Huishoudelike geweld tydens inperking: Kry híér hulp vir mishandeling

akkreditasie
Die aantal sake van huishoudelike geweld in Suid-Afrika het volgens pres. Cyril Ramaphosa tydens die inperking toegeneem. Talle vroue en kinders leef in vrees in hul eie huise. Ons het raad.

Daar is beslis 'n styging in geweld teen vroue en kinders, sê Caroline Peters van die organisasie 1000 Women Trust in Kaapstad.

“Al die geweld wat ons altyd op die strate gesien het, word nou net in een plek gesentreer. Die huis,” sê sy.

Daar is verskeie vorme van mishandeling, verduidelik dr. Jolanda Dreyer, ’n sielkundige van Pretoria.

“Daar is mense wat emosioneel, seksueel en fisiek mishandel word. Baie van my pasiënte weet nie eens altyd dit is ’n vorm van mishandeling as die man byvoorbeeld weier dat jy vriende of familie sien nie en jou net vir homself wil hê.”

Ken die verskillende soorte mishandeling binne 'n verhouding

  • Emosionele en sielkundige mishandeling. Dit is wanneer iemand jou wil bangmaak, afhanklik maak van hulle, isoleer of beheer. Dit sluit ook gewoonlik dreigemente in soos: “Ek gaan die kinders vat en loop”, “Jy sal nooit sonder my kan leef nie” of “Ek gaan myself doodmaak as jy my los”. Lees meer hier.
  • Fisieke mishandeling. Dit beteken nie jy moet pimpel en pers geslaan word nie, sê Jolanda. Fisieke mishandeling is ook wanneer die persoon jou teen jou kop klap of teen ’n muur of bed vasdruk. Dit begin dalk met ’n klap teen die kop, maar kenners meen dit eskaleer byna altyd na ernstiger geweld. Lees meer hier
  • Seksuele mishandeling. As jou kêrel of man jou dwing om seks te hê, is dit verkragting en teen die wet. Dit is níé sy reg nie, selfs al is julle al jare lank getroud. As jou kêrel sê hy gebruik ’n kondoom, maar dit skelm tydens seks afhaal, is dit ook seksuele mishandeling. Lees meer hier

Lees die tekens

Hou jou oë oop vir dié gevaartekens, sê Jolanda:

  1. Verbale mishandeling: As jy op ’n gereelde basis in trane wil uitbars weens wat hy vir jou sê, moet dit jou die verhouding laat bevraagteken. Dit is nie gesond nie.
  2. Geskiedenis van geweld: As hy al voorheen in vuisgevegte betrokke was, moet jy twee keer dink, want dan is hy geneig om aggressief te wees.
  3. Hy word hardhandig met jou: As hy al ooit aan jou gestamp, geklap of na jou gegryp het of jou met iets gegooi het, moet jy weet die geweld gaan waarskynlik eskaleer.
  4. Beheer: Wil hy jou beheer? Mag jy nie jou eie sosialemediarekeninge hê nie? Wil hy alle boodskappe van jou sien of presies sien wat jy met jou eie geld maak? Dit is manipulasie en reeds ’n vorm van mishandeling.

Iemand wat ek ken word mishandel, wat nou?

Bepaal eerstens of die persoon of enigiemand anders in die huishouding se lewe in gevaar is, sê Jolanda. “As jy enigsins wonder hieroor, bel die polisie of maatskaplike werkers of selfs jou kerk. Daardie persoon móét uit die omgewing verwyder word,” sê sy.

Sy beklemtoon dat dit jou verantwoordelikheid is om in te tree as jy mishandeling vermoed.

“Mishandeling is almal se ‘besigheid’. Moenie anderkant toe kyk nie. As jy hoor jou buurvrou of -kinders word aangerand, bel dadelik die polisie.”

As dit nie lewensgevaarlik is nie, stel Jolanda voor jy staan die slagoffer emosioneel by.

“Jy sal ’n pad saam die slagoffer moet stap. Hulle lei moontlik aan ’n slagoffermentaliteit wat beteken hulle dink hulle het geen mag of keuse nie en dat die mishandeling moontlik hul eie skuld is. Plant dus die saadjie dat hulle wel ’n sê het en kan wegkom,” sê sy.

Maak dit duidelik dat die mishandeling ’n oortreding van hul grense is en dat hulle dit nie hoef of moet aanvaar nie.

Gebruik die kontaknommers onderaan die storie om raad of hulp te kry vir geliefdes of iemand wat mishandel word. 

Ek is ’n slagoffer, wat nou?

As die mishandeling nog nie in fisieke geweld ontaard het nie, moet jy probeer om grense te stel, sê Jolanda.

“As die persoon jou slegsê, stel ’n grens. Sê: ‘As jy ooit weer so met my praat, loop ek’ of ‘As jy ooit weer aan my stamp, sien jy my nie weer nie.’”

Dit gaan egter net werk as hy hom nog nie tot geweld gewend het nie.

“Indien wel, moet jy uitkom. Die kanse is skraal dat hy ooit gaan ophou as hy nie intensiewe hulp soek nie,” sê sy.

Die persoonlikheid van iemand wat ’n ander mishandel, wissel gewoonlik tussen drie rolle verduidelik Jolanda.

“Aan die een kant speel hy die rol van redder. Hy sal dinge sê soos: ‘Jy is my alles’ of ‘Ek sal vir jou koop net wat jy wil hê’. Dan aan die ander kant speel hy die rol van oortreder. Dit is wanneer hy jou emosioneel, seksueel of fisiek mishandel. Die laaste rol is dan die een van slagoffer. Hier sal hy dinge sê soos: ‘Maar dis omdat jy nie lief is vir my nie, dis jou skuld’ of ‘Ek gaan myself doodmaak as jy loop’. Dit is pure manipulasie. Al drie dié rolle is toksies. Moenie dink dat dit net die aksie van mishandeling is wat jou afbreek nie,” sê sy.

Caroline sê as jy jou huis wil verlaat weens die mishandeling, moet jy dié stappe volg: 

  1. Bepaal wanneer die beste tyd is om weg te kom. “Doen dit wanneer hy slaap of maak asof jy iets moet gaan koop of ’n kind siek is. Kom net weg.”
  2. Waarheen jy gaan. “Sit jou en die kinders se belangrike dokumentasie by mekaar sodat jy dit kan saamvat. Jy gaan dalk nie weer terugkom soontoe nie. Maak seker jy weet waarheen jy gaan vlug. Gaan jy ’n organisasie kontak of iemand wat jy ken?” Laat weet meer as een persoon wat jy vertrou sodat jy seker is hulle sal gereed wees om te help. Gebruik die nommers onderaan die storie as jy nie weet waarheen om te gaan nie. 
  3. Kry 'n kodewoord. “Dink aan ’n kodewoord wat jy kan gebruik met hierdie mense sodat hulle weet hulle moet jou kom haal of help, want soms het die oortreders toegang tot hul slagoffers se fone.” Verwyder die gesprek daarna.
  4. Ontsnap en bly veilig. “Wanneer jy ontsnap het, moenie jou adres vir enigeen gee nie."

Noodnommers

Die nommers is deur die Nasionale Skulingbeweging van Suid-Afrika saamgestel, spesifiek vir die tyd van inperking.

Gebruik die nommers vir raad en berading, wanneer jy uit die situasie wil kom en jou lewe in gevaar is.

Beheersentrum teen geslagsgebaseerde geweld

  • Bel 0800 428 428
  • Stuur ’n “Please Call Me” deur *120*7867# te skakel
  • SMS “help” na 31531
  • Bel “Helpme GBV” op Skype.

LifeLine-hulplyn vir huishoudelike geweld

  • Bel 0800 150 150

MOSAIC

Telefoonberading en -verwysings vir mense wat mishandel is

  • Bel 021 761 7585 (08:30-16:00)

Rape Crisis

24 uur-ondersteuning, insluitend hoe om by Thuthuzela-sorgsentrums vir oorlewendes van verkragting uit te kom

  • 021 633 9229

Nasionale Skuilingbeweging van SA

  • Oos-Kaap: Chrislynn Moonieyan/Masimanyane-skuiling, 081 247 6056,
  • Vrystaat: Sarah Lekale, 072 144 7171
  • Gauteng: Rudo Muhasa, 083 684 7737/
  • KwaZulu-Natal: Sabera Timol, 072 446 3337
  • Mpumalanga: Fisani Mahlangu, 079 310 9633
  • Noordwes: Rina van der Berg, 072 348 6526
  • Noord-Kaap: Clair Adriaanse/Rose Bailey, 080 021 2321 of 073 888 8738
  • Wes-Kaap: Bernadine Bachar, 082 903 8739 of Joy Lange, 071 906 3949
  • Algemene inligting: Zubeda Dangor, 083 289 9818

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees