book-icon Uitgawe 30 Junie 2022
Deel

Vra vir Irma: Ek sit steeds met my ma se buie en geskree opgeskeep – en sy vat al my geld

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ek was verlede jaar in matriek en daar was nie geld om daarna te studeer nie. Ek het ’n werk gekry en verdien ’n salaris. My ouers het 20 jaar lank dag en nag baklei, en toe eindelik besluit om te skei. Die helfte van ons kinders bly by my pa en die ander helfte by my ma. Ek bly ook by my ma en sy neem my elke dag na en van my werk voor sy na haar eie werk gaan. Die probleem is dat my ma nou verwag ek moet my hele salaris elke maand vir haar gee om met uitgawes te help. Hoe werk dit dan nou? Ek sit steeds met my ma se buie en geskree elke dag opgeskeep. Dit maak my senuwees klaar. My ouers het hul lewe opgemors, maar dit voel vir my dat ek daarvoor gestraf word. Ek kan nie op my eie gaan bly nie, want my salaris sal nie die huur, elektrisiteit, kos en vervoer kan dek nie. Wat kan ek doen? Help my.
Irma
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Antwoord

Dit is nie so ongewoon dat sommige kinders by een ouer bly en sommige by die ander ouer nie. Dit hang af watter skikkings bereik is tussen die twee partye (jou ouers) met hul egskeiding.Om te skei is nie maklik nie, en ouers hou gewoonlik uit so lank as wat hulle kan “ter wille van die kinders”. 

Altans, dit is wat hulle altyd beweer, sonder om te besef watter langtermynskade die kinders aangedoen word in ’n wanfunk­sionele huishouding. Dit is ’n onbetwiste feit dat kinders altyd die grootste slagoffers van ’n mislukte huwelik is, ongeag hul ouderdom.Al voel dit nie vir jou so nie, het jy beslis ’n sê oor jou inkomste. 

Daar is in hierdie stadium vir jou twee opsies:

Die eerste opsie is dat jy en jou ma gaan sit sodat jy ernstig met haar kan praat oor die situasie waarin julle julle bevind. As jy bang is sy oorweldig of intimideer jou, kan ’n beste vriendin of familielid jou bystaan om te help sodat jou ma rustiger luister en jy nie verskree word nie.

Sê vir haar dat jy haar posisie verstaan en ’n deel van jou salaris vir haar kan gee vir losies en brandstof.

’n Tweede opsie is dat jy ’n blyplek nader aan jou werk kry, wat jy met een of meer vriende kan deel met wie jy goed oor die weg kom. Om uitgawes te deel sal dit vir jou meer bekostigbaar maak. 

Verduidelik vir jou ma wat haar huidige optrede aan jou doen. Help haar om te verstaan dat dit vir niemand in die huis goed is nie en dat sy meer bedagsaam teenoor jou sal moet leer optree. 

Dit is nie jou rol om vir jou ma ’n klankbord of terapeut te wees nie. Stel aan haar voor dat sy ’n kenner spreek om haar met haar buie te help. Jy praat net een keer hieroor.

Daarna, wanneer sy so ontplof, stap jy weg sonder om ’n woord te sê. Doen dit elke keer.

  • Skryf gerus vir my oor jou sake van die hart of moeilike persoonlikekwessies. Ek beantwoord hier vrae en briewe van lesers en geegraag raad. Ek sal nie jou naam bekend maak nie en jou identiteit bly vertroulik. Skryf vir my by: Vra vir Irma, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of stuur jou e-pos na vravirirma@gmail.com of SMS Vra vir Irma gevolg deur jou vraag na 36489.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

30 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees