book-icon Uitgawe 18 Februarie 2021

Wenkbroue, jou bikinilyn en meer: Beteuel dié hare só

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hoe werk wasbehandeling in ’n salon, en hoe kan jy dit maklik tuis self doen?
wasbehandeling
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit klink dalk na ’n uitdagende vooruitsig, veral op gevoelige plekke soos die bikini-area, maar wasbehandeling lewer wonderlike resultate. As beginner is jy dalk angstig oor die eerste keer.

Daar is minder pynlike soorte haarverwydering, maar die resultate ewenaar nie dié van wasbehandeling nie. Wat moet jy verwag as jy ’n beginner is? Waarheen moet jy gaan, en waarna moet jy op die uitkyk wees?

Samantha Khoza, ’n konsultant en tegnikus van The Treat by Gen Beauty Salon in Randburg, Gauteng, vertel ons wat ’n mens moet verwag as jy die eerste keer ’n wasbehandeling kry.

WAAROM WASBEHANDELING?

  • Jou hare neem langer om uit te groei, wat beteken jy kan die resultate ’n ruk lank geniet voor jy jou oor teruggroei hoef te bekommer.
  • Wanneer jou hare wel weer uitgroei, is dit fyner en yler, en dit beteken minder pyn wanneer jy weer ’n wasbehandeling laat doen.
  • Wasbehandeling verminder irritasies aan die vel, want minder chemikalieë kom met die vel in aanraking vergeleke met ontharing.
  • Dinge soos brandwonde, snye en ingroeihare sal iets van die verlede wees.
  • Dit is vinnig; dus bespaar dit jou tyd.
  • Wasbehandeling gee jou ’n baie gladde vel, want dit eksfolieer die vel tydens die wasbehandelingsproses.
  •  Jy kan so te sê enige area aan jou lyf met was behandel vir langdurige resultate.

HOEVEEL SAL ’N SALONBEHANDELING KOS?

Dit hang af van watter deel jy met was laat behandel. Is dit jou wenkbroue, armholtes, bene of skaamhare? Vir iets so klein soos wenkbroue kan jy verwag om enigiets vanaf R100 te betaal; ander dele kan jou enigiets vanaf R300 kos.

Wasbehandeling bied wonderlike voordele en resultate, maar jy moet ’n bietjie meer daarvoor betaal vergeleke met die ander soorte haarverwydering.

wasbehandeling
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

HOE PYNLIK IS DIT?

Dit hang af van hoe goed jy pyn hanteer. Elke mens het ’n ander drempel.

“Wasbehandeling is beslis nie aangenaam nie, maar die pyn is ook nie ondraaglik nie. Dit is gerusstellend dat wanneer die was eers verwyder is die pyn nie talm nie,” sê Samantha. Tegnici is ook goed opgelei om vir jou die beste ervaring moontlik te gee.

HOE LANK DUUR DIT?

Dit sal ook afhang van wat jy met was laat behandel. Kleiner dele is baie vinnig en groter dele of areas met meer hare verg enigiets van 10 tot 20 minute.

WAT IS DIE PROSES?

“Elke kliënt word met respek behandel en higiëne is veral belangrik. Dit is ook die tegnikus se werk om die kliënt gemaklik te laat voel as dit haar eerste ervaring is en sy ’n bietjie gespanne is,” sê Samantha. “Ons knoop gewoonlik ’n gesprek aan of laat die kliënt lag om hulle te help ontspan.”

  • Eers word die area wat met was behandel sal word met ’n sagwerkende antibakteriese seep skoongemaak om enige olies te verwyder.
  • Die was word tot die ideale temperatuur verhit en dan op die spesifieke areas aangewend. Dit word dan ’n paar sekondes lank afgedruk tot dit tot ’n sekere temperatuur afgekoel het.
  • Die tegnici weet hoe warm of koud die was moet voel. Hulle het die proses al honderde kere uitgevoer; dus hoef jy jou nie daaroor te bekommer of hulle dit reg doen of nie.
  • Volgende sal die tegnikus op die vel aan die rand van die was afdruk om dit styf te maak. Dan sal sy die was vinnig aftrek en op die vel wat behandel is, afdruk om die pyn te verminder.
  • Sy sal dié proses voortsit tot al die hare verwyder is. In party gevalle moet verdwaalde hare uitgepluk word.
  • Die heel laaste stap is om strelende en voedende room aan die area te smeer. Alles gebeur baie vinnig en jy sal sommer gou klaar wees. Daar is ook verskillende soorte wasbehandelings beskikbaar om by jou behoeftes te pas soos om wasaftrekpapier te gebruik.

WAARHEEN MOET JY GAAN EN WAARNA MOET JY UITKYK?

Gaan na ’n salon wat ’n goeie reputasie het of een wat deur vriende of familie aanbeveel word.

’n Gewilde plek beteken ook hulle doen iets reg. As jy ’n nuwe plek wil beproef oor mededingende pryse, gee aandag aan netheid en professionaliteit. Vra ook vrae.

VOEL JY ’N BIETJIE ONGEMAKLIK?

Jy voel dalk verleë om iemand aan jou bikini-area te laat werk, maar moenie wees nie. Die kenners het al alles gesien en konsentreer net daarop om van jou ongewenste hare ontslae te raak.

Hulle gee glad nie om hoe jy “daar onder” lyk nie. Baie salonne gee vir jou ’n weggooibare papierbroekie wat min bedekking bied, of jy kan net kaal bly. As jy verduidelik dit is jou eerste keer, sal hulle jou gerusstel.

wasbehandeling
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Selfoenwenke vir tuisbehandelings

  • Meer van ons kies deesdae tuisbehandelings om blootstelling aan die coronavirus te verminder. Samantha sê ideaal gesproke moet jy ervaring van professionele wasbenadeling hê voor jy dit self beproef. “Lees die aanwysings op jou wasbehandelingsproduk sorgvuldig deur en volg dit tot in die kleinste besonderhede. Moenie iets anders probeer doen nie, want dit kan jou laat foute maak,” sê sy.
  • Sorg dat die area wat jy met was wil behandel skoon en sonder snye of irritasies is. Moenie ’n wasbehandeling doen as jy enige veluitslag sien nie.
  • Druk die area wat jy pas met was behandel het met ’n yspak om die vel af te koel en wend dan ’n strelende room aan.
  • Moenie in die versoeking kom om haarverwyderingsroom te smeer aan die area wat jy pas met was behandel het of dit te skeer vir afronding nie; dit sal die vel oorsensitief maak en tot verdere irritasie lei. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe


Jongste uitgawe

30 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees