Geen spitsverkeer, meer tyd tuis en om in die gemak van jou eie huis te werk het ’n ruk gelede soos ’n droom geklink, maar dis vir die volgende 21 dae die realiteit van baie Suid-Afrikaners.
Hoewel jy heeldag in jou nagklere en pantoffels wil sit as jy van die huis af moet werk, is daar ook die realiteit van vergaderings wat deur video-oproepe plaasvind, en dit verg van jou om beskaafd te lyk. Hier is vyf uitrustings wat gemaklik en perfek is om tuis in te werk.
1. Klassieke hemp
Gedink ’n hemp is net gepas vir die kantoor? Dink weer. Oorgroot hemde is hoogmode, baie gemaklik en perfek vir ’n video-vergadering. Jy kan dit selfs met ’n noupyp-oefenbroek kombineer of as jy verkies, werk jeans net so goed.
2. Neutrale kleure
Neutrale kleure gee ’n natuurlike gevoel van ontspanning en rustigheid en sal nie gou uit die mode gaan nie. Vleeskleurige skakerings is altyd mooi en as dit saam gedra word, is dit sag op die oog. Met kouer dae om die draai, is ’n uitrusting soos hierdie baie gepas.
3. Oulike rok
Hoewel jy nie die huis mag verlaat nie, beteken dit nie dat jy nie ’n romantiese aandjie vir jou en jou liefie kan beplan nie. Hierdie oulike rok is net die uitrusting vir dié geleentheid. Dit werk ook perfek as jy vinnig 'n video-oproep vir werk moet doen.
4. Sjiek
Vir bedrywige ma’s wat tuis is met kinders en steeds ’n dag se werk moet inpas is ’n uitrusting soos hierdie perfek. Dis gemaklik en die boksvormige top is modieus dog gemaklik.
5. Trui
Daar is niks so snoesig en lekker soos ’n warm trui op ’n koel dag nie. Maak nie saak wat jy aan het nie, ’n mooi, lang trui maak alles mooier.
Hoewel jy met Jan Tuisbly se karretjie ry, beteken dit nie dat jy nie steeds jou beste modevoet voor kan sit nie.