book-icon Uitgawe 3 September 2020
Deel

Hoe kies jy die regte bra sonder aanpas? Hier’s raad

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Hoe kies jy die regte bra as jy dit nie kan aanpas of teruggee nie of dit deesdae minder in die winkels waag? Hier’s ’n vrugtige oplossing.

Baie vroue sien daarteen op om ’n nuwe bra te gaan koop. Die hele proses kan ingewikkeld, frustrerend en ongemaklik wees. Dus dra ons dikwels dieselfde bra veel langer as wat aanbeveel word – nadat die rugband uitgerek, die keëls hul vorm verloor en die skouerbande begin afgly het.

Boonop is die reeds moeilike taak van die regte bra kry nou nog moeiliker gemaak, want baie onderklere-kleinhandelaars handhaaf tans ’n beleid van “geen aanpas, geen teruggee” te midde van die voortslepende coronaviruskrisis. Maar moenie bekommerd wees nie.

Nes met ander aspekte van ons daaglikse lewe word die ingewikkelde wêreld van bra aanpas ook aanlyn omarm en kan ons baie leer. 

Die TikTok-gebruiker Madison Anne se bra-inligtingsvideo’s het soos ’n veldbrand versprei, en in een van die slim grepe verduidelik sy die verskil tussen band- en keëlgroottes met ’n nuttige beeld: vrugte.

@madisonanneh

Reply to @minivanmama3 imma teach y’all sister sizes if it k1lls me

? original sound - madisonanneh

Madison, wat voorheen vir ’n bekende onderklerevervaardiger gewerk het, gebruik ’n suurlemoen, lemmetjie en appel om te demonstreer hoe jy die konsep van sustergroottes kan gebruik om die perfekte bra vir jou unieke borsvorm te kry.

“Namate die bandgrootte toeneem, raak die keël groter,” sê sy. “As jou 34D-bra ’n bietjie te groot by die band voel, is jy dalk geneig om dit vir ’n 32D te verruil.” Maar Madison verduidelik die keëls vir dié twee groottes verskil.

Jy moet eerder ’n sustergrootte kry wat dieselfde hoeveelheid volume as jou 34D hou, wat ’n 36C (’n bandgrootte groter; ’n keëlgrootte kleiner) of 32DD (’n bandgrootte kleiner; ’n keëlgrootte groter) sal wees.

“Jy kan nie appels probeer pas in bra’s wat vir suurlemoene gemaak is nie,” sê sy. Maar wat presies is sustergroottes? En hoe weet jy wat die volume van jou keëlgrootte is? Word jou bors beter as ’n suurlemoen, lemmetjie of appel beskryf?

Ons het kenners gevra om ons ’n beter begrip te gee oor die onderklere wat ons elke dag dra, maar skynbaar steeds baie min van weet. 

Dra jy die regte bra?

’n Paar kenmerkende tekens dui daarop jy dra dalk nie die regte bragrootte nie.

Plooie in die keëls, onderdraad wat teen die kante van jou borste druk, ’n rugband wat opkruip, borste wat by keëls uitbult, skouerbande wat afgly of ’n bra wat opskuif wanneer jy jou arms oplig, is tipiese tekens, sê Taryn Palacios van The Bra Guru in Johannesburg.

As jy enige van die bogenoemde probleme ervaar, is dit dalk tyd om jou weer te laat meet of jou maatband uit te haal en dit self te doen.

“Daar is basies twee mates: een net onder die borste reg rondom en een oor die borste reg rondom.

Dié twee mates – wat albei in duim gemeet moet word – sal jou in staat stel om jou bragrootte te bereken,” sê Liza Clifford van Liza Clifford Professional Bra Fitting Studio. 

Vir die bandgrootte

Staan sonder ’n bra of met ’n bra aan wat nie opgestop is nie. Gebruik ’n maatband om net onder jou borste om jou bolyf te meet waar ’n braband sou sit. Die maatband moet horisontaal en baie knus wees.

As die syfer ewe is, voeg vier duim by. (Meet in duime, want dis die eenheid waarin bra-groottes toeneem.) As dit onewe is, voeg vyf by. Jou bandgrootte is die som van dié berekening.

