book-icon Uitgawe 26 Augustus 2021

Skaam oor jou littekens? Dié behandelings help

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Littekens is die oorblyfsels van veltrauma – maar moenie wanhopig raak daaroor nie. Daar is ’n hele paar behandelings wat kan help.
Littekens
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

As jy beseer is, werk die liggaam baie hard om die beskadigde deel te herstel. ’n Laag selle en kollageen vorm oor die aangetaste area om littekenweefsel te vorm. Al is littekens meestal onskadelik, kan dit nogtans ongewens wees.

Littekens kan pynlik, jeukerig en onooglik wees, en dit kan in die pad staan van jou vermoë om daagliks voluit te leef. Dit veroorsaak dus nie net fisieke skade nie; dit kan ook tot emosionele en sielkundige probleme lei.

Daar is verskillende soorte littekens en verskillende maniere om dit te behandel. Met die meeste behandelings kan littekens in grootte en sigbaarheid verminder word. Baie behandelde littekens word mettertyd drasties minder sigbaar; dit is dus die moeite werd om dit te beproef.

Soorte littekens

Keloïede

Keloïede
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Brandwonde, insekbyte, ongelukke, aknee, snye, tatoes en chirurgie kan almal hipertrofiese littekens en keloïede veroorsaak. Dit is letsels waar die vel opgelig en verdik word.

Dit kan baie groter word as die oorspronklike besering.

’n Keloïed is ’n rooibruin littekenweefsel wat veral aan die bors en rug voorkom.

Kontraktuur

Kontraktuur
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dié soort littekens is algemeen in verbrande weefsels. As jou vel dus gebrand het, kan jy so ’n letsel kry. Die vel trek styf as gevolg van die littekens, wat dit moeilik maak vir die betrokke area om te beweeg. Kontraktuur-littekens kan mettertyd verdiep en skade aan spiere en senuwees veroorsaak.

Aknee

Aknee
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

As jy ooit aan ernstige aknee gely het, het dit waarskynlik letsels aan jou vel gelaat.

Littekens weens aknee kom voor in verskillende vorms en groottes wat wissel van diep kepe en duike tot letsels wat ’n amper golfagtige voorkoms het. Die soort aknee-littekens wat jy het, bepaal die behandelingsopsies.

Behandeling

Littekens kan op verskeie maniere behandel word, maar elke opsie sal nie noodwendig ewe goed werk vir almal nie. Dit is dus belangrik dat pasiënte bewus is van die behandelings se beperkte doeltreffendheid en redelike verwagtinge stel.

Vullers

Dermatoloë gebruik vullers om littekens op ’n veilige en doeltreffende manier plomp te maak. Hialuronsuur het die algemeenste weefselvuller geword danksy die min allergene wat dit bevat en geskiktheid daarvan vir die liggaam.

Dit kan ingespuit word in die vel, waar dit help om kollageen (’n proteïen wat jou vel se weefsel ondersteun en elastisiteit bevorder) in selle te genereer.

Vullers word gebruik om littekens op ’n veilige ma
Vullers word gebruik om littekens op ’n veilige manier plomp te maak. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Operasie

Dermatoloë voer klein operasies uit om akneelittekens te behandel wat baie prominent is. Die operasies behels dat die litteken gelig en nader aan die veloppervlak beweeg word om dit minder sigbaar te maak. Die litteken wat agterbly, behoort mettertyd te verdwyn.

Laserbehandeling

Verhewe littekens kan veilig en doeltreffend behandel word met lasers en ligterapie soos behandeling met ’n kleurstofpulslaser – ’n soort laserlig wat geteikende areas binne die vel verhit.

Die hitte vernietig beskadigde bloedvate (in hierdie geval littekenweefsel) sonder om ander dele van die vel te beïnvloed.

Dié behandeling – pulsed dye laser treatment in Engels – gebruik ’n oplossing met ’n organiese kleurstof om die laser-effek te verkry. Dit kan help om die gejeuk en pyn te verlig en ook die litteken platter en die kleur daarvan ligter te maak.

Behandeling met ’n gekonsentreerde laserlig (intense pulsed light) is ’n nie-indringende behandeling wat gebruik word om littekens ligter te maak en beskadigde velselle te behandel.

Dit gebruik talle liggolflengtes om die geteikende beskadigde selle te verhit en af te breek. Dit kan ’n beter terapieopsie wees vir mense met ’n ligter vel. Talle skoonheidsalonne bied laserbehandelings.

Laserterapie is ’n behandelings­opsie vir verhewe
Laserterapie is ’n behandelings­opsie vir verhewe littekens. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Kriochirurgie

Littekenweefsel word tydens dié prosedure gevries. Die weefsel sterf en val dan af. Dermatoloë gebruik ’n reeks krioterapieprosedures en kortikosteroïedinspuitings om die resultate te verbeter.

Hierdie kombinasie lewer gereeld merkwaardige resultate. Die grootste nadeel is dat krioterapie permanente ligter kolle op die behandelde vel kan laat.

Rome, jels en silikoon

Dié produkte kan gewoonlik oor die toonbank gekoop en tuis gebruik word om letsels te behandel. Dit kan help met jeuk, irritasie, littekenvermindering, afplatting en verkleuring.

Volgens een hipotese is silikoonverbande uiters voordelig. Silikoon help om velhidrasie te verbeter, en dit kan help om irritasie en pyn te verlig terwyl dit ook die voorkoms van die vel verbeter.

Ekstra bronne: British Journal of Hospital Medicine Vol. 80, No. 11, magonlinelibrary.com, webmd.com, healthline.com, familydoctor.org

Teken hier in vir ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees