book-icon Uitgawe 7 November 2019

Is jou voete skurf? Dís hoe jy gladde hakke kry

akkreditasie
Sandale en plakkies vra mooi voete – hier’s wenke sodat die lente jou nie ­onkant betrap nie.

Wat om na die winter te verwag: 

  • Gebarste hakke
  • Uiters droë en growwe vel
  • Gesplete toonnaels

Jou voete werk hard; dit dra jou oral waar jy wil gaan en verduur soms selfs hak­skoene of skoene wat te styf pas.

En in die wintermaande is jy geneig om dit af te skeep omdat dit lekker warm in sokkies en stewels toegewikkel is.

Dan breek die somer aan en jou ­voete is droog en jou hakke gebars omdat dit aan die omgewing blootgestel word wanneer jy sandale dra. Jy sal meer as vogroom aan jou voete moet smeer as jy wil hê dit moet goed lyk.

Gelukkig is daar voetsorgprodukte wat jou voete maklik vir die warmer maande sal voorberei.

Wenke

  • Bevog altyd jou voete ná ’n stort of bad. As jy dit nie doen nie, sal dit uitdroog en gebarste hakke vererger.
  • Moenie twee keer dieselfde sokkies dra nie – bakterieë flo­reer daarop.
  • Moet nooit jou toonnaels aftrek nie – dit sal ingroeinaels ­­veroorsaak.
  • Was deeglik tussen jou tone; bakterieë skuil graag daar.
  • Dra altyd beskermende skoene of plakkies in ’n openbare stort. Sulke plekke krioel dikwels van bakterieë.

Doen dít 

Skrop en vyl 

Omdat vel voortdurend vernuwe, het jy af en toe growwe vel aan dele van jou voete. Dis die dooie velselle wat na die oppervlak beweeg, en jy moet dit afskilfer om daarvan ontslae te raak.

Week jou voete eers in water met seep of ’n voetweekmiddel daarby gevoeg. Ná die week kan jy jou voete afdroog en sagkens met ’n voetvyl skrop.

Gebruik die vyl se grofste kant op dikker vel, soos by jou hakke, en die sagter kant waar jou vel dunner is. Gebruik ’n voet­borsel vir jou tone en naels, want ’n vyl is te grof vir daardie deel van jou voet.

Koffieskrop

Growwe hakke is ’n groot irritasie en kort elke af en toe ’n ekstra bietjie liefde en aandag. Raai wat kan help? Koffie!

As jou voete ’n behoorlike skrop nodig het, meng ’n kwart koppie fyngemaalde koffiebone met seesout of Engelse sout en ’n eetlepel olyfolie. 

Gebruik dié mengsel en skrop jou voete deeglik. Beslis ’n tuisbederfie om te probeer.  

Dokter

Jy reinig en skrop jou gesig voor jy ’n masker aanwend, en dieselfde geld vir jou voete.

Die beste tyd vir ’n voetbehandeling is ná afskilfering ­omdat die vel nog deurdringbaar is.

Volg die aanwysings op die produkverpakking. Sommige maskers word afgespoel en ander moet agterna ­ingevryf word.

voete
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bevog

Jy kry intensiewe vogrome wat die voete se vel voed.

Die meeste bevat bestanddele soos mentol, wat ’n verkoelende en verfrissende ­effek het, en galambotter en gliserien, wat bevogtend is.

Voetrome hoef gewoonlik nie kwistig aangewend te word nie omdat dit dikker is en een aanwending op ’n slag voldoende is.   

Hou dit vars

Saam met die hitte kom sweterige voete. Sommige mense sweet meer as ander, terwyl dit nie altyd gewens is om oop skoene by die werk of gim te dra nie.

Voetpoeier help om ­­oormatige sweet te absorbeer en reuke te verminder.

Sweet is reukloos; dis die bak­terieë op die oppervlak van die vel wat op sweet teer wat ’n slegte reuk veroorsaak. Dis ook raadsaam om sokkies te dra wat jou voete laat asemhaal. 

voete
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Week

1. Antiseptiese mondspoel, asyn en warm water

Giet die volgende in ’n houer warm water: 

  • 60 ml (¼ k) antiseptiese mondspoel
  • 60 ml (¼ k) asyn

Maak so

Week voete 10-15 min. daarin.   

Skrop sagkens met ’n puimsteen.   

Droog voete af.   

Bevog en dra sokkies oornag.

2. Engelse sout en warm water

Maak so

  • Giet 2 L (8 k) warm water in ’n groot bak.   
  • Voeg 125 ml (½ k) Engelse sout daarby.   
  • Week jou voete 10-15 min. daarin.   
  • Droog jou voete af.   
  • Bevog voete en dra sokkies oornag.

Span sommer die hele gesin in en geniet die bederf!

Jongste uitgawe

11 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in