Dis ’n goor gewoonte wat baie honde-eienaars naar maak en ’n mens laat wonder: Hoekom eet party honde hul eie, dikwels ander diere en selfs mense se ontlasting?
Dit blyk koprofagie (die wetenskaplike naam vir die eet van ontlasting) is taamlik algemeen en het vele oorsake wat wissel van voedingstekorte en mediese probleme tot blote verveling.
Studies toon ook om mis te vreet is algemener by tewe – en hoe varser, hoe beter.
MOONTLIKE OORSAKE
Ensiemtekort
Honde het verteringsensieme nodig om hul kos te absorbeer. As hulle nie genoeg het nie, sal hulle voedingstowwe onverteerd uitskei. As hulle in die natuur ’n dier sou doodmaak, sou hulle die binnegoed eet wat dié verteringsensieme bevat.
Maar die meeste van vandag se verwerkte hondekosse bevat nie genoeg hiervan nie. Dit beteken jou hond kan begin lus word vir die ontlasting wat hulle pas uitgeskei het omdat dit vol voedingstowwe is.
Wanabsorpsie
Jou hond het dalk ’n mediese toestand wat die swak absorbering van voedingstowwe kan veroorsaak en tot ’n voorliefde vir ontlasting kan lei.
Eksokriene pankreatiese ontoereikendheid
Dit is wanneer jou hond se pankreas nie voldoende verteringsensieme afskei nie. Hulle probeer later die nodige voedingstowwe uit stoelgang kry.
Parasiete of wurms in die ingewande
Dit absorbeer die voedingstowwe wat jou hond uit sy kos moet kry en laat hom met ’n tekort.
Toestande wat die eetlus vergroot
Sekere siektes soos diabetes, skildklierprobleme en party steroïede kan honde dood van die honger maak.
Ondervoeding
As jou hond nie genoeg kos kry nie, sal hy dit elders soek.
Higiëne
’n Toestand waar mis eet normaal is, is by ’n teef met kleintjies. Sy sal die mis van haar werpsel eet om die nesplek skoon te hou. Hondjies kan uit nuuskierigheid ook ’n hap vat, maar hulle ontgroei dit.
Aasvreters
Honde is natuurlike aasvreters en die reuk van ontlasting is nie vir hulle so afstootlik soos vir mense nie.
Verveling, stres en aandagsoekery
As jou hond gestres is of baie alleen gelos word, kan hy begin ontlasting eet. Party honde sal dit bloot doen om aandag van hul eienaar te kry, al is dié aandag straf.
Nabootsing
As jy meer as een hond het en een van hulle eet mis, kan die res (veral jonger honde) die voorbeeld volg.
- Tel jou hond se mis gereeld op sodat dit nie rondlê en hom in die versoeking lei nie.
- Voer jou hond ’n roukosdieet vol proteïen. Rou vleis bevat die verteringsensieme wat jou hond benodig om hom sy maaltye te help verwerk. Rou, groen afval bevat die meeste verteringsensieme, asook probiotika.
- Hou jou hond so gestimuleer moontlik sodat hy nie verveeld raak nie.
- Besoek ’n veearts as jy dink jou hond het ’n mediese probleem.
- Ontwurm hom gereeld en gee vir hom ’n probiotikum vir dermgesondheid.
DIE DUBBELGANGER
Ontmoet Mr. Dobbs, ook bekend as Dobby, ’n eenjarige Oekraïense lefkoi wat merkwaardig baie soos die beroemde Harry Potter-huis-elf lyk.
Sy eienaar, Nicole (30), van New York sê sy het op die kat met die vreemde voorkoms verlief geraak toe sy ’n haarlose kat gesoek het wat nie haar allergieë sal beïnvloed nie.
Sedert sy hom aangeneem het, het sy agtergekom hy hou daarvan om afgeneem te word, en sy snaakse “selfies” het hom ’n internetsensasie gemaak. “Ek het ’n foto geplaas waarop hy vreemde goed op my skoot doen en probeer uitwerk watter jogaposisie hy probeer uitvoer,” sê sy.
“Mense dink hy is dierbaar en snaaks. En Dobby poseer graag. Om foto’s van hom te neem is soos ’n speletjie. Hy hou beslis daarvan.”
Bronne: Dognaturallymagazine, AKC.org, Dogpoopdiet.com
Kry die dag se sterkste
stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke,
skoolsake en hartsake. Teken nou in!