KYK: Kry 'n sexy bob soos Demi-Leigh, Minki en kie

akkreditasie
Foto's: Instagram
Foto's: Instagram
Dis ’n nuwe seisoen en as jy moeg is vir jou lang lokke, is ’n sexy bob dalk die regte oplossing. Talle plaaslike bekendes - van die sangeres Tarryn Lamb tot die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Tebow - spog reeds met dié kort kapsel.

Maak nie saak wat die vorm van jou gesig of kleur van jou hare is nie; ’n bob is nou maar eenmaal ’n haarstyl wat by elke vrou pas. En as jy nie te veel aan jou hare wil laat snipper nie, is langer bobs vanjaar steeds een van die gunstelinghaarstyle.

Hier is vyf bekende glansvroue wat ons wys presies hoe die bob gedra en gestileer moet word. 

Tarryn Lamb

Die sexy Maak my famous-aanbieder Tarryn Lamb het aanhangers geskok toe sy haar lang, welige lokke vir ’n korter kapsel verruil het. Ons is mal oor die sangeres se hare-transformasie. 

Tarryn deel gereeld foto’s in die sosiale media waar haar bob in pragtige vloeiende krulle gestileer is en dis omtrent sjiek. Die donkerkopskoonheid weet hoe om die koppe te laat draai.  

Nadia Valvekens

Die aktrise wat Pippa in die KykNET-sepie Binnelanders gespeel het en as Tessa Malan in die dramareeks Alles Malan te sien was, is ’n hare-verkleurmannetjie. 

Die beeldskone Nadia het aanhangers oor die jare met verskillende haarkleure en kapsels bederf, maar haar mees onlangse blonde bob is een van ons gunstelinge. “Nuwe hare is altyd lekker!” het Nadia by ’n foto gedeel waar sy met haar nuwe silwerblonde bob spog. 

Demi-Leigh Tebow

Dié voormalige Mej Heelal het kort voor haar 25ste verjaardag in Junie haar voorkoms verander deur haar kenmerkende lang lokke in ’n splinternuwe, korter haarstyl te laat sny.

“Ek droom al te lank daarvan om my hare te sny. Die lewe is te kosbaar om nie die dinge te doen wat jy graag wil doen nie,” het Demi geskryf by ’n foto waarop sy met haar nuwe kapsel spog en uitbundig lag.

Demi-Leigh deel gereeld foto’s van hoe sy haar nuwe korter kapsel stileer en dit dien as inspirasie vir dié wat dalk nuwe idees soek om hul bobs te stileer. 

Minki van der Westhuizen 

Minki se sexy blonde bob is ’n haarstyl wat jy ten minste een keer in jou leeftyd moet beproef.

Die ma van drie en aanbieder van haar eie geselsprogram, Minki, op VIA, het deesdae ’n langer uitgegroeide weergawe van haar eens korter bob en dis baie mooi. Of Minki se hare gekrul of reguit is, haar kapsel is altyd kamera-gereed. 

Leandie du Randt 

Leandie du Randt se hare is bob-perfeksie. Of sy dit in ’n lang bob dra of selfs ’n kort gesnipperde een; die aktrise laat 'n bob cool lyk.  

“Interessant genoeg beïnvloed 'n mens se hare ook hoe jy aantrek. Met die korter hare trek ek vrouliker aan, maar toe ek langer hare gehad het, was my styl baie meer boyish,” het sy voorheen aan Huisgenoot gesê.  

Oorweeg dié bob vir jou gesigvorm

Ovaal 

Volgens Tommy Buckett, ’n haarstilis vir Hollywood se glansvroue, pas byna enige bob-haarsnit by dié gesigvorm. Van skouerlengte tot kort, stomp bobs; as jy dié gesigvorm het, kan jy jou voelers uitsteek en avontuurlustig wees met jou kapsel.

Rond 

As jy ’n ronde gesig het, moet jy ’n bob oorweeg wat net onderkant jou ken val.

Vierkantig

As jou gesig vierkantig is, moet jy dit oorweeg om jou hare net-net onder of bo jou kakebeen te laat knip, raai Tommy aan.

Hart

Vir dié gesigvorm is ’n klassieke bob ideaal. Dié haarsnit sal nie sommer gou uit die mode raak nie. ’n Klassieke bob pas ook by vroue van alle ouderdomme.

Ekstra bronne: InStyle.com, Liveabout.com, Instagram  

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees