book-icon Uitgawe 19 Maart 2020

Handsorg: Hou jou naels netjies met dié maklike wenke

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Eenvoudige staatmakergids vir naelsorg.

Almal geniet ’n lekker pamperlangsessie waar hul hare, gesig of naels versorg word.  Ons dink gewoonlik nie veel aan die proses nie, want iemand anders doen dit. Tog kan jy heelwat geld bespaar deur self jou naelsorg in die gemak van jou huis te doen. Ons wys jou hoe.

KNIP EN VYL

naels,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die beste manier om jou naels in ’n goeie toestand te hou is om dit te knip en vyl. Die tempo waarteen naels groei, verskil van mens tot mens. Probeer om nie te na aan die vel te knip nie, want jy kan jouself raak knip en dit kan ’n infeksie veroorsaak.

Gebruik ’n kleiner, geronde naelknipper vir jou hande en ’n groter een vir jou groottoonnael.

Knip die naels stukkie vir stukkie in die vorm van jou nael – die naelknipper het nie dieselfde vorm as jou naels nie; moet dus nie probeer om die hele nael op een slag te knip nie. Dit sal die nael laat buig en kan dit beskadig.

Vylwerk maak naels glad sodat dit nie ongelyk is en haakplekke veroorsaak wat die naels laat skeur nie.

Vyl sagkens in een rigting en weg van die nael af.

Moenie die vyl heen en weer beweeg nie, want dit gee nie ’n gladde afwerking nie en kan ook die nael beskadig.

DIE VELLETJIES

naels,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Moet jy of nie? Dis die groot vraag met naelvelletjies. Eerstens, wat presies is dit? ’n Naelvelletjie is die verharde vel tussen jou naels en vel. Dit verhoed dat bakterieë die nael binnedring.

Naelvelletjies groei soms oor die naels. Om dit te verhoed, gebruik ’n naelstokkie om die verharde vel sagkens terug te druk.

Vir sommige mense is dit genoeg om die velletjies terug te druk, terwyl ander se oortollige vel – dis gewoonlik dooie vel – afgeknip kan word. Wees net versigtig sodat jy nie te naby die vel knip nie, want oop plekkies kan tot ’n swaminfeksie lei.

Dis nie nodig om jou naelvelletjies te knip as dit normaal is en nie oortollige vel bevat nie.

POETS JOU NAELS

naels,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer jy jou naels met ’n naelpoetser vryf wat dit glad en blink maak, gee dit jou naels daardie afgeronde salonvoorkoms.

Sommige kritici meen ’n gedurige gepoets is skadelik vir naels, maar dis nie waar nie.

Dis slegs skadelik as jy dit oormatig doen, soos in die volgende gevalle: indien jy jou naels dikwels poets, soos elke tweede dag of elke week; ’n growwe naelvyl gebruik wat die boonste laag van jou nael sal verwyder en beskadig; of chemiese naelprodukte gebruik voor en nadat jy jou naels gepoets het.

VERSORG SO JOU NAELS

naels,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

  • Maak seker jou naels is geknip en gevyl.
  • Was jou hande en maak seker jou naels is skoon en droog. 
  • Gebruik ’n naellakdehidreerder of naellakverwyderaar om enige oorblywende olie of naellak te verwyder.
  • Kry ’n naelpoetser – daar is heelwat opsies, maar almal verrig dieselfde taak.
  • Volg die aanwysings vir die poetser. SBegin met die grofste deel van die poetser en eindig met die gladste kant wat die nael blink poets.
  • Dis voldoende om jou naels elke twee weke tot ’n maand te poets. Moenie dit oordoen nie, want dit kan naels beskadig.

Ekstra bronne: cosmopolitan.com, gq.com

Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees