1. Priyanka Chopra Jonas
Die aktrise, model en vrou van Nick Jonas van die Jonas Brothers het die Beautycon-fees in Los Angeles bygewoon en behoorlik die aandag getrek. Priyanka het waaghalsig maar smaakvol gelyk in ’n spierwit broekpak en deurskynende swart bloes.
En 'n mens kan beswaarlik al die bling aan haar vingers miskyk!
2. Boitumelo Thulo (Boity)
Die aktrise, sangeres en TV-aanbieder is altyd in die kol wat mode betref. Boity het vandeesweek dié vuurwarm foto op Instagram met haar 2,9 miljoen volgelinge gedeel. Die pienk pak het die oog gevang.
3. Camila Cabello
Kyk net daardie pragtige rok! Die sangeres en voormalige lid van die sanggroep Fifth Harmony lyk beeldskoon in dié kort, blink nommertjie. Ons wonder wat haar liefde, die sanger Shawn Mendes, oor dié uitrusting te sê het.
4. Kim Engelbrecht
Ons weet nie of dit haar welige bos hare of daardie oulike broek is wat ons aandag getrek het nie; die aktrise straal behoorlik. Die grimering by dié uitrusting bring haar natuurlike skoonheid na vore.
5. Kim Kardashian
Kim, is dit jy? Die werklikheidster lyk soos iets uit ’n wetenskapfiksiefliek - en 'n mens voel positief daaroor. Kim het Donderdag haar mylpaal van 146 miljoen volgelinge op Instagram gedeel. En hulle was mal oor die foto. Die sonbril het die uitrusting dramaties afgerond.
Ons kan skaars wag om te sien wie volgende week die koppe gaan laat draai.