Blinker-bonanza – HG kies die week se 5 beste uitrustings

akkreditasie
Bekendes hier en oorsee het die afgelope week 'n bedrywige sosiale program gehad en soos net die sterre kan, het hulle beeldskoon gelyk. Van Beyoncé op die première van Lion King tot The Voice se eindronde; hier is ons gunsteling-styloomblikke van die week.

1. Beyoncé

Of die sangeres se aanhangers nou gal braak oor haar karakter, Nala, in die fliek of nie; sy gee nie om nie. Koningin Bey het vandeesweek lieflik gelyk toe sy en haar gesin by die première van die nuwe Lion King opdaag.

'n Mens kan sien hoekom manlief, die rapper Jay-Z, nie sy oë van sy vrou kon afhou nie; die Halo-sangeres het behoorlik geskitter in die vloerlengte skepping deur Alexander McQueen. Asemrowend! 

Beyonce
Foto: Instagram/@beyonce

2. Kiara Kittner

Bekendes het verlede naweek vir die jaarlikse Durban July-perdewedren byeengekom en die uitrustings was van die boonste rak. Dié blogger en wenner van een van Cosmopolitan se Influencer-pryse het pragtig gelyk.

Dié klassieke rok het maksimum impak gemaak en bewys minimalisme wen. Die uitrusting was Kate Middleton-sjiek. 

Kiara Kittner
Foto: Instagram/@by_kiara

3. Lira

Godin in goud. Die sangeres en The Voice SA-beoordelaar het pragtig gelyk in ’n blink goud-en-swart nommertjie op vanjaar se finale ronde van dié sangkompetisie. Die rok was sexy en niemand kon daardie hakskoene miskyk nie. 

Lira
Foto: Instagram/@miss_lira

4. Leandie du Randt

Die aktrise kan net nie ’n voet verkeerd sit wat styl en mode betref nie. By ’n foto wat sy onlangs in die sosiale media gedeel het, het sy gesê sy het 'n bietjie by die Limpoporivier uitgespan. Kyk net daardie oulike hemp. Dierepatrone is hoogmode en ons is gaande daaroor.

Leandie D
Foto: Instagram/@leandiedurandt

5. Michelle Williams 

Die voormalige lid van Destiny’s Child het ook op die Lion King-première uitgeblink. Die sangeres, wat nou op gospelmusiek fokus, het mooi gelyk in dié silwer skepping deur Atelier Zuhra. 


Michelle Williamsv
Foto: Instagram/@michellewilliams
View this post on Instagram

#TheLionKing

A post shared by Michelle Williams (@michellewilliams) on

Dit was moeilik om te kies wie vandeesweek bobaas was aan die modefront en ons kan skaars wag om te sien wie volgende week die kollig gaan steel. 

Ekstra bron: Independent.co.uk 

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees