Winter is die een seisoen van die jaar waar jou lippe spesiale sorg en aandag nodig het. Hoewel daar verskeie oorsake is, is droë lug die mees algemene rede, en die ongemak van stywe, geskeurde lippe geen pret nie.
Hier is agt maklike wenke om jou lippe in die winter te versorg.
1. Moenie jou lippe lek nie
Is jy geneig om jou lippe onbewustelik nat te lek? Dis dalk ’n goeie idee om van daardie gewoonte af te sien. Wanneer die speeksel jou lippe raak, droog dit vinnig op en laat jou lippe droër as wat dit was, wat kan lei tot skurfheid en skeure.
2. Vermy gegeurde lipsalf
Ons weet daardie gegeurde lipsalf is baie aantreklik, maar dit mag dalk nie die beste wees vir jou lippe nie. Die oudste truuk in die boek, petroleumjellie, is die beste om lippe vogtig te hou.
3. Drink water
Dis belangrik om jou liggaam van binne en buite te bevog. Dehidrasie kan lei tot droë, gebarste lippe, dus is dit belangrik om genoeg vloeistowwe in te neem.
4. Skilfer daai lippe af
Al is die versoeking hoe groot, moenie daai velletjies van jou lippe aftrek nie. Deur die dooie, droë vel van jou lippe af te trek, kan dit veroorsaak dat jou lippe begin bloei en dit kan lei tot seer, pynlike lippe.
Neem lipsalf en ’n ou tandeborsel en skrop liggies die dooie vel van jou lippe af. Jy kan ook suiker met olyfolie meng en liggies oor jou lippe vryf. Dit sal jou lippe afskilfer, maar die olyfolie sal ook sorg vir bevogtiging.
5. Kies die regte lipstiffie
Lipstiffie is geneig om jou lippe uit te droog, dus is dit belangrik om seker te maak jou lipstiffie bevat die regte voedingstowwe vir jou lippe.
Vermy mat tekstuur lipstiffie. As jy dit verkies, maak seker jy sit eers ’n lagie lipsalf, petroleumjellie of bevogtiger aan onder die lipstiffie. Lipstiffie wat Shea-botter en vitamien E bevat word aanbeveel vir pragtige, gesonde lippe.
6. Vermy dié kosse
Souterige- en sterkgegeurde kosse moet vermy word as jy met winterlippe sukkel. Die souterigheid in die kos dehidreer jou lippe en sterk speserye kan lei tot irritasie van uitgedroogde of gekraakte lippe.
As jy met seer lippe worstel, is dit belangrik om sitrusvrugte soos suurlemoene, lemoene en pomelo’s te vermy, asook lemoensap.
7. Trek daai serpie nader
Koue lug kan veroorsaak dat jou lippe uitdroog. Om jou lippe te beskerm kan jy jou mond met ’n serp bedek as jy die koue buitelug aandurf.
8. Haal reg asem
Om in die koue lug deur jou mond asem te haal, kan jou lippe uitdroog. Vermy droë lippe deur deur jou neus asem te haal.
Bronne: Healthline.com, Mayoclinic.org, Stylecaster.com