Die bedgesprek: Só praat jy met jou maat oor seks

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Foto: Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images
As dinge begin afkoel tussen die lakens, is dit tyd dat julle met mekaar begin praat. Voor dit te laat is.

So byna-byna het hulle in die skeihof beland. En dit oor seks – daardie aktiwiteit wat een van die lekkerste, natuurlikste aktiwiteite ter wêreld is. 

Maar dit was nie so vir Adré (44) en Sonja (28) Carstens van Vereeniging nie.

Aan die begin was dinge lekker warm tussen die lakens – tot Sonja op ’n dag op ’n pakkie pille vir erektiele disfunksie (ED) afgekom het. 

Sy kon nie die moed bymekaarskraap om Adré daaroor uit te vra nie en hy was te trots om met haar daaroor te praat.

“Ek het minderwaardig gevoel,” vertel Sonja. “Ek het nie die probleem verstaan nie en het gevoel ek is nie vrou genoeg vir hom nie.

“Dinge tussen ons het afgekoel omdat ons albei geweet het daar is fout, maar nie daaroor gepraat het nie.

“Ek het verveeld geraak en verskonings gesoek om dit te vermy. Weke het verbygegaan sonder dat ons eens aan mekaar geraak het.”

Die eenvoudige waarheid was dat Adré steroïede (efedrien) gebruik het toe hy jonger was. 

Een uit vier vroue in onsland ervaar selde 'n orgasme

Dit, tesame met sy hoë bloeddruk, het sy ED veroorsaak.

“Dit het alles met trots uit te waai. Dit was vir my ’n kwaai vernedering en ek kon dit nie regkry om met Sonja daaroor te praat nie,” sê Adré.

Eindelik het hulle besluit om te skei en Sonja het ’n nuwe verhouding aangeknoop.

Maar vier dae voor hul egskeiding gefinaliseer sou word, het Adré een oggend wakker geword en besluit tot hier toe en nie verder nie, nou gaan hy praat.

Toe vertel Sonja hom die eerste keer dat sy al jare tevore die pille ontdek het. Adré het sy hart oopgemaak oor hoe verneder hy gevoel het oor sy ED en het haar gerusgestel dat daar niks fout is met haar nie.

“Dit was ’n verskriklike verligting,” vertel sy. “Om ná so lank oop te maak, het vir ons albei soveel beteken.”

Albei erken hul verhouding is nie volmaak nie, maar hulle sit alles in om dit te laat werk en is deesdae gelukkiger as toe hulle mekaar ontmoet het. En in die slaapkamer raak dinge weer vuurwarm.

En uit vier vroue in ons land ervaar selde ’n orgasme en 23 persent van plaaslike mans erken hulle gee soms voor hulle bereik ’n orgasme.

Sulke navorsing wys net hoe belangrik dit is dat ons in die slaapkamer praat.

Ter illustrasie. Foto: Gallo images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo images/ Getty Images

“Suid-Afrikaners is in die algemeen baie konserwatief en praat dus nie maklik oor seks nie,” het Catriona Boffard, ’n seksuoloog van Johannesburg destyds aan Huisgenoot vertel. 

“Baie mense beskou seks as iets wat hoofsaaklik nuttig is vir voortplanting en nie as iets wat plesier verskaf en wat jy moet verken nie.”

Catriona moedig mense aan om op te hou om aan seks as ’n daad te dink. 

Sy glo paartjies moet eerder fokus op die intimiteit wat dit versterk en die plesier wat dit verskaf.

In haar boek, Seks: Nou Wat Is die Eintlike Storie?, verduidelik dr. Nicki Spies, pastorale terapeut en genderdiskoerskenner van Kaapstad, seks is deur die eeue heen as ’ntaboe onderwerp beskou. 

“Omdat daar so ’n groot stilte rondom seks en seksualiteit is, verstaan mense nie die stilte nie en dink dalk dit is verkeerd om daaroor te praat,” sê sy.

Nicki beklemtoon seksualiteit is nie iets om oor skaam te wees nie; dis ’n normale deel van menswees wat lewensmaats in ’n veilige verhouding moet geniet en verken.

Voordele van seks

Timothy Kieswetter, stigter van die Facebook-blad Gesonde Seks, verduidelik dat seks in ’n liefdevolle verhouding sonder vrees, wantroue en skaamte die volgendeongelooflike voordele inhou:

  • Dit verbeter jou selfbeeld. Seks laat ’n mens begeerlik en sexy voel en sit ’n huppel in jou stap.
  • Seks bevorder intimiteit. Tydens seks word die hormoon oksitosien afgeskei. Dit word ook die bindingshormoon genoemomdat dit ’n hegte band tussen jou en jou seksmaat help vorm.
  • Dit help jou stres verwerk. ’n Gejaagde leefstyl veroorsaak ’n toestand van konstante angs en spanning. Genotvolle seks en orgasmes lei tot die afskeiding van endorfiene, wat die liggaam help ontspan.
  • Dit gee jou immuunstelsel ’n hupstoot. Studies wys seks twee tot drie keer per week verhoog die vlakke van immunoglobulien Ain die bloed. Dit help infeksie voorkom.
  • Dit help jou vetjies afskud. Net 30 minute kan tot 356 kJ verbrand!
  • Dit versterk jou hart. Seks bevorder gesonde bloeddruk, wat help met bloedsomloop, en verminder veral by mans die kans op 'n hartaanval.
  • Dit verminder pyn. Oksitosien bestry ook pyn. ’n Ligte hoofpyn of PMS kan op dié manier verlig word.
  • Dit verminder die kans op prostaatkanker. As mans in hul 20’s gereeld ejakuleer (21 keer per maand of meer), verminder dit die risiko vir prostaatkanker later in hul lewe.
  • Dit versterk die vrou se vaginale spiere. Hierdie spiere word ook ingespan om urine te knyp en dis veral vir ouer vroue voordelig om dié spiere geoefen te hou.
  • Oksitosien verbeter jou nagrus. 


Klink dit bekend?

Die pastorale terapeut dr. Nicki Spies gee ’n paar van die redes vir ’n gebluste sekslewe:

  • Paartjies raak so meegesleur deur alledaagse dinge dat hulle mekaar nie meer as liefdesmaats ken nie.
  • Die hormoonveranderinge wat met die ouderdom gepaardgaan, veroorsaak dat die maats se behoeftes verander. Nicki sê vroue se estrogeenen progesteroonvlakke daal, waarna dit dan in verhouding tot hul testosteroonvlakke baie laer is.
  • “Party vroue kom agter hul libido en energie-vlakke is later ’n bietjie hoër. Vroue in hul 40’s vrees nie meer onbeplande swangerskappe nie, het meer selfvertroue en is gemakliker daarmee om te sê waarvan hulle hou.” Mans kan dit intimiderend vind as hul eie sekslus min is.
  • Mans se testosteroonvlakke daal wanneer hulle ouer word en by die werk is hulle onder meer druk weens senior posisies. “Hierdie soort faktore veroorsaak dat mans nie meer op dieselfde manier kan funksioneer as toe hulle jonger was nie en dikwels begin hulle dan seks vermy.”

Hoe om oor seks te praat
  • Begin jou gesprek met dit wat werk. Sê: “Ek hou daarvan as jy dit of dat doen,” en maak voorstelle deur byvoorbeeld te sê: “Dit sal lekker wees as ons dalk so iets of so iets kan probeer.”
  • Gebruik ek-sinne en nie jy-sinne nie. Sê eerder “ek voel” as “jy doen” omdat laasgenoemde verwytend klink.
  • Dit is belangrik om mekaar gerus te stel en nie toe te laat dat die gesprek in ’n blameersessie ontaard nie. Gesprekke oor seks moet met groot sensitiwiteit en bedagsaamheid hanteer word.
  • Plaas jou in jou maat se skoene en wees empaties, anders kan jou maat maklik aangeval voel en verdedigend optree.
  • Stel selfondersoek in en probeer verstaan waarom jy sekere emosies ervaar of op ’n sekere manier optree.Is dit iets uit die verlede wat nog by jou spook? Wees bedag op jou sowel as jou maat se gevoelens; almal is geregtig ophul gevoelens en dit is onregverdig om enigiemand dit te ontneem.
  • Moet nooit jou verhouding met vorige verhoudings vergelyk nie.
  • Skep ’n veilige ruimte vir die gesprek, êrens waar julle privaat kan wees en nie onderbreek sal word nie. Wanneer julle byvoorbeeld alleen in die motor ry,kan julle privaat gesels, en as julle dalk skaam is, hoef julle mekaar nie in die oë te kyk nie
  • Moenie oor seks praat wanneer julle in die bed is, albei moeg of kwaad is of ’n drankie of twee gedrink het nie.
  • Wees altyd eerlik oor jou gevoelens. Wanneer jy dit doen, gee jy aan jouself en jou maat “toestemming” om daaroor te praat en verbreekjulle die stilte.
  • Doen navorsing oor die veranderings wat met ouderdom vir albei van julle voorlê en praat met mekaar daaroor. Dikwels kan ’n probleemin die slaapkamer ’n aanduiding wees van ’n baie ernstiger mediese kwaal.

Ekstra bronne: Durex Media Roundtable Survey 2014, Men's Health survey 2014

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees