Elke dag is daar talle takies wat bedrywige ma's moet aanpak. Badtyd, kosmaak, skoonmaak, skottelgoed was . . . en dis nog nie eens die berg ander verantwoordelikhede wat jou tyd in beslag neem nie. Maar Rozanne het die resep gevind om fiksheid by haar daaglikse roetine in te sluit. Haar geheim? Om soggens vroeg haar oefenroetine heel eerste te takel.
“Dit sit my in so ’n goeie bui. Die gevoel van hoë endorfiene soggens is my heel gunsteling. Ek voel asof ek reg is vir die dag en dan is my oefensessie klaar. Die res van die dag kan ek dan gebruik om op ander dinge te fokus,” laat die TV-aanbieder en omroeper hoor. En waar bevind sy haar soggens 05:15? In Fitblock-klasse, verklap sy. Dié klasse sluit hoë-intensiteit interval-oefeninge in.
Rozanne se hooffokus ná haar oefensessie is om lekker inhoud met haar luisteraars te deel op Jacaranda FM waar sy weekliks van twaalfuur tot tweeuur agter die mikrofoon inskuif.