book-icon Uitgawe 31 Desember 2020

Vriendskap op die rotse? Dís wanneer jy moet laat gaan

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Soms is ’n vriendskap ongesond; dan moet jy dit erken en vaarwel sê sodat jy met jou lewe kan aangaan.

SÊ VAARWEL VIR DIÉ VRIENDSKAPPE

Wanneer ’n vriendskap toksies raak, moet jy dit beëindig, sê Cheryl Sol, ’n sielkundige van Durban. “Dit sluit in wanneer een van die partye te afgunstig is, nie genoeg moeite doen nie, wanneer jy misbruik voel en jou vriend oor jou skinder of jou vertroue verbreek.”

Nog redes om die vriendskap te beëindig is wanneer die persoon ander mense in jou lewe wegdryf of jou manipuleer.

’n Vriend wat ’n slegte invloed op jou het wanneer jy ’n positiewe leefstylverandering probeer maak, is ook nie noodwendig ’n aanwins nie – as so iemand jou verhoed om ’n goeie, nuwe gewoonte te vestig, is hulle aktief besig om jou lewensgehalte te benadeel.

“Vertrou jou instink,” sê Cheryl.

“Wees bewus daarvan wanneer dinge nie reg voorkom nie en probeer sin maak daarvan. Let op die aantal kere dat jy optrede vergewe het waarmee jy nie saamstem nie.”

Hou ook jou oë oop vir dié tekens dat ’n vriendskap nie noodwendig meer ’n opbouende bydrae tot jou lewe het nie, sê Lomé Koekemoer, ’n sielkundige van Hartbeespoort:

  • Gesprekke fokus altyd op die ander persoon en wat hulle van jou nodig het. Jy kan dalk kies om steeds aan hierdie verhouding aandag te gee omdat die ander persoon ’n behoefte daaraan het, maar maak ’n duidelike skuif in jou kop wat jou verwagtings van die vriendskap betref. Dit is waarskynlik eerder ’n afhanklike, eensydige verhouding en nie ’n gebalanseerde vriendskap nie.
  • Die vriend is altyd pessimisties en ná kuiers voel jy hopeloos, gedreineer en self pessimisties.
  • Die vriendskapseisoen is nie meer relevant nie. Dit wat julle altyd gemeen gehad het, is nou verby, byvoorbeeld toe jul kinders saam op skool was, julle saam studeer het of op dieselfde dorp gewoon het. Natuurlik kan so ’n vriendskap steeds waarde toevoeg, veral as julle saam gegroei het, maar moenie dit saamsleep as julle niks meer gemeen het nie.
  • Impulsiwiteit en drama volg jou vriend oral, en jy word altyd daarby ingesleep. Hierdie soort vriendskap sal jou energie tap.
  • Leuens, manipulasie of vernietigende gewoontes soos dwelmmisbruik bly deel van hul lewenshouding en leefstyl.
vroue,vriendskap
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

HOE OM ’N VRIENDSKAP TE BEËINDIG

Onthou dat dit normaal is

Daar is vriendskappe wat deur jou lewe sterk staan, maar die meeste dien gewoonlik ’n doel in ’n seisoen van jou lewe; daarom is dit normaal wanneer dit op ’n natuurlike manier tot ’n einde kom, sê Lomé.

“Soms is dit genoeg om net jou verwagting oor ’n vriendskap aan te pas deur anders daaroor te dink,” sê sy. “Jy kan iemand as’t ware in jou kop van jou binnekring na jou kenniskring skuif.

“Gaan dink mooi na en stel ’n lys op van mense wat vir jou belangrik is – mense vir wie jy liefde wys én by wie jy ook liefde ontvang. Ons het almal beperkte tyd; daarom moet jy doelgerigtheid hê oor die verhoudings in jou lewe. Besluit watter jy wil koester en ploeg jou energie daarin.”

Laat dinge hul loop neem . . .

Soms is die mees volwasse manier om ’n vriendskap te beëindig om dit op ’n natuurlike manier te laat stoom verloor sodat julle ál minder sosiale interaksie het, sê dr. Akashni Maharaj, ’n sielkundige van Durban.

Cheryl stem saam en sê party vriendskappe sterf met die jare ’n natuurlike dood en dis nie nodig om daaroor te praat nie.

. . . Of tree doelbewus op wanneer nodig

Wanneer ’n ongesonde vriendskap ’n nadelige impak op jou lewe het, moet jy dit doelbewus beëindig.

“Wees bewus daarvan en verander die dinamika van jul vriendskap met opset. Jy het geen beheer oor die ander persoon se gedrag nie, net jou eie. Begin daar.”

As jy ’n toksiese verhouding wil beëindig, dink na of dit die moeite werd is om dit aan die persoon oor te dra, sê Cheryl.

“As jy besluit om dit te doen, kan dit goed wees om vir die vriend te sê op watter maniere die vriendskap vir jou belangrik was, op watter maniere jy voel jy in die steek gelaat is en hoekom jy nie met die vriendskap kan voortgaan nie.”

En sou jy wel so ’n gesprek hê, moet jy dit doen wanneer jy rustig en nie emosioneel is nie, sê Lomé.

“Vra die vriend om jou vir koffie te ontmoet en maak dit vir jouself vooraf duidelik wat die doel van die gesprek is. Probeer om nie aantygings te maak nie. Fokus op jou eie gevoelens, waar jy jouself in jou lewe bevind en wat vir jou belangrik is, eerder as op alles wat hulle verkeerd gedoen het.” Dit kan help om iets bondigs neer te skryf wat jy vir die persoon wil sê, sê Lomé.

“Hou dit kort en sonder emosie as jy kan. Noem dat jou behoeftes nie meer deur die vriendskap vervul word nie en wens hulle net die beste vir die toekoms toe.”

vroue,vriendskapvroue,vriendskap
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wees volwasse

Moenie probeer om gemeenskaplike vriende aan jou kant te kry of teen die vriend op te stook nie, maan Cheryl. “As jy wel met hulle praat, doen dit bloot om perspektief te kry.”

Dis belangrik om steeds met respek op te tree as jy en ’n eksvriend mekaar later raakloop, sê dr. Stephanie Sieberhagen, ’n sielkundige van Kaapstad. “

“Hanteer dit soos ’n kennis met wie jy ’n formeler of minder intieme verhouding het. Die interaksie behoort steeds goed te voel sonder om te persoonlik te wees en moet beslis nie sarkasme of ander onvolwasse gedrag insluit nie.”

As die verhouding sleg geëindig het, kan dit ongemaklik wees om die persoon weer raak te loop, sê Akashni.

“Dit sal wys wees om situasies en plekke waar jy die persoon dalk kan raakloop eerder te vermy. Dit sal help om angs en gevoelens van stres te verminder.”

Erken die verlies

Dis makliker om ’n nuwe vriendskap te beëindig, sê Stephanie. Maar met ’n ou vriendskap sny jy ’n groot deel van jou ervaringswêreld weg. “So ’n verlies los ’n groot gaping in jou lewe.

Vriendskappe bou ons sin van self en gee ons selfvertroue.” Vriendskapsbande kan diep strek, beaam Cheryl.

Jy moet die verlies van ’n vriendskap nes enige ander verlies aan jouself erken, sê sy. “Herinner jouself hoekom jy nie meer daarmee kan voortgaan nie en laat jouself toe om emosies soos hartseer en woede te ervaar.”

Dan kan jy jou van die verlede begin losmaak en vorentoe kyk. 

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees