Hou jou hondekind so warm in die bibberweer

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Klein Snoopy 'n week nadat hy byna verkluim het. Die hondjie sterk mooi aan. Foto: Verskaf
Klein Snoopy 'n week nadat hy byna verkluim het. Die hondjie sterk mooi aan. Foto: Verskaf
Daar is weer bibberweer op pad vir Suid-Afrika en dit is belangrik om te onthou jou viervoetige vriend moet ook warm bly.

’n Vier weke oue hondjie het verlede week byna verkluim ná hy deur die nag in die koue gelos is. Hy het glo papnat gereën.

Klein Snoopy, wat eindelik deur sy eienaars na die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha, buite Kaapstad, geneem is, was hipotermies (wanneer die liggaam hitte vinniger verloor as wat dit hitte produseer) en het gesukkel om asem te haal.

Marcelle du Plessis, die kommunikasiebestuurder van die kliniek, sê mense vergeet maklik in die winter hul hondekinders moet warm genoeg gehou word.  

Sy sê die veearts by die kliniek, dr. Joy Bhandi, het Snoopy se lyfie begin vryf om hom warm te maak, en die jong hondjie is onmiddelik na hul Bair Hugger geneem. Die Bair Hugger is ’n verwarmingstoestel wat die pasiënt se liggaamstemperatuur tydens operasies reguleer.

Snoopy is ook in ’n warm kombers met ’n warmwaterbottel toegedraai.

“Ná ’n paar uur en baie liefde het Snoopy sy kop opgelig. Hy is toe sagte, warm kos gevoer, spesiaal geformuleer vir hondjies wat aan die herstel is. Hy het ook water gedrink. Dit was ’n goeie teken,” sê Marcelle.

Klein Snoopy 'n week nadat hy byna verkluim het. D
Klein Snoopy 'n week nadat hy byna verkluim het. Die hondjie sterk mooi aan. Foto: Verskaf

Die kliniek sê ook dis belangrik dat jong hondjies soos Snoopy vir die eerste ses weke van hul lewe by hul ma’s moet bly omdat hulle nog nie sterk genoeg is om op hul eie te oorleef nie.

Hul liggaampies is nog te klein om op hul eie hitte te genereer en het dus hul ma se liggaamshitte nodig. Die klein hondjies het ook nog die voedingswaarde van hul ma se melk nodig, verduidelik sy.

Marcelle sê mense dink dikwels hul honde moet buite slaap, maar sy verduidelik dat jong hondjies ander behoeftes het. Dis beter vir hulle om binne te slaap, veral in die winter, sê Marcelle.  Nes mensebabas het die hondjies vir die eerste ses weke van hul lewe elke twee ure bottelvoeding nodig.

Marcelle sê Snoopy se eienaars is baie bekommerd oor sy gesondheid en kom kyk gereeld hoe dit met hom gaan.

“Hierdie voorval was nie as gevolg van wreedheid nie, maar eerder omdat hulle nie verstaan het wat die hondjie in hierdie stadium van sy lewe nodig het nie.”

“Toe ons Snoopy se storie op Facebook gedeel het, het ons baie negatiewe terugvoer van die publiek gekry. Mense het vir ons gesê ons moenie die hondjie terugstuur na sy eienaars nie. Hulle het ook die eienaars van wreedaardigheid beskuldig. Ons het sulke terugvoer verwag, aangesien dit die normale reaksie van mense is wanneer ’n dier wat gely het terug huis toe gestuur word. Ons glo egter opvoeding is die enigste oplossing,” sê Marcelle. 

Beskerm jou hondekind so teen die koue:

•    Hondjies jonger as ses maande moet binnenshuis slaap.

•    Klein hondjies kan nie op koue teëls of 'n sementblad slaap nie. Maak seker hulle het ’n kombers, mat of hondebed. Baie klein hondjies moet ’n warmwaterbottel by hulle hê.

•    As jou ouer hond buite slaap, moet hulle beskerming hê teen die koue, wind en reën. Die beste opsie is ’n hondehok.

•    Dis ook ’n goeie idee om ’n kussing of kombers binne die hok te sit om ekstra hitte te verskaf.

•    Maak seker jou hond kry twee keer per dag kos (in die oggend en aand). Klein hondjies tussen die ouderdom van vier weke en drie maande moet drie keer per dag gevoer word. Kos help hulle om warm te bly.

Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees