
1. Demi-Leigh Nel-Peters
Dié uitrusting is sekerlik een van Demi-Leigh se beste nóg.
Die wêreld het dié voormalige Mej. Heelal al in die mooiste rokke gesien, maar hierdie lyfpak is asemrowend. Op Instagram het sy verklap dat die stylghoeroe Werner Wessels die voorkoms stileer het, en ons is mal daaroor.
2. Tamaryn Green
Die voormalige Mej. Suid-Afrika wat Vrydag haar kroon afgegee het, het die pragtige foto van haarself in die silwerskepping gedeel en sy straal behoorlik. Werner het die afgelope week omtrent sy hande vol gehad met dié skoonhede.
3. Rolene Strauss
Met dié uitrusting straal Rolene byderwetse sjiek uit. En kyk daai vietse lyfie; wie sou kon raai dat sy reeds drie maande swanger is?
4. Sue Duminy
Die pragtige ma van twee lyk omtrent swierig in die foto wat sy Dinsdag in die sosiale media gedeel het. Ons is gaande oor die blompatroon-eenstuk met die wit bykomstighede daarby. Die wit hakskoene rond die sexy uitrusting perfek af, maar dis daardie glimlag wat Sue so beeldskoon maak.
5. Tracy-Lee Rosslind
Die stilis, sakevrou en blogger is die ene blinkers en kitskos en ons is dol daaroor. Tracey met haar kenmerkende blou hare weet beslis wat sy doen wat mode betref en met die kombinasie van denim en blinkers bewys sy dit opnuut. Dis ontspanne en speels dog elegant.
Die afgelope week was gevul met pragtige rokke, blinkers en skoonheid. Ons kan nie wag om te sien wie se styl volgende week die kollig gaan steel nie.