KYK: Die oë rek weer vir Kim Kardashian se nuutste modeneiging

akkreditasie
Foto's: Instagram/@maryphillips/@balmain
Foto's: Instagram/@maryphillips/@balmain
As jy dink Kim Kardashian het by die 2019 Met Gala die tonge laat klap in twee noupassende lateks ontwerpe, dan moet jy haar nóú sien!

Dié werklikheidster en sakevrou hou immers nie terug as dit by mode kom nie en haar onlangse modekeuses is beslis ’n bewys daarvan.

Kim (39) is Sondag in die Franse hoofstad, Parys, in ’n lateks-pak deur die modehuis Balmain gekiek. En dis sommer baie sexy!

Kim en haar oudste suster, Kourtney Kardashian (40), wat ook ’n sexy wynrooi lateks uitrusting gedra het, is in die voorste ry van die Balenciaga-modeskou by die Parys-modeweek raakgesien. 

Dié mosterdkleurige lateks uitrusting is nie die enigste een wat Kim vir haar besoek in Parys gedra het nie. Die ma van vier is later in ’n dramatiese wynrooi lateks broek en gestruktureerde baadjie afgeneem.

Dié uitrusting het sy met vleeskleurige hakskoene en groot oorbelle afgerond. Maar nog is het einde niet.

Vir die derde uitrusting het Kim ’n bloospienk lateks uitrusting gedra en dié een was ons gunsteling! Die pak was klassieke Kim Kardashian. Sy't dit afgerond met elegante grimering en ’n sjiek skouerlengte bob haarstyl. 

Kim, wat met die rapper en ontwerper Kanye West (42) getroud is, het beslis lateks-uitrustings na die volgende vlak geneem.

Die lateks-modeneiging is nie juis nuut nie. Dit het reeds in 2017 kop uitgesteek ná die sangeres Beyoncé in 2016 ’n vleeskleurige lateks-aandrok deur die Givenchy-ontwerper Riccardo Tisci na die sterbelaaide Met Gala-glansgeleentheid in New York gedra het. 

Kim het dié trend in 2019 ten volle omarm toe sy by die Met Gala in ’n baie stywe lateks korset-minirok deur die Franse modeontwerper Thierry Mugler opgedaag het. Die ontwerp was Thierry se eerste ontwerp in 20 jaar en is deur die oseaan geïnspireer.  

Hoewel Kim se rok een van die bestes van die aand was, het dié vleeskleurige nommer wat haar uurglas kurwes in al hul glorie vertoon het, baie kritiek uitgelok. Aanhangers het gevoel dié uitrusting skep onrealistiese verwagtinge van mode en vroue se liggame. Maar vir Kim was om hierdie rok te dra, net so seer as wat dit gelyk het.

In ’n onderhoud met die tydskrif WSJ  het Kim verklap dat haar rug en maag na afloop van die aand duike in gehad het omdat die rok so pynlik styf was.

“Ek het nog nooit sulke pyn in my lewe gevoel nie,” het Kim laat hoor. Kim het later vir die Met Gala-partytjie weer in ’n stokstywe blou lateks-minirok – ook deur Mugler – gedra. Sy het dié uitrusting met ’n kristal kopstuk afgerond. 

Ander bekendes, soos die sangeres Lady Gaga, omhels ook die nuwe neiging. Lady Gaga is in haar jongste enkelsnit se musiekvideo, "Stupid Love", in ’n pienk lateks bra te sien.

Met dié indrukwekkende foto's wat nou die rondte doen, lyk dit al hoe meer soos 'n volwaardige modeneiging wat nie gou gaan verdwyn nie.

Die vraag is wel: sal jy dit uitprobeer?

Bronne: Instagram, Harpersbazaar.com, Insider.com, Thegaurdian.com, Telegraph.co.uk, WSJ Magazine 

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees