Van K-pop tot Netflix se Squid Game – daar is die afgelope paar jaar ’n toenemende fassinasie met alles wat Koreaans is – en die skoonheidsbedryf is geen uitsondering nie. Koreaanse skoonheidsorg, bekend as “K-beauty”, is al ’n hele ruk lank ’n obsessie onder jong velsorgfynproewers. Nou is dit ook ’n groot speler in die skoonheidsbedryf.
Die klem is op bevogtiging, sagwerkende bestanddele en ’n natuurlike gloed van binne. Jou skoonheidsroetine sluit waarskynlik reeds van die produkte in of is beïnvloed deur produkte wat as Koreaanse skoonheidsneigings begin het – of dit ’n bladmasker, essens of BB-room is. Maar waaroor gaan die bohaai?
Dis ’n sambreelterm vir die Koreaanse invloed op velsorg, skoonheidsbehandelings, roetines, leefstyl en produkte wat in Suid-Korea ontstaan. Met die benadering vel eerste, grimering tweede, kon K-beauty tradisionele geneesmiddels en bestanddele met die jongste gevorderde formulerings en innovasies kombineer. Dit het gelei tot produkte wat nie net uiters doeltreffend is nie; dis ook bekostigbaar.