GRIMEERTRENDS
Gedempte vel
Die trend gaan oor vel wat gesond lyk, maar nie te mat of te blink is nie. Die beste manier om die voorkoms te kry is om ’n bietjie van alles te gebruik: ’n tikkie onderlaag, ’n tikkie poeier en ’n tikke blosser of verligter.
Die voorkoms is by die Shimada-vrouedragvertoning tydens die Modeweek in Parys opgemerk.
Opvallende lippe
Balmain het eenvoud en klassieke rooi lippe by die Modeweek in Parys vertoon. Laat enige voorkoms uitstaan deur dit skoon te hou en een deel met kleur te beklemtoon.
Kies die tekstuur van lipstiffie volgens die sensitiwiteit van jou lippe – bevogtigend vir dié wat tot droogheid neig en fluweelagtig en mat vir dié met minder probleme.
Helderblou skadu
Blou oogskadu was nog altyd ’n gunsteling onder vroue van alle ouderdomme en dit was oral te sien by die Miu Miu- en Vivienne Westwood-vrouedragvertoning tydens die Modeweek in Parys.
Die beste manier om die kleur te dra is om ’n skakering te kies wat by jou veltoon pas en die res van jou grimering lig te hou. Helder jou oë op deur ’n sweempie silwer oogskadu aan die binnehoeke te voeg.
Moenie te veel kleure inskakeer nie, want dit sal die voorkoms swaar laat lyk.
Ingeleefde rokerige oë
Rokerige oë is altyd ’n wenner en dit was die ster by die Paul & Joe-vrouedragvertoning tydens die Modeweek in Parys. Gee jou rokerige oë dimensie deur ’n grys of bruin kleur aan die kante in te skakeer.
Dit sal dit ook sagter laat lyk. Versterk die voorkoms deur jou water- en wimperlyne met swart te omlyn. Bleek lippe werk goed by hierdie ooggrimeringvoorkoms.
Metaalkleurige katoog
Lutz Huelle het met goue gevleuelde omlyner tydens die Modeweek in Parys ’n stelling gemaak. Die voorkoms is subtiel maar treffend en geskik as jy nie swart omlyner wil gebruik nie.
Nes met rooi lippe en rokerige oë werk die trend beter as jy die res van die grimering lig hou.
NAELTRENDS
Geometriese patroon
Die voorkoms was deel van die Ujoh-vertoning tydens die Modeweek in Milaan. Die maklikste manier om die trend te volg is met plakkers. Vorm jou naels en plak dan die plakkers op en knip dit in die regte vorm.
Sorbet naels
Kan jy nie tussen die mooi kleure kies nie? Gebruik sommer ’n kleur aan elke vinger.
Xander Zhou het sy modelle by die Modeweek in Londen laat naels wys. Die trend lyk goed aan kort tot mediumlengte-naels.
Olyfkleur naels in ovaal
Hou dit eenvoudig soos Nicole Miller by die Modeweek in New York. Ovaalvormige naels is wonderlik vir dikker of kort vingers, want die naelvorm laat die vingers slanker en langer lyk. As jy lus is vir ’n bietjie naelkuns, kies een nael vir spesiale behandeling.
Grafiese naels
Laat jou naels die praatwerk doen soos Jeremy Scott s’n tydens die Modeweek in New York.
As jy dit self doen, werk plakkers die beste. Maak andersins ’n afspraak by ’n naelateljee vir kreatiewe werk. Gebruik ’n ligte basiskleur om naelkuns te laat uitstaan.
Swart-en-goud
Vergulde naels is die ene glans. Dié naels is tydens die Modeweek in New York gesien. Temper die goud en skep kontras met mat of tekstuurryke swart naelkuns. Hou die naels kort vir ’n netjiese voorkoms.
HAARTRENDS
Ekstra lank & mikrokuiwe
Paco Rabanne het modelle ekstreme kuiwe laat wys tydens die Modeweek in Parys. Verskillende soorte kuiwe pas by die verskillende gesigvorms.
Langer kuiwe is ideaal vir ’n lang of vierkantige gesig, terwyl mikrokuiwe goed by ’n hartvormige gesig pas. Was jou hare gereeld om jou kuif lig en donsig te hou.
Kantvlegsels
Smal of plat vlegsels is die beste manier om op ’n warm somerdag hare uit jou gesig te hou. Die hare van die modelle by die Koche-vrouedragvertoning tydens die Modeweek in Parys was in dié styl.
Dit kan ’n paar dae op ’n slag gedra word, en wanneer jy dit losmaak, het jou hare golwe in. Twee voorkomste in een!
Agteroor gejel
Agteroor gejelde hare vloei in sagte en gladgeblaasde krulle in, soos dié model s’n by die Rochas-vrouedragvertoning tydens die Modeweek in Parys.
Die hare word gewas en drooggeblaas en dan word die jel by die voorste deel van die hare ingekam. Voeg ’n knip aan die kant by vir ’n tikkie glans.
Diep kantpaadjie met kuif
’n Diep kantpaadjie vlei enige gesig en laat hare voller lyk. Dit verbloem ook ’n breë voorkop. Modelle het die voorkoms vir die Valentino-vertoning tydens die Modeweek in Parys gedra.
Wend haarmousse aan vir ’n glansryke en gladde afronding. Dit sal ook wegstaanhare tem en die hare op hul plek hou.
VELTRENDS
Maskeraknee-behandelings
Die nodigheid vir masker dra tydens die pandemie het beteken ons moes ons velsorgroetine aanpas om vir die nuwe werklikheid voorsiening te maak.
Vir 2021 ontwikkel velsorgmaatskappye verskeie samestellings vir verskillende velbehoeftes om maskeraknee (aknee wat deur maskers veroorsaak word) mee te behandel.
Nie-indringende gesigsontrimpeling
Die dae is verby dat ’n mens onder die mes moes gaan vir verferming of ’n klein ontrimpeling. Met die kombinasie van kragtige bestanddele, laser en vullers kan diegene wat wil jonk bly vinnige en pynlose prosedures met gewaarborgde durende resultate geniet.
Pasgemaakte tuisbehandelings
Jy kan nou ’n salongehalte- gesigbehandeling of -afskilfering in die gemak van jou huis geniet.
Die produkte moet natuurlik getoets word, maar word geformuleer sodat dit veilig genoeg is om in die helfte van die tyd by die huis te gebruik. En al kan tuisafskilfering duur wees, is dit gewoonlik goedkoper as ’n salonbesoek.
Virtuele velontleding
Soos kantoorvergaderings vind ál meer doktersafsprake aanlyn plaas. Tydens ’n een-tot-een-gesprek met jou dermatoloog op jou foon of skootrekenaar sal hulle jou bekommernisse oor jou vel met jou bespreek en behandeling voorskryf.
Dit bespaar jou tyd, reistyd en geld. En dit sal jou gerusstel.
Pasgemaakte velsorg
Daar is vier hoofkategorieë velsoorte, maar binne daardie kategorieë moet individue se vel steeds as gevolg van spesifieke behoeftes onderskei word.
Danksy vooruitgang in tegnologie en ’n toenemende aantal plaaslike skoonheidsondernemings kan klante nou toegang kry tot produkte wat vir hul unieke behoeftes aangepas is.