book-icon Uitgawe 21 Januarie 2021

Kies só die regte sonskerm vir jou vel

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ons weet ons moet ons vel teen die son beskerm – die kies van die regte produkte is deel daarvan.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Son, son, son! Dié tyd van die jaar is die son oral; daarom het jy ’n goeie sonskerm in jou skoonheidsarsenaal nodig vir beskerming terwyl jy steeds die voordele van sonlig pluk.

“Sonblootstelling stel ons liggaam in staat om vitamien D te vervaardig, wat vir ons bene, immuunstelsel en bloedselle belangrik is,” sê Alexa Wilding, senior handelsmerkbestuurder by Everysun. “Sonlig help verhoog ook serotonien, wat ons gemoedstemming verbeter en ons meer energie gee.”

Maar om die voordele te geniet, moet jy van die potensieel nadelige uitwerkings van sonlig bewus wees en weet wat die gepaste beskerming vir jou besondere velsoort is, van kop tot tone.

Die son se uitwerking
  • Hiperpigmentasie
  • Droogheid
  • Sonbrand 
  • Voortydige veroudering
  • Velkanker

Oor die jare het sonskerms se samestellings ontwikkel om vele werkings te hê. Dit beteken deesdae beskerm dit jou nie net teen die son nie, maar teen die omgewing ook. Met so ’n groot verskeidenheid is dit steeds nie maklik om die regte een vir jou te vind nie. Hier’s wat jy moet weet.

Soorte sonskerm

MINERAAL

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie produkte word mineraalsonskerms genoem, want dit bevat en benut minerale soos sink- en titaanoksied om die vel teen die son te beskerm. Mineraalsonskerms sit bo-op die vel en keer die son se strale af.

Dit word ook fisiese sonskerms genoem, want dit skep ’n fisiese versperring tussen die son en die vel. Dit is doeltreffend sodra dit aangewend is en beskerm die vel teen ultraviolet A (UVA)-strale en ultraviolet B (UVB)-strale.

Mineraalsonskerms laat ’n wit residu op die vel en moet dikwels heraangewend word, want dit vryf en spoel maklik af. Dié soorte sonskerm is gewoonlik ook veilig vir babas en kinders en sal nie porieë verstop nie. Dit is ook ’n bietjie bekostigbaarder as chemiese sonskerms.

CHEMIES

Chemiese sonskerms bevat gesintetiseerde aktiewe bestanddele. Dit deurdring die vel en versprei die son se strale voor dit die liggaam binnegaan.

Anders as mineraalsonskerms moet chemiese sonskerms ’n paar minute voor sonblootstelling aangewend word om dit tyd te gee om die vel te deurdring.

Die chemiese reaksie tussen die son en die vel kan sensitiewe of probleemvel ontwrig, wat dit minder geskik vir kinders maak. Die lekker ding van chemiese sonskerms is dat dit nie ’n wit residu op die vel laat nie en jy nie baie hoef aan te wend vir beskerming nie.

BREËSPEKTRUMSONSKERMS

Party sonskerms beskerm jou net teen UVB- of UVA-strale. UVB-strale is korter as UVA-strale en vir sonbrand verantwoordelik, terwyl UVA-strale die vel dieper binnedring en kanker kan veroorsaak. Breëspektrumsonskerms beskerm jou teen UVA- én UVB-strale.

SONSKERMS MET ANTIOKSIDANTE

Antioksidante help verhoog die doeltreffendheid van sonskerms deur ekstra beskerming teen die omgewing en teen blou lig te bied. Wanneer jy sonskerm nie reg of dikwels genoeg weer aanwend nie, gee antioksidante daardie ekstra beskerming. Dit het ook strelende en genesende eienskappe.

SONBRANDVLOEIROME

Sonbrandvloeirome bied min tot geen sonbeskerming nie, want dit laat die son se strale deur die vel dring om dit melanien te laat vervaardig en verdonker (sonbruin). Die meeste sonbrandvloeirome het ’n SBF van minder as 15 en is dalk nie baie veilig nie, veral vir kinders. Party bevat olies wat die son se strale absorbeer, wat nie veilig is nie. As jy dus wil sonbruin sonder om jou vel in gevaar te stel, hou op met sonbrandvloeirome eksperimenteer en kies minder gevaarlike alternatiewe.

Doen dit reg

Die soort sonskerm wat jy kies, hang van jou vel se behoeftes af. Hier’s ’n gids om die regte een vir jou uit te soek.

LET OP DIE BESTANDDELE

Mineraalsonskerms word as veiliger vir sensitiewe en probleemvelle beskou. Wees op die uitkyk vir sink- en titaanoksied. As jy chemiese sonskerms kies, vermy dié wat oksibensoon bevat, want party studies het getoon dit veroorsaak allergieë. Oksibensoon vertraag die koers van sonabsorbering in die vel.

AANWENDING

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Elke kosmetiekproduk verg dat jy dit behoorlik aanwend om doeltreffend te wees. Dit sluit sonskerm in. Weet hoeveel van jou sonskerm nodig is en hoe lank dit doeltreffend is afhangend van of jy binne of buite is en hoe dikwels jy dit moet heraanwend.

Wend altyd sonskerm aan. Enige soort sonskerm is beter as geen sonskerm nie. Die son se strale bereik jou steeds wanneer dit bewolk is.

Beskerm dus altyd jou vel, maak nie saak wat die weer is nie.

SBF

Sonskerms met ’n sonbeskermingsfaktor van 15 en hoër is doeltreffend. Maar pleks van op die syfers fokus, vestig jou aandag op die gehalte van die produk. Word dit sterk aanbeveel? Hoe word dit beoordeel?

SONBLOOTSTELLING

Oorweeg of jy direk aan die son blootgestel sal wees, hoe lank en op watter tye. Dit is meestal beter om mineraalsonskerm te gebruik as jy direk in die son sal wees. Maar as jy sal swem of sweet, sal jy mineraalsonskerm gereeld weer moet aanwend. As dit vir jou te veel werk is en jy weet jou vel sal dalk nie geraak word nie, gebruik liewer ’n chemiese sonskerm.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees