book-icon Uitgawe 1 Julie 2021
Deel

Hier is die ongeskrewe etiketreëls vir ’n spa of salon

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jy kan jou op verskeie maniere in ’n salon of spa laat versorg en vertroetel, maar maak dit ’n aangename ervaring vir jou én die personeel deur te sorg jy volg hierdie ongeskrewe etiketreëls.

Gesigbehandeling

Vrou besoek die salon.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Moenie grimering aansit nie – tensy jy vir ’n wasbehandeling, massering of mani- of pedikuur gaan – en los jou juweliersware by die huis.

Vir ’n gesigbehandeling het jy net ’n skoon gesig nodig, en sonskerm vir agterna. Maar jy moet ’n masker dra om by ’n salon in te kom ingevolge covid-19-protokol.

Daag 5 tot 10 minute voor jou afspraak op. Vroeg wees vir ’n behandeling gaan nie net oor bedagsaam wees nie. Velbehandelings verg gewoonlik dat jy papierwerk invul en behels dalk selfs ’n velbeoordeling – gratis of by die prys van die diens gevoeg. Jy is geregtig om te weet waarvoor jy betaal.

As jy byvoorbeeld ná ’n beoordeling hoor jy kan by ’n chemiese afskilfering of LED-ligterapie ook baat vind, vra hoeveel meer dit sal kos.

Indien jy nie vir ekstras begroot het nie, is dit beter om in die behandelingsvertrek te praat as om ’n skok te kry wanneer dit tyd is vir betaal. 

As jy wel op die ingewing van die oomblik besluit om nog behandelings te laat doen, onthou jy sal dit dalk nie kan kry nie, al is jy bereid om meer te betaal. Byvoorbeeld, as jy ’n gesigbehandeling kry en besluit om ook garebehandeling en tint vir jou wenkbroue te vra, het die terapeut dalk nie die tyd om jou te help nie.

Hulle is nie moeilik as hulle vra om na die dagboek te kyk of sê hulle kan jou net op ’n ander datum inpas as jy bykomende behandelings vra nie.

Haarversorging

Vrou besoek die salon.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Soos met ’n gesigbehandeling moet jy dalk voor jou haarafspraak ’n beoordeling ondergaan en/of vorms invul. Daag dus minstens vyf minute vroeg op.

Deel van jou stilis se tyd respekteer is om vooruit ’n afspraak te maak en as jy ’n heel nuwe haarstyl wil hê hulle in te lig watter styl jy soek – dit is selfs beter as jy vooraf kan foto’s stuur.

Dit stel nie net die stilis in staat om te kan skat hoe lank jou sessie sal duur nie; dit help hulle ook vooruitbeplan en die nodige haarverlengings, spesiale kleurmiddels, produkte of ander items bekom.

As jy vlegsels of haarverlengings het of enige ander styl wat tyd verg om los te maak, moet jy jou stilis vooraf laat weet sodat hulle die tyd kan inreken. En let daarop jy sal in die meeste gevalle ekstra gevra word daarvoor.

Lyfpraatjies

Vrou besoek die salon.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As die idee dat ’n vreemdeling jou lyf met olie smeer of met ’n warm klip knie of hare van jou skaamdele af pluk jou senuagtig maak, is jy nie alleen nie.

Die eerste reël om te onthou is om vars gestort en droog op te daag. Dis is nie net higiënies nie; dis ook hoflik om ’n skoon lyf te bied aan iemand wat dit sal masseer of met was behandel.

Vir droë behandelings soos ’n vollyf- Sweedse of warmklipmassering hoef jy nie heel kaal te wees nie. Jy kan jou onderklere aanhou en die masseerder sal net die deel van jou lyf ontbloot waaraan hulle werk.

As jy ’n terapeut van dieselfde geslag verkies, vra daarvoor wanneer jy jou afspraak maak. En praat as jy voel die druk op jou spiere is te erg.

Onthou, jy sal privaatheid gegee word om voor die tyd uit te trek en agterna aan te trek, en jy kan weggooibare onderklere vra as jy nie jou skaamhare met was laat verwyder nie. Maar as jy jou skaamdele met was laat behandel, wees voorbereid vir ’n bietjie respekvolle aanraking.

Vir die manne

Vrou besoek die salon.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wasbehandeling word gewilder onder ouens, sê Hazel Gononda, winkelbestuurder van Sorbet Man Hyde Park.

Soos vroue wat vir ’n wasbehandeling aan hul onderlyf voorberei, word mans aangemoedig om voor die tyd ’n bietjie te snoei. Maar “jy wil ook nie oorboord gaan wanneer jy ter voorbereiding daar onder knip nie”, sê Justin Kirkland van Esquire.

“Sowat ’n kwartduim haargroei is nodig sodat die was sal vat.”

Wat etiket voor ’n besoek betref, “is mans, anders as vroue, geneig om nie vooraf te bespreek nie”, sê Hazel.

In luukser winkelsentrums bied ál meer versorgingsplekke vir mans haarkappery, masserings, was- en naelbehandelings, en party mans dink hulle kan net inval, sê sy.

Party is dalk gelukkig om ’n oop gleuf in die dagboek te kry, maar dit is bloot swak maniere. Onthou ook in die tyd van covid moet daar aan sekere gesondheidsprotokolle voldoen word, soos om ’n gesondheidsifting te voltooi voor jy vir ’n behandeling opdaag.

Streng voldoening aan covidregulasies word vereis, onder meer om te alle tye ’n masker aan te hou buiten wanneer jy ’n gesigbehandeling ondergaan.

“Selfs vir baardsorg word van kliënte vereis om dadelik agterna hul hul masker op te sit,” sê Hazel.

Moets en moenies
  • Dra ’n masker en voldoen aan covid-19-protokolle soos by die huis bly as jy sleg voel. 
  • Praat sag en sit jou selfoon af. Hou in gedagte die spa-omgewing is vir ontspan en is veronderstel om kalm te wees. Jy kan selfs jou terapeut vra om die musiek sagter te sit – of minder te praat as hulle geselserig is.
  • Opper enige klagtes of griewe wat jy dalk oor die behandeling het terwyl jy by die salon is eerder as nadat jy weg is sodat stappe so gou moontlik gedoen kan word om die situasie reg te stel.
  • Moenie aanneem jy kan met jou kinders opdaag en hulle kan vir jou wag terwyl jy jou behandelings kry nie.
  • Moenie ’n te klein fooitjie gee nie. Kyk wat die fooitjiebeleid is – as dit nie by die prys ingesluit is nie, gee iets ekstra – 10-15%. Ruim fooitjies skep nie net ’n goeie gesindheid tussen jou en jou terapeut nie; dis ook standaardpraktyk.
  • Moenie talm nie. Hou in gedagte die vertrek moet vir die volgende kliënt voorberei word nadat jy geloop het. Moet dus nie agterna langer in die behandelingskamer bly as wat nodig is nie. 

Bronne: esquire.com, gq.com, africawellness.co.za, moretimetotravel.com, ilesformula.com

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

8 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees