Versorging
Saood Mota, eienaar van die Beard Boys Barber Shop en versorgingsprodukte vir mans, deel sy wenke oor hoe om jou baard te versorg.
- Die manier hoe jou baard groei, hang van jou gene af. As jou pa en oupa dus nooit gesighare gehad het nie, sal jy waarskynlik ook nie hê nie.
- As jou baard net plek-plek groei, probeer om jou dieet te verander en kyk of dit ’n verskil maak. Indien nie, skeer dit eerder af. Dis beter om skoongeskeer te wees as om ’n kol-kol-baard te kweek.
- Baardprodukte help om gesonde hare te handhaaf, maar sal nie hare laat groei waar dit nie van nature wil groei nie. Maar as daar stoppelbaard is, kan baardolies groei aanhelp.
- Skrop jou vel voor jy skeer. Dit sal help om irritasie en ingroeihare te verminder.
- Moenie gewone seep gebruik om te skeer nie, want dit kan irritasie veroorsaak. Gebruik eerder skeerrome en skeersepe wat die vel glad maak, die lem makliker oor die vel help gly en teen skeermesbrand beskerm.
Vierkantig
Leonardo DiCaprio (akteur)
’n Vierkantige gesigvorm word gekenmerk deur ’n sterk kakebeen wat soms breër as die voorkop is.
Ovaal
David Beckham (voormalige sokkerspeler)
Ovaal gesigvorms het ’n ken wat effens smaller as die voorkop is met geen harde lyne nie. Hierdie gesigvorm lyk goed met die meeste style.
Rond
Scott Disick (werklikheids-TV-ster)
’n Ronde gesigvorm het gewoonlik ’n ronde en gladde ken met geen definitiewe lyne nie. Hou die hare welig aan die ken en dra ’n snor met dun kante wat met die voller baard verbind. Dit skep die illusie van ’n smaller gesig.
Reghoekig
Russell Brand (akteur)
Reghoekige gesigte word gekenmerk deur ’n langer gesigvorm met ’n sterk kakebeen wat net so wyd soos die voorkop is. Dra ’n volle baard wat korter onder en langer teen die kante is om die manlikheid van die gesig te komplementeer.
STAP 1: Behandel die vel voor jy skeer deur dit te reinig en skrop.
STAP 2: As jou baard lank is, knip dit eers sodat die hare oral dieselfde lengte is. Fatsoeneer daarna jou baard met ’n snoeitoestel – dit sal vir korter hare sorg en ’n definitiewe vorm aan jou baard gee.
STAP 3: Gaan die strook op jou lem na voor jy skeer. As dit verbleik of stomp is, moet jy dit met ’n nuwe een vervang. Wend skeerroom, -jel of -seep aan aan die deel waar jy wil skeer.
STAP 4: Skeer eers in die rigting waarin die hare groei en daarna in die teenoorgestelde rigting vir ’n gladde eindresultaat. Spoel die lem af namate jy skeer om enige oortollige produkte te verwyder.
STAP 5: Wanneer jy klaar is, spoel die geskeerde deel met koel water af. Druk droog en wend naskeermiddel aan
Ekstra bronne: gillette.com, gq.com, beardboys.co.za