
LASER
KOSTE: Duur
RESULTATE: Permanent
Net gekwalifiseerde kosmetoloë kan dié behandeling uitvoer. Die hare word met gekonsentreerde lig van onder die vel af vernietig. Ná ’n paar sessies is die resultate permanent. (Blonde hare kan met die nuwe Apilus-laser verwyder word.)
SKEER
KOSTE: Goedkoop
RESULTATE: Tydelik
Skeer is ’n algemene manier van haarverwydering. Maar al is dit maklik, moet jy dit gereeld doen, want die hare word net op die vel se oppervlak verwyder. Skeer altyd met voggewende seep en bevog jou vel ná die tyd baie goed.
ROME
KOSTE: Goedkoop tot gemiddeld
RESULTATE: Tydelik
Die room los die proteïen in die haar op. Die deel van die haar wat bo die vel is, breek af van die deel wat onder die vel is en nie aan die chemikalie blootgestel is nie. Dié manier van haarverwydering is pynloos en doeltreffend.
GARE
KOSTE: Gemiddeld
RESULTATE: Halfpermanent
Twee stringe gare word oor die haar gerol en verwyder dit van die wortel af. Dié soort verwydering is ideaal om vorm te gee aan hare soos wenkbroue. Dit werk moeiliker op ander dele van die lyf omdat daardie hare growwer is.
ONTHAARDERS
KOSTE: Gemiddeld
RESULTATE: Halfpermanent
Dis elektroniese toestelle, amper so groot soos skeermasjiene, wat ’n paar haartjies op ’n slag uittrek. Dit werk omtrent net soos om hare met ’n tangetjie uit te pluk, behalwe dat meer hare op ’n slag uitgetrek word.
WAS
KOSTE: Gemiddeld
RESULTATE: Halfpermanent
Was word aan die vel gewend en dan afgeruk om die hare van die wortel af te verwyder. Dit is ’n voorkeurtegniek vir langduriger resultate, want dit is doeltreffender as die meeste ander maniere van haarverwydering.