Vir die borsgrootte

Draai die maatband effens los om die volste deel van jou bors (op tepelvlak) en rond tot die naaste heelgetal af.

bra
Ter illustrasie.

Bepaling vankeëlgrootte

Trek jou bandgrootte van jou borsgrootte af terwyl jy seker maak die berekening word in duim gedoen (1 dm. = 2,54 cm). Gebruik die oorblyfsel om jou keëlgrootte te bepaal met elke duim wat ’n keëlgrootte verteenwoordig.

Voorbeeld: 38 dm. (bors) – 34 dm. (band) = 4 dm. Dis ’n 34D. Dis normaal om ’n bors te hê wat groter as die ander een is. En as die verskil beduidend genoeg is, maak dit bra koop nog ingewikkelder.

Cora Harrington, ’n onderklerekenner, stel voor jy pas volgens die groter bors.

Balanseer die voorkoms deur ’n bra-skyfie by die kleiner bors te voeg of koop ’n bra met verwyderbare kussinkies en haal die groot kant uit

bras
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bepaal jou sustergroottes

Jy het waarskynlik iewers vasgestel jy het ’n bragrootte, en as dit in ’n mate gepas het, was dit die einde van die storie, sê Liza.

“Jy het ook dalk gedink dat tensy jou borste van grootte verander daar geen manier was dat ’n B-keël ook ’n D-keël kan wees nie. Verkeerd,” sê sy.

“Die volume van ’n keëlgrootte wissel met die bandgrootte.” Die algemene reël om jou sustergroottes te kry is soos volg: As jy ’n groter band kies, kies ’n kleiner keël, en omgekeerd.

Byvoorbeeld, ’n 32C pas moontlik ’n 30D of ’n 34B. As jy ’n 34C is, kry jy dalk in ’n 36B of ’n 32D ’n bra wat beter pas. Om te weet wat jou sustergroottes is is nuttig om vir grootteverskille tussen handelsname voorsiening te maak. Dis ook ’n goeie hulpbron as jou “regte grootte” moeilik is om te kry.

Mense met kleiner bande en groot keëlgroottes of groter bande en kleiner keëlgroottes sal die meeste by sustergroottes baat vind.

bras
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoe weet jy jy het ‘die een’ gekry?

“ ’n Bra is nie ’n bykomstigheid nie. Dis ’n werkende kledingstuk wat ontwerp is om jou borste te ondersteun,” sê Liza. “Jy moet dit voel, en as die bra sy werk doen, sal dit rooi merke laat wat vervaag wanneer jy die bra uittrek. Jy voel dalk aan die begin baie ongemaklik, maar later sal dit gemakliker sit en jou volmaakte grootte wees.

Hoe groter die borste, hoe langer duur die indra-proses. “Wanneer jou bra nuut is, wil jy dit aan die losste hakie kan vasmaak,” sê Taryn.

“Mettertyd sal jou bra sag raak en behoort jy na die volgende hakie te kan skuif tot die band uitgerek is en die bra vervang moet word.”

  • Keëls hou die borste in posisie, maar die band is vir sowat 90% van die eintlike steun verantwoordelik. Bekyk jouself van die kant af in ’n spieël, sê Taryn. Jou borste moet halfpad tussen jou skouers en elmboë sit. Indien nie, het jy ’n bra met meer ondersteuning nodig.
  • Liza beveel aan dat die geer (die middel van die bra) plat teen die bors lê. “Maak nie saak hoe groot die borste is nie, dié deel van die bra moet ook die bors in twee aparte borste skei.” Die onderdraad moet in lyn met die armholte loop sodat dit nie op die delikate borsweefsel lê en ongemak veroorsaak nie. Die skouerbande moenie te styf wees nie, want die steun moet van die band kom wat om die lyf loop.
  • Die T-hemp-toets is ’n goeie truuk om te kyk of ’n bra goed pas, sê Ra’el Cohen, stigter van die onderklereonderneming ThirdLove. “Trek ’n stywe wit T-hemp aan, en as jy die bra baie duidelik kan sien, hetsy dit die keëlrand is wat bult of gaap of die band of die kante waar dit dalk ingrawe, dra jy die verkeerde grootte.” 

Ekstra bronne: Tiktok.com, Cosmopolitan.com, Self.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

23 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees