Deel

Aletté Winckler se stylgids: Lente/Somer 2017 se top-10 mode-moet-hê’s

akkreditasie
"Dis heerlike lente die winter's verby; almal met grys aan wil ek vermy ..."

Ek kry ná jare die gevoel dat baie mense teen die einde van Augustus rêrig negatief is oor die lewe, die toekoms, en hulself. Maar waarom, wonder ek? Ek dink dis dalk omdat dit vir drie maande donker en koud was.

By baie het dit miskien ook die donkerte en koue in hul hart en siel uitgebring en in ’n stadium is genoeg net genoeg.

September, aan die ander kant, pronk met ’n boodskap van hoop; die uitsien na ’n reënboog van kleure wat binnekort ons bome gaan tooi.

Vir elke stylpersoonlikheid is daar vir seker iets om oor opgewonde te raak en opgewonde te bly

In die Wes-Kaap roep dit solank prentjies van songeel kanolavelde op en in die hele land bring dit die belofte van bloeisels wat vir elke liewe mens die kans gee op ’n nuwe begin om weer te begin ... byna soos Januarie en Maandae …

Hierdie Lente/Somer is ek opgewonde oor al die wonderlike tendense wat aan die modefront floreer. Vir elke stylpersoonlikheid is daar vir seker iets om oor opgewonde te raak en opgewonde te bly … tot volgende winter, maar dis nog lank!

1. Die aap is uit die mou

Almal wat met wakker wenkbroue deur die winkels loop of met vinnige vingers deur Spree se app vlieg, besef nou al dat die MOU seker dié grootste modetendens van die seisoen is.

Hoe groter, hoe wyer, hoe meer pof of hoe meer detail, hoe beter. Maak net seker die mou se fokus wys nie na die breedste deel van jou lyf nie. Dit sal meer klem en fokus op daardie gebied lê, ongeag of dit nou jou borste, middel of heupe is.

Foto: Spree
Foto: Pinterest


2. Blou-en-wit strepies

Die hemele word verteenwoordig met die pragtige tendens van blou-en-wit vertikale strepies. Hoewel die ligter weergawe daarvan seker groter is as die donkerder een, is dié net so gewild. Maak seker dat jy dit in jou kas kry in ’n styl wat ook jou liggaamsvorm vlei.

Foto: Spree

Hierdie styl doen veral wondere vir die A-liggaamstipe wat meer gewig om die heupe dra, want dit verbreed dadelik die skouers en skep so die beeld van ’n X- liggaamstipe, wat die ideale liggaamsvorm is.

Foto: Spree


3. Skouer aan die wiel

Of eerder: skouer áf die wiel! Moulose bloese en rokkies is steeds yslik en ek glo dit is hier om te bly!  Vir my (en my man) is een van die vrou se mooiste eienskappe haar sleutelbene. Met hierdie snit kry elke vrou die geleentheid om daardie pragtige eienskap ten toon te stel.

Beskikbaar by Spree

4. Borduur blomme

Twee elemente wat saam deur die winter tot in die lente gespring het, is borduurwerk en baie blomme! Wie wil nou nie lente met blomme assosieer nie? Die kombinasie van die blou-en-wit strepie met die borduurblomme is ook voor in die koor.

Foto: Spree
Foto: Spree


5. Spesiale silwer

’n Paar jaar gelede het geelgoud uit die niet met ’n slag teruggebons die modewêreld in. Dit was massief. Kort op sy hakke het roosgoud gevolg en vroue regoor die wêreld het ougoud- of witgoudtrouringe verruil vir die ewigheid van roosgoud.

Hierdie seisoen, vriendinne, is silwer weer terug! Hopelik het jy al daardie pragtige silwer/witgoud/platinum-juwele van destyds gehou. Tog is ek baie dankbaar dat dit nie geelgoud of roosgoud vervang nie, maar eerder net nóg ’n opsie word. En met blink, silwer skoene sal jy sommer hoër hoogtes bereik!

Foto: Spree


6. Toiingrige tossels

Iets anders wat dwarsdeur die winter tot in die lente marsjeer het, is die tossel-bykomstigheid. Of dit nou aan jou ore, aan jou skoene, om jou nek of aan jou handsak is, dit is ook eers hier om te bly. Maak net seker dat die tossel nie “verkeerde plekke” beklemtoon nie.

Foto: Spree

Foto: Spree


7. Korrelkleure

Die seisoen se grootste kleure is heldergeel, bloospienk, bottelgroen en kobaltblou

Daar is iets vir ’n gelaat uit elke kleurgroep:

Warm en helder: Heldergeel
Warm en gedemp: Variasies van groen
Koel en lelder: Kobaltblou
Koel en gedemp: Bloospienk

Foto: Spree
Foto: Spree
Foto: Spree
Foto: Spree

8. Prettige patrone

Buiten geborduurde blomme is blompatrone ook uiters gewild hierdie lente.

Foto: Spree
Foto: Spree

Die ander patroon wat reeds verlede somer sy opwagting gemaak het waaroor ek steeds gaande is, is die blaarmotief. Dit is steeds immer(groen)gewild.  Nog ’n patroon wat ons in die winter begin sien het, is die swart-en-wit ruitpatroon.

Dit lyk uiters treffend as jy dit met 'n gewilde effekleur soos geel, rooi, blou of groen kombineer.

9.  Orige oorpak

 

Die dungaree word ook nie net meer in flieks gebruik vir karakters wat woonstelle in New York verf nie! Jy kry dit nou in baie weergawes, maar die een in goeie ou denim bly maar die gewildste.  

Foto: Spree


10. Pantoffelskoene

Ja, jy het reg gehoor! Vir kreatiewe siele is daar dié seisoen skoene wat net soos pantoffels lyk, kompleet met sagte wolle.

Gelukkig is daar ook ander skoeisel-opsies wat dalk meer mense se gemoed (en voet) sal pas. Die aanglipskoen en die espadrille is steeds ’n moet-hê vir elke kas.

Foto: Spree


Dalk kan jy nie nóú baie geld uitgee om hierdie elemente deel van jou klerekas te maak nie, maar jy kan steeds met ’n huppel in jou stap opstaan, jou mond met helder lipstif inkleur en die lewe waterpas in die oë kyk: Daar is hierdie lente nie ’n mooier blom as ’n vrou met selfvertroue nie!

Save
heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

8 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees