book-icon Uitgawe 20 Mei 2021

Mooi met minder: Dís die produkte wat jy werklik benodig

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Met die helfte van ons gesig bedek met ’n masker, is ’n oorvloed produkte die laaste ding wat ons vel benodig.
Die pragtige vroue
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Minder is meer: Dis die grondslag van die nuwe minimalisme-trend vir velsorg. Met talle vroue wat tuis werk, is ’n ten volle gegrimeerde gesig minder van ’n prioriteit, wat die soeklig op skoon vel laat val.

“Hoewel onderlae wat jou ’n douvars voorkoms gee en slim aangewende verligter kan help om ’n wonderlike geen-grimering-voorkoms te skep, sal ’n werklik stralende gelaat altyd eerste prys wees,” sê Karen Bester, mediese afrigter by Lamelle Research Laboratories.

Meer vroue gebruik velsorggesigprodukte teenoor ’n jaar gelede volgens die NPD Group’s 2020 Women’s Facial Skincare Consumer Report, en 40% van velsorgprodukgebruikers gebruik hul produkte meer gereeld. Die soeke na ’n vlekkelose gelaat het ongelukkig tot ’n oorgebruik van produkte gelei.

“Die grootste risiko is om ’n irritasie te ontwikkel, wat tot eriteem (rooi, pienk of pers vlekkies wat ná ’n puisie-uitslag agterbly) en hiperpigmentasie kan lei,” sê Shereene Idriss, kosmetiese dermatoloog vir Instyle.

Dermatoloë beveel aan dat pasiënte slegs een produk op ’n slag gebruik eerder as om verskeie produkte met aktiewe bestanddele aan hul vel aan te wend en waarsku dit sal tot groter probleme lei. En dis waar velminimalisme intree!

Volgens Pinterest se 2021 Trend Predictions Report is velminimalisme die nuwe gonswoord en moedig dit jou aan om voordeel te trek uit die doeltreffendheid van veeldoelige produkte.

Hierdie produkte bevat bestanddele wat in harmonie saamwerk om jou meer as een resultaat te gee terwyl dit jou tyd en geld spaar.

So kan jy blapse verminder en ’n minimalistiese benadering beproef

Identifiseer die probleem

Skenk aandag aan jou vel sodat jy weet wat die primêre behoeftes daarvan is. Dit beteken jy moet jou veltipe identifiseer en besluit watter probleme eerste getakel moet word.

Vra jouself vrae soos: Het ek ’n droë vel wat sensitief en geneig tot rooiheid is? Of is my vel droog en skilferig?

Reinig deeglik

Die belangrikste stap na ’n mooi gelaat is reiniging. Deeglike reiniging help verwyder dooie velselle en hou die vel vars – skoon vel reageer ook beter op velsorgprodukte.

Mense met droë vel moet room- en oliereinigers gebruik, want dit werk sagkens en hou die vel se oppervlak ongeskonde. Hidrerende gesigwasmiddels met hialuronsuur werk goed vir mense met ontwaterde en kombinasievel.

Salisielsuur word gevind in gesigwasmiddels wat aanbeveel word vir mense met vel wat olierig en geneig tot aknee is. Die suur skilfer die vel sagkens af terwyl dit diep reinig. Dit kan soms saam met hialuronsuur gebruik word om die vel af te skilfer sonder om dit uit te droog.

Serum is ’n moet

As jy sigbare resultate soek, is dit waar dinge gebeur. Jou serum moet jou jou veldoelwit help bereik, wat beteken jy hoef nie nog een aan te wend om die eerste serum ’n hupstoot te gee nie.

Dit moet klaarspeel met probleme soos droogheid, aknee, ’n dowwe gelaat, veroudering en vlekke.

Gebruik bestanndele vir jou behoeftes

Vra jou dermatoloog of velsorgterapeut vir spesiaalgemengde velsorgformules wat vir jou vel se behoeftes gemaak is.

Dit sal jou baie eksperimentering spaar. Of wees op die uitkyk vir die volgende bestanddele, en as jy meer as een in ’n enkele produk vind, beproef dit:

Verhelderend

Pragtige vrou besig met 'n skoonheidbehandeling.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bestanddele: Vitamiene C en E

“Hierdie superster-antioksidante stimuleer nie net jou vel om meer kollageen te vervaardig nie; hulle is ook bekend vir hul verhelderende voordele,” sê Karen Bester, mediese afrigter by Lamelle Research Laboratories.

Vitamiene C en E verbeter ’n onegalige gelaat terwyl dit dit teen skadelike omgewingsgevolge beskerm. Hierdie bestanddele word soms in een produk aangetref.

Herstellend

Pragtige vrou besig met 'n skoonheidbehandeling.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bestanddele: retinol, peptiede, niasienamied

Hierdie bestanddele is gewild en werk goed vir fyn lyne en vel wat vlekkerig voel.

Aanvullend

Pragtige vrou besig met 'n skoonheidbehandeling.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bestanddele: gliserien, hialuronsuur, omega-vetsure, seramiede

Dit is ideaal vir ’n uitgedroogde en droë vel wat soms sensitief is en afskilfer. Moenie meer as een serum gelyktydig gebruik nie, want sommige bestanddele kan bots en nog probleme veroorsaak.

Sonskerm

Pragtige vrou besig met 'n skoonheidbehandeling.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

SBF word normaalweg by ’n bevogtigende basis in vloeibare sonskerms gevoeg, en tensy jy ekstra vog soek (veral as jy ’n droë, sensitiewe vel het), kan jy vogroom los as jy SBF dra.

Of jy kan ’n vogroom gebruik wat SBF bevat. Moenie sonskerm of enige produk wat SBF bevat uit jou velsorgroetine haal nie, want dit omsluit en beskerm die aktiewe bestanddele van jou serum.

Handhaaf ’n gebalanseerde velsorgroetine en takel een kwessie op ’n slag. Elke stap van jou velsorgroetine steun die een voor dit – moet dus nie in die versoeking kom om iets oor te slaan nie.

Afskilfering

Pragtige vrou besig met 'n skoonheidbehandeling.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Afskilfering help om die vel op ’n dieper vlak te reinig. Jy kan kies tussen chemiese en fisiese afskilfering of wissel tussen die twee, afhangend van jou veltipe en behoeftes.

Chemiese afskilfering gebruik bestanddele om die vel te poets, en fisiese afskilfering gebruik sintetiese of organiese korrels om die vel te reinig. Beperk afskilfering tot een keer per week en een keer elke week en ’n half as jy ’n droë vel het. Dieselfde geld vir maskers.

Ekstra bronne: business.pinterest.com, vogue.co.uk, npd.com, instyle.com, refinery29.com
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees