selfdoenmanikuur

1. Berei goed voor, vyl en poleer.

2. Moenie kortpaaie vat nie: Wend altyd ’n basislaag, twee lae kleur en ’n bolaag aan,  tensy dit ’n jel is.

3. Gebruik elke aand vitamien E-­olie en bevog jou hande met  ’n goeie beskermroom. 


Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees