Die afgelope tydjie se kortstondige verligting van gereelde beurtkrag het baie mense laat hoop die dae van daaglikse kragonderbrekings is dalk vir eers verby. Maar helaas was dit waarskynlik net tydelike troos.
Eskom se kwale ken geen einde nie, en ’n wankelende kragnetwerk sal nog lank ons voorland bly. Met beurtkrag wat deesdae eerder die reël as die uitsondering is, ondersoek almal pal bekostigbare oplossings om die krag aan te hou. En hoewel kenners predik sonkrag is die beste, groenste, volhoubaarste oplossing vir huishoudings, bly dit ’n duur uitweg – haas onbekostigbaar vir die meeste mense.
Daarom het ons by kenners gaan aanklop vir ’n eenvoudige, verstaanbare uiteensetting van die drie algemeenste alternatiewe oplossings teen beurtkrag: die gebruik van omkeerders, kragopwekkers en gas.