book-icon Uitgawe 16 Junie 2022

Dis waarom dit belangrik is vir mans om hul hande en voete te versorg

akkreditasie
Lees hoekom dit deel van elke man se roetine moet wees om jou beste voetjie (en hand) voor te sit.
Aantreklike man
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons hande en voete werk baie hard vir ons. Dis hoekom hulle ekstra BBP-behandeling verdien – en dit geld vir mans ook. Manikure en pedikure is vir almal voordelig. 

Dit verminder stres en angs en verseker dat jou naels, hande en voete gesond bly. Of jy nou jouself met ’n spoggerige salonbehandeling bederf of sommer net tuis pamperlang, daar is geen twyfel dat gereelde manikure en pedikure jou hande en voete in topvorm sal hou en sal klaarspeel met vele probleme wat kan opduik nie.

Krap jy kop oor waar om te begin? Ons verduidelik jou hoe.

Sit ’n handjie by

’n Manikuur behels die versagting van die vel aan die hande, die afvyl van die naels en die vorming van die naelvlies. Dit klink dalk na baie werk as dit iets nuuts is vir jou, maar die proses is taamlik eenvoudig.

Trouens, jy kan dit maklik self tuis met ’n manikuurstel doen. As jy nie gereeld jou naels in stand hou nie, kan dit swak word, wat ’n dowwe, poeieragtige wit of geel voorkoms tot gevolg het. En dis nie net onooglik nie; jou naels sal ook makliker breek.

Dit kan pynlik wees, veral as dit ver genoeg skeur om die naelbed te ontbloot. Naelversorging sal dit help sterk en die delikate vel rondom die naels – die naelvleis – gesond hou.

’n Draai by die salon vir ’n professionele sessie is eerste prys, maar as dit nie ’n opsie is nie, is manikure maklik om tuis te doen.

Voordele van ’n manikuur

  • Verbeter gewrigsbeweging
  • Verbreek die gewoonte van naelbyt
  • Verbeter naelgesondheid
  • Verbeter selfvertroue
  • Hou hande sag en glad
  • Verlig stres  

Volg hierdie stappe:

Stap 1

Knip naels 

Begin deur jou naels met ’n naelknipper te knip. “Knip jou naels in ’n reguit lyn oor die boonste gedeelte van jou nael om te voorkom dat ingroeinaels vorm,” sê Kally Papantoniou, ’n kosmetiese, laser- en chirurgiese dermatoloog in New York.

Knip net die wit deel van die nael en probeer om so min knippe moontlik per nael te doen. Ekstra knippe sal jou naelrand ongelyk maak en dit kan tot ongemaklike en onaansienlike hangnaels lei.

Stap 2

Vyl die rande

Vyl sagkens van een kant na die ander met ’n naelvyl. “Die nael moet reguit gevorm word en nie ’n geronde of driehoekige vorm hê nie,” sê Kally.

Dis die beste vorm om te verhoed dat dit breek. “En as jou naelvliese geneig is om los te kom, wend klapperolie aan nadat jy dit geknip het – en moenie daaraan byt of pluk nie – sodat dit vinniger kan genees,” sê sy.

Ongeduld kan maklik die oorhand kry en dan doen jy dit oorhaastig, maar neem jou tyd om te verhoed dat jy jou vingerpunte versteur.

Stap 3

Knip naelvliese 

Die naelvlies is die deel waar jou naels en vel ontmoet. Verwyder oortollige naelvliese met ’n naelvliesknipper – nie met jou vingers nie. As daar heelwat is, gebruik ’n naelvliesverwyderaar of drukker om die vel sagkens terug na die naelbed te druk.

Doen dit nadat jy gebad het, want die vel is dan sagter. Moenie pluk aan ’n los naelvliesie nie, want dit kan ’n ongelyke voorkoms veroorsaak en lei tot bloeding, swelling, infeksie en hangnaels.

Stap 4

Bevog 

Spoel jou hande af en smeer ’n handeroom aan.

Dit sal help om droë vel te streel en kerfies genees wat tydens die manikuur veroorsaak is. Soek na dié met bestanddele soos vitamien E, galambotter en jojoba.

Voethulp 

Van ingroeinaels en swamme tot eelte en knokkeleelte, die lys voetkwale wat uit onversorgde tone en ongesonde voete kan spruit, is lank, maar baie mans huiwer om professionele pedikuurdienste te soek of hulle aan selfversorging te steur. So hoe presies kan ’n bietjie bederf tot gesonder voete lei? Volgens die voetheelkundige Charl- ton Woodly is gereelde voetversorging belangrik vir jou algemene gesondheid.

“Baie siektes manifesteer eintlik in die voete,” sê hy. “As jy nie jou voete versorg nie en jy verloor die vermoë om sonder pyn te loop, kan dit jou lewe behoorlik deurmekaarkrap.”

Afhangend van hoe vinnig jou toonnaels groei, kan jy ’n pedikuur kry so gereeld as wat jy wil, solank dit veilig gedoen word.

“Die deursneepersoon moet minstens een keer per maand een kry,” sê Charlton, aangesien dit kan help om die kans op siekte en infeksie te verminder, veral by mans wat ’n hoër risiko loop as gevolg van hoë aktiwiteitsvlakke of kwale soos diabetes.

Voordele van ’n pedikuur 

  • Verminder die kans op siektes en infeksies
  • Verbeter jou algemene welstand
  • Help met chroniese probleme soos voetreuk, naelswam en voetskimmel
  • Handhaaf voethigiëne en laat voete goed lyk en vars voel
  • Verlig stres  
Onderkant van man se voet
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dít is die basiese stappe om te volg as jy jou voete tuis versorg:

Stap 1

Week jou voete

Week jou voete minstens 10 minute in warm water en Engelse sout. Dit sal help om dooie vel en droë kolle sag te maak en te hidreer vir makliker verwydering.

Stap 2

Afskilfer en poets

Skrop jou voete met ’n voetskropmiddel om af te skilfer en verwyder dan sagkens enige eelte met ’n puimsteen. Sit dit dan weer vir ’n paar minute in die water.

Stap 3

Knip 

Knip jou toonnaels reguit met ’n reguitrand-toonnaelknipper.

Stap 4

Vyl glad 

Vyl die varsgeknipte naels met ’n amarilvyl om van growwe rande ontslae te raak.

Stap 5

Spoel en droog af

Spoel jou voete af en droog dit deeglik af, veral rondom die tone. Dis belangrik as jy naelswamme of atleetvoet behandel.

Stap 6

Bevog

Eindig met ’n ruim hoeveelheid dik voetroom en maak seker jy vryf dit goed in, veral tussen jou tone. 

Is dit regtig die moeite werd om geld aan ’n professionele pedikuur te bestee?

Ja! Hierdie behandeling voel ongelooflik en die professionele mense kan dele bereik wat jy nooit sou kon nie. En afhangend van waarheen jy gaan, kan dit ’n voetmassering, ’n warmwatervoetbad en ander klein luukshede insluit. En wie sal nou daarvoor nee sê?

Ekstra bronne: Mensjournal.com, Brickellmensproducts.com, menshealth.com, in.askmen.com, gq.com, themanual.com, Byrdie.com

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”. 
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!  


Jongste uitgawe

18 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in